• Login
  • Search Icon

Augustusmaand in die grondboontjieland: Beplanning vir die komende seisoen

August 2013

LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Soms vlieg die jaar net te vinnig en dan staan planttyd weer voor die deur. Dit is altyd goed om vroegtydig te begin beplan vir die komende groeiseisoen.

Beplanning binne die wisselboustelsel van elke plaas verg dat die produsent akkurate besluite moet neem wat vir sy plaas sal werk, veral wanneer dit in die voorafgaande seisoen nie genoeg gereën het nie.

Alhoewel die afgelope grondboonseisoen vir menige ‘n gekners op die tande veroorsaak het, kon grondboonprodusente tog iets afhaal. Boonop hou die aanplant van grondbone nie net oesvoordele in nie, maar kan ook weer stikstof in die grond in terugplaas vir die opvolggewas en kunsmis benut wat andersins verlore sou gaan.

Daar moet vir die komende seisoen goed nagedink word oor watter lande geplant gaan word, hoe lyk die beskikbare grondvog en wat is die stand van die voedingsvlakke van die grond. Die klimaat is onvoorspelbaar; dus moet faktore wat grondboonproduksie beïnvloed en wel bestuur kan word, noukeurig ondersoek word sodat die beste besluite geneem kan word.

Wat baie belangrik is, is om goeie kwaliteit, gesertifiseerde grondboonsaad aan te koop. Gesertifiseerde saad is onderworpe aan hoë standaarde en verskaf aan die produsent ‘n goeie fondasie waarop hy die res van die seisoen kan bou.

Implemente moet nagegaan word voor die aanvang van die plantseisoen sodat daar dadelik geplant kan word sodra daar genoeg vog in die grond beskikbaar is. Dit is glad nie lekker om met ‘n stukkende planter in die land te sukkel terwyl die beskikbare vog in die grond verdwyn nie. Bestel vroegtydig genoeg gips om aan die gipsvereistes van grondbone te voldoen. Span saam met omliggende produsente wat ook gips wil aankoop sodat vervoerkoste tot ‘n minimum beperk kan word.

Doen vroegtydig grondontledings sodat enige voedingstekorte betyds reggestel kan word. Grondmonsters moet tot op ‘n diepte van 60 cm geneem word en verdeel word in 0 cm - 15 cm, 15 cm - 30 cm en 30 cm - 60 cm submonsters. Waardevolle inligting kan verkry word deur van hierdie praktyk gebruik te maak.

Voorsorg is beter as nasorg. Doen die seisoen se beplanning deeglik en vroegtydig sodat die seisoen se grondboonaanplantings glad kan verloop. Sorg vir die grondboon en hy sorg vir jou.

Publication: August 2013

Section: Input Overview

Search