• Login
  • Search Icon

As die grondboonland skinder

April 2014

LOUREINE SALOMON, LNR-Instituut vir Graangewasse

In die middel van die grondboonland is daar gewoonlik ‘n treffende stilte wat heers. Dit is net die zoem-geluide van insekte wat die rus verstoor. Dit is egter ‘n heel ander storie wanneer ‘n grondboonplant wortel en tak uit die grond gepluk word en daar fyn “geluister” word na dít wat die grondboonplant te vertelle het.

Hierdie “biegstories” kan groot geheime ontsluit en sonder ‘n produsent se medewete ‘n hele verhaal skets. Daar is kere wat die stories soos ‘n feëverhaal klink en ander kere wat die storie lelike draaie maak.

Die feëverhaal volg gewoonlik die trant van korrekte plantdieptes wat verkry is deurdat die saadbed mooi gelyk was. Grondvog was ook voldoende tydens ontkieming, om nie eers te praat van grondtemperature wat hoog genoeg was nie. En om die kroon te plaas op die inleiding van die storie, was die plantdatum boonop nog binne die ideale planttydperk.

Verder vervolg die verhaal met die volgende hoofstuk van goeie plantestand, plantjies wat sterk en gesond vorder, reën wat gunstig uitsak op droëlandaanplantings en onkruidbeheer wat suksesvol was. Só verloop die storie maar sy normale trant deur die grondboongroeiseisoen. Dit is nou as alles wel soos ‘n feëverhaal verloop.

Ons almal weet egter dat die lewe nie altyd maanskyn en rose is nie. So kan dit gebeur dat die reën wegbly en grondvoorbereiding agterweë bly. Sodra die reën geval het, word haastig voorbereidings getref vir aanplantings en dit is juis hier waar die grondboonplant met sy “skinderstories” begin. Menige grondboonplant kan getuig van oorhaastige saadbedvoorbereidings of selfs aanplantings direk agter die ploeg aan. Daar is selfs plantjies wat maar noodgedwonge in ‘n geripte ry geplant is. Dit is tog te verstane as die weer nie wil saamspeel nie.

Die seisoen verloop soms glad nie volgens plan nie en as die plantjies net wil blyk dat hul bleek om die kiewe raak, word die besluit geneem dat botteltjies “kasterolie en purgasie” dalk net die regte raad gaan wees om skop in die plantjies se groei te sit.

Dit is nou net hier waar baie kinders self kan getuig dat sommige medisyne nie noodwendig goed is of selfs nodig is nie. Waar dit plante aangaan is dit mos nie nodig om stikstof te gee vir ‘n plant wat juis sy eie stikstof produseer nie. Net die nodige mikro-elementbespuitings is oorgenoeg om die nodige uitwerking te hê op die grondboonopbrengs. Daar moet onthou word dat onnodige blaargroei die grondboonopbrengs negatief beïnvloed.Die vraag moet wees: Word daar voer geplant of grondbone geproduseer?

Die “ou mense” het altyd ‘n boereraat of twee gehad vir baie kwale en as die voete nie wil grond vat nie, word hul maar net vriendelik verplig om grond te vat...In die geval van grondboonankers word daar nog van tyd tot tyd die praktyk toegepas waar grondboonplante platgerol word sodat die ankers in die grond kan kom.

Produsente moet egter bewus wees daarvan dat hierdie praktyk meer skade aanrig as goed doen, aangesien ankers beskadig kan word of selfs afbreek. Takkies van die plant word afgeskeur en bied by die beseerde areas toegang vir siektepatogene om die plante aan te val.

Onthou dat die laat ankers nooit volwaardige peule gaan vorm nie aangesien dit tot 90 dae neem vir ‘n volwasse peul vanaf vorming tot oesgereedheid.

Spaanse tipe grondbone produseer juis meer as 60% van hul drag gedurende die eerste twee blomfases. Gedurende hierdie fases is die ankers letterlik by die grondoppervlakte.

Nog ‘n skinderstorie wat grondbone graag vertel is dié van grondboonblaarsiektes – veral wanneer die voorkoms van die siektes misgekyk word en die korrekte stappe nie geneem is om die siektes onder beheer te bring nie. Die verhaal het gewoonlik ‘n slegte einde wanneer die simptome van die blaarsiektes reeds op die boonste blare opgemerk word en daar dan eers opgetree word. Die skade aan die opbrengs is ongelukkig teen daardie tydstip reeds gedoen.

In gevalle waar grondbone ná mielies aangeplant word en waar onkruiddoders gebruik is wat nie op grondbone geregistreer is nie, is die grondboonplantjies rats om die skinderstorie te versprei. Sommer vroeg in die seisoen sal daar reeds tekens op die blare voorkom en wys dat daardie grondbone nie baie gelukkig met hul voete in die grond staan nie.

Eienaardig soos die grondbone maar is, kan hulle vele stories vertel, maar dit kan die produsent net baat as die storie wat te vertelle is soos ‘n feëverhaal lees.

Publication: April 2014

Section: Input Overview

Search