• Login
  • Search Icon

Alles wat jy wou weet oor veld- en bosbrande

August 2012

ANDRIES WIESE, GROEPSBESTUURDER: LANDBOU, MUTUAL & FEDERAL VERSEKERINGSMAATSKAPPY BEPERK

image

Elke produsent of grondeienaar het ‘n verpligting om veldbrande te voorkom en te bestry. Die verpligtinge word uiteengesit in die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande Nr. 101 van 1998 (“die Wet”).

Die doel van hierdie Wet is om veld-, bos- en bergbrande dwarsdeur Suid-Afrika te voorkom en te bestry. Die Wet maak voorsiening vir ‘n verskeidenheid instellings, metodes en praktyke om hierdie doel te bereik. Oortredings van die Wet kan jou ‘n swaar boete of selfs tronkstraf kos.

Hier volg ‘n paar vrae wat produsente en grondeienaars gereeld vra. Antwoorde is met behulp van Mutual & Federal Agri se spesialiste saamgestel.

Vrae oor Brandbeskermingsverenigings

Wat is ‘n Brandbeskermingsvereniging (BBV)?
Hierdie is ‘n vereniging wat deur grondeienaars gevorm kan word met die doel om veldbrande te voorspel, te voorkom, te bestuur en te blus.

Is lidmaatskap van ‘n BBV verpligtend?
Met die uitsondering van munisipaliteite en die staat, is lidmaatskap van die verenigings vrywillig. Munisipaliteite en die staat moet toesien dat hierdie verenigings in hul gebiede volgens die Wet gestig en onderhou word.

Hoe kan jy lid word van ‘n BBV?
Bestudeer gerus die Wet wat die nodige stappe uitspel. Maak ook kontak met jou plaaslike boerevereniging of skakel die Departement van Waterwese en Bosbou in Pretoria vir meer inligting.

Wat is die pligte van ‘n BBV?
‘n BBV moet ‘n veldbrandbestuurstrategie ontwikkel en toepas, strategieë en aksies met aangrensende BBVs koördineer, reëls maak vir lede, die opleiding van lede ten aansien van die bestryding van brande organiseer en brande bestuur en voorkom.

Waar bestaan daar reeds BBVs?
Verskeie bestaan reeds waarvan ‘n lys vanaf die Departement van Waterwese en Bosbou beskikbaar is.

Wie staan in beheer van ‘n BBV?
Elke BBV sal ‘n brandbeskermingsbeampte aanstel, wat die funksie van ‘n hoof uitvoerende beampte moet verrig en ook die volgende moet doen:

  • Die take uitvoer wat deur die BBV aan hom/haar opgedra word.
  • Beheer oorneem van enige brandbestryding in die gebied waarvoor die BBV gevorm is.
  • Die reëls van die vereniging afdwing.
  • Die nakoming van hierdie Wet monitor en daaroor verslag doen aan die vereniging en die minister.
  • Lede oplei ingevolge die Wet.
  • Die lede se grond inspekteer om te verseker dat hulle hul pligte ingevolge die Wet en die reëls van die BBV nakom.

Indien die Brandbeskermingsbeampte nie tydens ‘n veldbrand beskikbaar is nie en daar moet besluite geneem word, wie neem dan leiding?
Die BBV moet ook ‘n hele aantal lede hê. Enige een van hierdie persone kan leiding neem, maar dit sal nooit ‘n produsent op wie se grond ‘n brand ontstaan het, of na wie se grond ‘n brand versprei het, onthef van sy verpligting om verdere verspreiding te verhoed deur alle redelike voorsorgmaatreëls te tref en ook al die beskikbare personeel en toerusting aan te wend nie.

Wat is die voordele daaraan verbonde om aan ‘n BBV te behoort?

  • Geen vermoede van nalatigheid sal geld in die geval van ‘n siviele eis vir skade waar ‘n brand vanaf die lid se grond versprei en skade of verliese aan die eiendom of grond van ‘n ander persoon aangerig het nie. (Sien ook vrae oor aanspreeklikheid)
  • Verbeterde samewerking en kommunikasie in die voorkoming en bestryding van veldbrande deur die BBV, binne die raamwerk van ‘n ooreengekome veldbrandbestuurstrategie.
  • Moontlike kwytskelding van sekere voorsorgmaatreëls, soos die voorbereiding van brandstroke.
  • Die BBV kan regulasies skep om by persoonlike omstandighede aan te pas.

Vrae oor brandstroke

Moet elkeen ‘n brandstrook maak?
As daar op jou grond ‘n brand kan ontstaan, of as ‘n brand van jou grond af kan versprei, moet die eienaar van die grond ‘n brandstrook aan die grense van die grond maak en onderhou.

Die BBVs het egter die reg om volgens hul eie goeddunke, op ‘n erkende of konstitusionele vergadering, te kan besluit of hul brandstroke in hul omgewings wil hê, al dan nie. Die besluit is onderhewig aan ‘n aansoek
deur die BBV aan die minister.

Wat as die eienaar nie teenwoordig is nie en die grond word verhuur?
Die woord “eienaar” beteken ook die huurder of enige ander persoon wat die grond beheer. Die huurder of die persoon in beheer van die grond moet dus die brandstrook maak en onderhou.

Hoe moet die brandstrook lyk?
‘n Brandstrook kan skoongebrand, skoongeskoffel of geploeg word, of die gras en plantegroei kan met ‘n chemiese middel doodgemaak en dan verwyder word.

Hoe groot moet die brandstrook wees?
Die Wet sê dit moet breed genoeg en lank genoeg wees om redelikerwys te voorkom dat ‘n brand bo-oor die strook kan versprei. ‘n Mens moet die plaaslike toestande, soos die weer, klimaat, terrein en plantegroei, in ag neem. Die brandstrook moet ook “redelik vry wees” van brandbare materiaal wat dalk ‘n veldbrand oor die strook kan laat beweeg.

Moet al twee die bure langs hulle gemeenskaplike grens brandstroke maak?
Ja, elke eienaar is verplig om tussen sy grond en enige aangrensende grond ‘n brandstrook te maak.

Moet die brandstrook presies op die grens wees?
Nie noodwendig nie. Eienaars van aangrensende grond kan instem om ‘n gemeenskaplike brandstrook weg van die grens tussen hul eiendomme te maak.

Wat van omgewingsbewaring?
Die Wet sê die eienaar moet sorg dat die brandstrook nie gronderosie veroorsaak nie. As daar in die lyn van die brandstrook plante is wat deur ander wette beskerm word, geniet die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande voorrang bo daardie ander wette en die brandstrook moet ongeag die bepalings van daardie wette gemaak word. Daar is egter ‘n vereiste dat die eienaar “waar moontlik” enige beskermde plante moet oorplant of, waar dit veilig en doenlik is, kan die brandstrook so gemaak word dat dit die beskermde plante of bome vermy.

Moet die buureienaar betrokke wees as ‘n brandstrook gebrand word?
Ja, die Wet het ‘n hele aantal voorskrifte hieroor. As daar ‘n strook aan die grens van die grond gebrand word, moet die bure vooraf ‘n dag afspreek; so nie moet die een buureienaar die ander een minstens 14 dae vooraf skriftelik kennis gee.

Albei eienaars kan dan hul brandstroke op dieselfde tyd brand, maar hulle mag glad nie brand as die toestande op die betrokke tyd nie bevorderlik is vir die brand van brandstroke nie of as daar ‘n brandrisiko bestaan. As een eienaar brand en die ander een nie, moet die ander een teenwoordig wees (persoonlik of verteenwoordig deur ‘n agent) en moet hy sorg dat hy genoeg mense aan sy kant van die grens het om te keer dat die brand versprei.

Wat word bedoel met die instandhouding van brandstroke?
Dit beteken dat die brandstrook effektief moet bly om te keer dat ‘n veldbrand daaroor versprei. As ‘n brandstrook begin toegroei, moet dit weer skoongemaak of skoongebrand word.

Wie besluit of ‘n eienaar ‘n brandstrook moet maak?
Die Wet bepaal dat alle eienaars (insluitend huurders) op wie se grond ‘n veldbrand kan plaasvind of versprei, brandstroke moet maak. Kragtens die Wet kan die minister (bedoelende die Departement van Waterwese en Bosbou) ook in die toekoms gebiede afkondig waar dit verpligtend sal wees om brandstroke te maak.

Is daar enige uitsondering moontlik?
Ja, as daar goeie redes is, kan die minister enige eienaar of groep eienaars vrystel van die plig om brandstroke te maak. Daar kan ook spesiale voorwaardes gestel word vir so ‘n vrystelling. Die BBVs kan ook aansoek doen om vrystelling van die maak van brandstroke in sekere areas van die land.

Lees in die volgende uitgawe meer oor brandbestryding, aanspreeklikheid en brandgevaarstreke.

Publication: August 2012

Section: Input Overview

Search