• Login
  • Search Icon

Almal wou na die beloofde land

June 2011

Beste Grootneef

Met die menigte by NAMPO, was dit amper net so moeilik om uit te kom as wat dit was om in te kom! Kyk, soveel van voete en karre het ek lanklaas gesien. Ek dink dit is ook die eerste keer in die geskiedenis dat die NAMPO-owerstes op die Woensdag teen om en by 14:00 gewaarsku het dat as jy nog nie in die beloofde land is nie, jy liefs moet terugdraai.

Daar was eenvoudig nie plek vir nog ‘n kruiwa nie! Ou Neef, dit wys mos die belangstelling in boerdery is kerngesond. Want kyk, jy kry alles op NAMPO – van ‘n draadkar tot ‘n vuurwa. Van die nuutste stroper tot die nuutste boerepatent. Van ‘n pannekoek tot ‘n skaaptjop. Vra maar net by die vriendelike inligtingskantoor, hulle sal jou in ‘n japtrap beduie na wat jy waar moet soek.

Maar terug by die menigte. Met die Woensdag ook ‘n vakansiedag, het baie meer mense as gewoonlik op daardie dag op NAMPO toegesak. Neef Bennie vertel dat die manne naderhand op die uitkyktoring van die vliegtuie staan en kyk het vir nog ‘n parkeergaatjie tussen al die voertuie. Van Bothaville tot by NAMPO het dit sommige besoekers meer as 2 ure geneem om af te le – so dik was die verkeer. Almal weet nou dat NAMPO Park ook, nes in die stad, ‘n “North Gate” en ‘n “South Gate” aan weerskante van die terrein het!

Nie net per pad is NAMPO toegepak nie, ook uit die lug uit was daar oorvloed. Op ‘n stadium was daar op die Woensdag 121 vliegtuie en 28 helikopters langs die aanloopbaan getel. Laat die middag het dit kompleet soos Jan Smuts van ouds geklink soos almal die lug in op is voor donker. Onthou, die aanloopbaan het nie ligte nie en is eintlik maar net ‘n stuk plat-geskraapte aarde.

Besigheid klink my was ook voor die wind. Die manne het nie net staan en wiele skop nie, maar tjeks is ook uitgeskryf. In die wapensaal het ek ‘n roer op die rak gesien, geprys vir ‘n skamele R59 000, met ‘n netjiese “verkoop” wat aan die loop hang. Wys jou, daar is nog pond in die land!

Ou Neef en as jy net eers by NAMPO se hekke in was, het ‘n blymoedige gees neergedaal. Ek het nie een skewe woord gehoor of ‘n dikbek gesien nie. Nee man, net vrede op aarde. NAMPO is en bly maar ‘n belewenis en dit is beslis die moeite werd om deur te druk, die verkeer te trotseer en deel van ‘n grootse poging te word.

Ek lees anderdag van die penarie by ‘n casino in Wellington, Nieu-Seeland. Die personeel het begin om vlooihalsbande om hul enkels te dra soos die goggas hul byt as hul oor die welige matte stap. Ek sou se, vir billike arbeidspraktyke, behoort elke personeellid ‘n pak vlooihalsbande per maand te ontvang. Die vraag is net, hoe bly so plek oop vir besigheid?

Maar so van vlooibyte gepraat. ‘n Vlooibyt aan landbou se enkels, is dat die Minister van Grondsake dit glo oorweeg om nie net nuwe grond eise toe te laat nie, maar ook die afsnydatum vir grondeise van 1913 te vervroeg. Die feit is, die Minister se amptenary kan nie eers die huidige eise afhandel nie, hoe gemaak as ‘n klomp nuwes sou invloei. En as 1913 nou nie meer as keerpunt dien nie, wat sal die nuwe keerdatum wees? Voor 1913 was daar tog geen diskriminerende wette oor grondbesit nie. Soos Agri SA se manne tereg se, as hierdie datum vervroeg sou word, kan eintlik net die Khoi-mense op grond aanspraak maak, want hulle was tog oral eerste. Ons hoop maar die Minister se planne verdwyn oor tyd soos ‘n vlooibyt.

Gepraat van gou-gou dorp toe gaan. Ek hoor dat BMW ‘n nuwe V8-bakkie toets, wat ‘n topspoed van tot 300 km ‘n uur kan haal. Ek reken die ding kan werk op die Vrystaatse paaie, want met so ‘n bakkie ry jy los bo-oor ‘n slaggat en nie deur hom nie. Moet net nie vir Wagter agterop laat sit nie!

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: June 2011

Section: E-mails

Search