• Login
  • Search Icon

Arbeidsverhoudinge in die landbousektor
- is dit 'n sisteem of 'n komplekse verhouding?

May 2012

image

DIRK COETZEE, ARBEIDSVERHOUDINGE SPESIALIS

Is arbeidsverhoudinge ‘n sisteem of verwys dit bloot na die bestuur van ‘n komplekse verhouding? Om sin van hierdie stelling te maak, moet eers bepaal word waarvan arbeidsverhoudinge ‘n sisteem is.

Voordat professor Wiehahn sy bevindinge in 1982 bekend gemaak het rakende die tekortkominge van Wetgewing in die Suid-Afrikaanse Arbeidsmark, is ons ekonomie byna lamgelê deur die groot mynstakings van 1913 en 1922.

Hierdie stakings het onder andere gelei tot die daarstelling van sekere reëls om werkgewer/werknemer-verhoudings te reguleer. Sommige van hierdie reëls is vandag nog van toepassing, ander is verfyn en sommige het hul plek in ons demokratiese samelewing verloor.

Nou hoekom hierdie geskiedenisles? Dit is nodig om te verstaan dat arbeidsverhoudinge wel ‘n sisteem is, ‘n sisteem van komplekse reëls wat die vorm aanneem van wette, hofbeslissings, arbitrasietoekennings, sektorale vasstellings, kollektiewe ooreenkomste en ook bestuursbesluite.

Deurdat ek dit sê, bedoel ek nie dat verhoudinge tussen bestuur en werknemers nie belangrik is nie, maar bloot dat dit buite die sisteem van arbeidswetgewing gesetel is en dat hierdie sisteem daardie komplekse verhouding reguleer.

Die reëls waarna ek verwys is tweeledig. Hulle is prosedureel of substantief van aard. Die prosedurele aard van die reëls dui op die pro ses wat gevolg moet word wanneer daar dispute is, dit sluit reëls rakende verteenwoordiging, dissiplinêre verhore en CCMA-sake in.

Reëls se substantiewe aard reguleer die werk wat die persoon doen en heg sekere regte en verpligtinge aan die pos, ongeag wie die persoon is wat die werk doen. Die wetgewing en prosedures wat vandag die reëls daarstel en die arbeidsverhoudinge-sisteem onderhou, is onder andere die volgende:

  • Wet op Basiese Diensvoorwaardes. Tesame hiermee moet alle sektorale vasstellings gelees word
  • Wet op Arbeidsverhoudinge
  • Wet op Gelyke Indiensneming
  • Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid
  • Maatskappy-prosedures en -beleide

Nou waar pas hierdie sisteem in die landbousektor in? Die maklike antwoord op hierdie vraag is dat dit presies dieselfde toepassing het binne die landbousektor as in enige ander industrie en of onderneming.

Die Departement van Arbeid het egter ongelukkig die afgelope twee jaar streng gefokus op die landbousektor en daar is selfs plase gesluit wat nie voldoen het aan al die vereistes wat deur Arbeidswetgewing daargestel is nie.

Om in een artikel te fokus op al die elemente wat die totale sisteem daarstel, sal nie moontlik wees nie en daarom sal ek fokus op die nuwe sektorale vasstelling wat op 1 Maart 2012 in werking getree het.

Sektorale vasstelling

Die sektorale vasstelling fokus spesifiek op die minimum voorwaardes wat geld vir die landbousektor en bepaal onder andere minimum lone, aftrekkings, werkstye en vereistes vir ‘n geldige kontrak.

Wanneer ons na die sektorale vasstelling kyk, is die eerste gedagte wat by werkgewers in die landboubedryf opkom dat dit die minimum loon bepaal. Dit is dan ook so dat die minimum loon vanaf 1 Maart 2012 vasgestel is op R7,71 per uur wat ‘n loonverhoging op die vorige minimum loon van ongeveer 9,3% teweegbring.

Werkgewers moet daarop let dat hierdie minimum loon van toepassing is op alle werknemers in die landbousektor en sluit dus huisbediendes en sekuriteitswagte op plase in. Die sektorale vasstelling bepaal verder bloot ‘n minimum loon en is nie voorskriftelik oor die verhogings wat aan werknemers wat bo die minimum loon verdien, betaal moet word nie.

Wat hierdie loon verder van belang maak is dat sekere aftrekkings daarvan beperk en of totaal en al verbied word. Hierdie beperkings is van belang aangesien dit produsente se strategieë waarvolgens hul lenings toestaan en voordele toeken sal beïnvloed.

‘n Verduideliking van die minimum loon en die wetlike aftrekkings, is verreweg die kwessie wat die meeste aan my gevra word en 90% van daardie navrae begin met ‘n wanpersepsie oor die bepalings van die sektorale vasstelling.

In die landbousektor is daar tans ‘n wanpersepsie dat daar slegs ‘n totale aftrekking van 10% gemaak mag word van die salarisse van werknemers. Hierdie is egter misleidend. Die volgende is die korrekte posisie. Geen werkgewer in die landbousektor mag ‘n aftrekking van die salaris van ‘n werknemer maak vir die verskaffing van onderskeidelik voedsel, verblyf en lenings wat meer is as 10% van daardie werknemer se salaris vir elk daarvan nie.

Ter illustrasie daarvan kan die volgende voorbeeld gebruik word. As die werknemer R1 504 per maand verdien, mag die werkgewer R150,40 vir voedsel aftrek en R150,40 vir verblyf en R150,40 vir lenings. Dit is dus 30% van die werknemer se totale loon.

Daar moet egter aan die volgende vereistes voldoen word alvorens hierdie aftrekkings gemaak mag word:

  • Die voedsel en verblyf moet op ‘n gereelde basis aan die werknemers verskaf word, as ‘n voorwaarde van indiensneming. Dit sal dus nodig wees vir werkgewers om hierdie voorwaarde in hul indiensnemingskontrakte in te sluit.
  • Daar moet verder ook geen ander aftrekkings van die werknemer se vergoeding gemaak word vir voedsel en of verblyf nie.
  • Wat verder baie belangrik is, is dat in die geval van verblyf geen ander aftrekking gemaak mag word vir elektrisiteit, water of dienste nie.
  • Werkgewers mag verder ook nie meer aftrek vir voedsel en/of verblyf as wat die werklike koste daarvan is nie, selfs al is daardie koste minder as die 10% van die werknemer se vergoeding waarvoor die sektorale vasstelling voorsiening maak.
  • By die aftrekking van die koste vir verblyf is die volgende addisionele vereistes van toepassing alvorens ‘n aftrekking gemaak mag word:
    • Die huis waarin die werknemer woon moet oor ‘n dak wat waterdig is, beskik.
    • Die huis moet oor glasvensters wat kan oopmaak, beskik.
    • As die plaas die nodige infrastruktuur het, moet die huis oor elektrisiteit beskik.
    • Daar moet verder veilige water beskikbaar wees binne die huis of nader as 100 meter van die huis.
    • Daar moet ‘n spoel- of pittoilet beskikbaar wees naby aan die huis.
    • Die huis mag nie kleiner as 30 m² wees nie.
  • Werkgewers moet verder in gedagte hou dat geen aftrekking vir verblyf gemaak mag word van ‘n werknemer wat jonger as 18 jaar oud is nie.
  • Die sektorale vasstelling vir die landbousektor verbied verder die aftrekking van enige bedrag vir weidingsregte van werknemers se vee. As jy dus toelaat dat jou werknemers vee aanhou op die plaas, mag hul jou nie vergoed vir die weiding nie. Hierdie bepaling moet in ag geneem word wanneer voordele en aftrekkings onderhandel word tussen werknemers en werkgewers.

Buiten die minimum loon is daar egter verskeie ander bepalings wat van belang is en spesifiek aangespreek moet word.

Ander belangrike kwessies

Soos in die begin van my artikel genoem, bestaan die sisteem wat arbeidsverhoudinge in die landbousektor reguleer uit baie meer as slegs wetgewing en daarom is daar verskeie kwelpunte wat tans ‘n wesenlike impak het op die landbousektor. Hierdie kwelpunte sal apart aangespreek moet word.

Dirk Coetzee is ‘n arbeidsverhoudinge spesialis wat op Bothaville gesetel is. Indien jy enige advies rakende hierdie aangeleentheid of enige ander arbeidsverhoudinge of menslike hulpbron kwessies benodig, kan jy hom gerus skakel by 082 443 0296.

Publication: May 2012

Section: Input Overview

Search