• Login
  • Search Icon

Argentynse en plaaslike praktyke in proewe vergelyk
Deel 1: Agtergrond en proefpraktyke

June 2018

DR DANIE BEUKES, onafhanklike grondkundige

Na wederkerige besoeke van afgevaardigdes van Graan SA en Argentinië in 2010 – van Argentinië en Suid-Afrika onderskeidelik – is daar ooreengekom om die Argentynse direkte manier van plant in gewasresidue met nou plantrye en hoë plantdigthede in Suid-Afrika te toets.

Die primêre vereiste vir die Argentynse stelsel was dat Argentynse geenbewerkingplanters gebruik moes word. Laasgenoemde stelsel sou dan in verskillende produksiegebiede met die bestaande plaasstelsels onder verskeie gewasse in terme van sekere gewas- en grondeienskappe vergelyk word, met die oogmerk om die beste Argentynse praktyke vir plaaslike toestande aan te pas.

Vir hierdie doel is ‘n formele ooreenkoms in 2011 tussen Graan SA en die National Institute for Agricultural Technology (INTA) in samewerking met die Argentina Chamber of Implement Manufacturers (CAFMA) en Foundation: Implement Development (CIDITER) aangegaan. 

Daar is ook ooreengekom dat dit demonstrasieproewe moes wees met geen herhalings of ander statistiese vereistes nie. Beginnende by die 2012/2013-seisoen, het die proewe oor drie seisoene heen gestrek en is dit in vier agro-ekologiese gebiede uitgevoer, naamlik:

  • Settlers, in die Springbokvlakte, met ‘n warm, semi-ariede klimaat, op ‘n swaar klei (turf)-grond.
  • Nigel, met ‘n koel, humiede klimaat, op ‘n diep sandleem- tot sandkleileemgrond.
  • Odendaalsrus, Noordwes-Vrystaat, met ‘n warm, semi-ariede klimaat, op ‘n sandgrond.
  • Lichtenburg, met ‘n warm klimaat, op ‘n goed gedreineerde, diep sandkleileemgrond.

Die volle omvang van die Argentynse bewaringslandbou-produksiestelsel behels:

  • Totale bedekking van die grondoppervlak met gewasresidue.
  • ‘n Wisselboustelsel van gewasse.
  • Plantrye moet 52 cm of nouer wees.
  • Plantdigtheid moet bo 38 000 plante/ha wees.
  • Slegs kouters moet gebruik word om minimum grondversteuring te veroorsaak.
  • Plantrigting moet jaarliks met 30° roteer ten einde die totale grondoppervlak te gebruik en ook om verskuiwing van gewasresidue te voorkom.
  • Bespuiting moet teen ‘n 30°-hoek saam met die plantrye gedoen word.

Die produsentemedewerkers, naamlik mnre Willem Groothof (Good Hope, Settlers), Tony da Costa (Manjoh Ranch, Nigel), David Maree (Leeuwkuil, Odendaalsrus) en Arno van Vuuren (Lichtenburg), het ingewillig om proewe uit te voer waar die Argentynse direkte manier van plant in stoppelreste met nou plantrye en hoë plantdigthede met bestaande plaasstelsels onder verskeie gewasse vergelyk word.

Die produksiepraktyke en opbrengste van die eerste drie medewerkers van die 2011/2012- tot 2013/2014-seisoene word in ‘n reeks van twee artikels bespreek. Die Lichtenburgproef is ongelukkig na twee seisoene gestaak en word nie ingesluit nie.

Agronomiese praktyke op proewe
Tabel 1 tot Tabel 3 bevat ‘n opsomming van agronomiese praktyke wat in die proewe in die 2013/2014-seisoen gevolg is. In die tabelle word ‘n duidelike onderskeid getref tussen die praktyke wat met die Argentynse stelsel en bestaande plaasstelsels gevolg is. Foto 1 en Foto 2 toon die plantaksies op Good Hope en Manjoh Ranch met die Apache- en Pierobon-planters, onderskeidelik.


Publication: June 2018

Section: On farm level

Search