• Login
  • Search Icon

AALWURMBEHEER op eenjarige gewasse

September 2012

DR SONIA STEENKAMP, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Om aalwurmbeheer doeltreffend en betyds toe te pas, is nie altyd so maklik nie. Ongelukkig is dit ook so dat baie produsente nie werklik besef hoeveel skade die aalwurms aanrig nie omdat hy geen standaard het waarmee hy dit op sy plaas kan vergelyk nie.

Aalwurms kom voorts onder die grond rondom die wortelstelsel van die plant voor en is te klein om met die blote oog sigbaar te wees. Die produsent kan dus nie, soos met byvoorbeeld insekte, sien hoe hulle skade aanrig nie totdat dit veels te laat is. Boonop word skade wat deur aalwurms aangerig word, dikwels verwar met skade wat tipies deur droogte, versuiping, plaagdoders en voedingstekorte geassosieer word. Hierdie faktore asook die feit dat aalwurmdoders dikwels baie duur is, veroorsaak dat veral die droëlandprodusent baie keer ‘n kans vat en nie aalwurmbeheer in enige vorm toepas nie. Wanneer ons onvoorspelbare omgewingstoestande egter juis dié spesifieke seisoen voordelig is vir aalwurmvermeerdering, byt die onvoorbereide produsent die spit af. Dit is dus wys om eerder voorkomend op te tree sonder dat dit noodwendig ‘n plaas se prys hoef te kos.

Daar is ‘n paar alternatiewe waarna ‘n produsent kan kyk om voorkomend op te tree. Die positiewe en negatiewe punte van elke beheermetode moet deeglik teen mekaar opgeweeg word sodat die produsent ‘n ingeligte besluit kan neem oor wat die beste vir sy omstandighede aangewend kan word. Deur meer as een van die beheermetodes met mekaar te kombineer, sal nog meer voordelig vir die produsent wees omdat hy dan sy aalwurmprobleme beter kan bestuur en die risiko kan versprei.

Chemiese beheer (aalwurmdoders)
Voordeel

  • Die meeste produsente leun nog swaar op hierdie opsie. Die rede daarvoor is voor die hand liggend.
  • Aalwurmdoders bly steeds baie effektief en het beslis nog ‘n plek in die bestuur van plantparasitiese aalwurms.
  • Aalwurmdoders is nie spesifiek nie en is effektief teenoor al die plantparasitiese aalwurms.
  • Chemiese beheer kan sonder probleme met wisselbou en weerstandbiedende kultivars gekombineer word.

Nadeel

  • Die heel grootste nadeel van chemiese beheer vir ‘n produsent is dat dit baie duur kan wees, veral vir droëlandprodusente.
  • Die meeste aalwurmdoders is rooibandprodukte, wat beteken dat dit uiters giftig is. As dit nie versigtig en met oordeel gebruik word nie, is die risiko van omgewingsbesoedeling asook vergiftiging van mense en diere altyd aanwesig.
  • As aalwurmdoders nie toegedien word soos wat dit op die etiket voorgeskryf word nie, is die risiko van residu’s in die plantmateriaal altyd teenwoordig omdat die oorgrootte meerderheid van hierdie middels sistemies van aard is en deur die plant opgeneem word.
  • Ons omgewingstoestande is onvoorspelbaar. Die effektiwiteit van aalwurmdoders kan negatief beïnvloed word deur ongunstige omgewingstoestande.
  • Biologiese afbraak waar aalwurmdoders wat in dieselfde chemiese groep val oor en oor op dieselfde land gebruik word, kan ook ‘n rol speel. In so ‘n geval breek die mikrobiese organismes in die grond die middel baie gouer af sodat dit nie so lank effektief bly nie.
  • Chemiese beheer kan slegs met oorleg en met deeglike beplanning met biologiese beheer gekombineer word.

Biologiese beheer
Voordeel

  • Biologiese beheer word toegepas deur produkte te gebruik wat lewende organismes bevat wat nadelig is vir die spesifieke plaag wat die produsent onder beheer wil bring. Dit is dus omgewingsvriendelik en kan nie die omgewing besoedel of vergiftig nie.
  • Biologiese beheer kan saam met wisselbou en weerstandbiedende kultivars ingespan word om ‘n aalwurmpopulasie te beheer.

Nadeel

  • Omdat die produkte lewende organismes bevat, kan daar dalk spesiale voorskrifte rakende die storing van die produk wees om die organismes lewendig te hou.
  • As biologiese beheer toegepas word, kan die effek daarvan dikwels nie binne die eerste twee tot drie jaar en selfs langer gesien word nie. Die organismes het ‘n tydjie nodig om in die grond te vestig en dan vanself voort te plant.
  • As die omgewingstoestande van ‘n spesifieke gebied nie bevorderlik is vir die organismes wat in die biologiese beheer gebruik word nie, sal hulle nie oorleef om die aalwurms effektief te kan beheer nie.
  • Biologiese beheer kan slegs met deeglike beplanning en oorleg met chemiese beheer (dit sluit chemiese beheer van alle plae in) gebruik word omdat die chemiese doder ook die organisme(s) in die biologiese beheer-produk kan doodmaak.

Wisselbou
Voordeel

  • Nie net aalwurms nie, maar ook ander plae kan daardeur beheer word as die regte gewas/kultivar ingespan word.
  • Kan voordelig wees vir die opeenvolgende gewas.
  • Dit is omgewingsvriendelik.
  • Dit kan met chemiese en biologiese beheer asook met weerstandbiedende kultivars gekombineer word.

Nadeel

  • Die produsent het dikwels ‘n beperkte keuse wat wisselbougewasse betref.
  • In terme van aalwurmbeheer is dit nie die gewas wat die knoop deurhaak nie, maar die spesifieke kultivar wat gebruik word. Daar moet dus ‘n kultivar op die mark wees wat weerstand het teen die spesifieke aalwurm wat die produsent onder beheer wil bring.
  • Die produsent moet bewus wees van watter aalwurm hom die meeste in sy land kortwiek voordat hy kan besluit op wisselbou wat spesifiek vir aalwurmbeheer toegepas word.

Weerstandbiedende kultivars (indien beskikbaar)
Voordeel

  • Die aalwurmpopulasie word onder beheer gehou sodat hulle nie ekonomiese skade kan aanrig nie.
  • Opbrengste kan verhoog in aalwurmbesmette lande sonder dat die produsent ekstra onkoste hoef aan te gaan.
  • Dit is omgewingsvriendelik.
  • Dit kan met chemiese en biologiese beheer asook met wisselbou gekombineer word.

Nadeel
Weerstandbiedende kultivars het dikwels net weerstand teen ‘n enkele aalwurmspesie en sal nie effektief wees teen.

Publication: September 2012

Section: Input Overview

Search