• Login
  • Search Icon

‘n Nuwe seisoen vir landbou

April 2011

Jannie de Villiers, Hoof uitvoerende beampte

Die invloed van die voedselprysstygings in 2007/2008 het internasionaal

‘n permanente verandering in beleid teweeg gebring. Politikusse het oral besef dat honger, werklose mense net een van drie opsies in die lewe het: oproer, migreer of sterf. Regerings wat tot ‘n val kom weens die oproer onder die bevolking, het nie net die aandag van politikusse getrek nie, maar ook die starheid van sekere beleidmakers aan die beweeg gekry. Investering in landbou kan nie net meer oor gepraat word nie.

Sommige lande doen dit vinniger as ander, maar oral is daar aan die werk gespring om die saak van voedselsekerheid te hanteer. Indonesie het onlangs ‘n addisionele 800 000 ton se rys (hulle stapelvoedsel) gekoop om in voorraad te berg in afwagting van hoe voedselpryse.

Hulle het die impak van die oproer in die Midde-Ooste geevalueer en ‘n irrasionele (onekonomiese) besluit in belang van hulle eie heil geneem: Ons mense moet genoeg kos hê!

Oor die bekostigbaarheid kan ‘n mens iets in die kort termyn doen, maar beskikbaarheid is aan Moedernatuur gekoppel. Honger, werklose mense kan nie nog ‘n seisoen wag nie. Suid-Afrika se produsente het sedert 1997 met spoed die vrye mark baasgeraak en kan vandag redelik gemaklik aanpas by die markseine. Neem nou maar net die swaai na geelmielies en soja vanjaar. Ons sit egter met ‘n starheid in die verandering van beleidsomgewing.

Graan SA se pogings om produsente bemagtig te kry om by die verandering aan te pas, is prysenswaardig – markinligting, akkurate oesskattings en interpretasies van markseine. Waar ons egter gefaal het, is om die regering fiks te kry om vinnige beleidsaanpassings te maak as internasionale gebeure plaasvind. Dit kan nie in die toekoms aanvaarbaar wees om bloot maar net vir apartheid die skuld vir hoe voedselpryse of die tekort aan kos te gee nie.

Hierdie situasie het ‘n strategiese besluit genoodsaak en die leierskap het die brawe ding gedoen om die Graan SA-kantoor na Pretoria toe te skuif. Daar is nie sin om volpunte vir ons diens aan die produsente te kry, maar ons dop die beinvloeding van die regering nie.

Dit is ‘n geval van die een doen en die ander nie nalaat nie. Ons volgende aanslag is om die regering te kry om ook ’n brawe besluit te neem ten einde voedselsekerheid vir die land en sy mense te ver seker.

Kongres was hieroor duidelik. Kom ons doen ‘n paar strategiese dinge reg en produseer meer! Uitvoerbevordering sluit in om meer te kan uitvoer, maar ook om invoervervangend te raak deur ons plaaslike mark te vergroot. Hierdie voorstelle is al vir ‘n geruime tyd op die sakelyste, maar ontbreek die besluitneming.

Daar is verskeie opsies om die biobrandstofinisiatief af te skop. As die regering dan steeds bekommerd is oor genoegsame stapelvoedsel, waarom sluit hulle dan nie witmielies en koring uit nie?

Hierdie en ander voorstelle vorm deel van ‘n pakket om graanproduksie na ‘n nuwe vlak te neem. Die dringendheid waarmee ons regering na werkskeppende oplossings soek, moet nou met voedselsekerheid getrou word en daar word straks eersdaags ‘n nuweling in die graanbedryf gebore.

Is die komende 2011 voedselkrisis dalk die sneller wat ons na 17 jaar van demokrasie die strydbyle gaan laat begrawe en een visie vir landbou gaan gee? Genoeg bekostigbare kos, volhoubaar geproduseer vir almal!

Publication: April 2011

Section: Editorial

Search