• Login
  • Search Icon

4x4's...Moets en moenies

November 2017

NELUS BANTJES, Safari 4x4

Wanneer jy ‘n 4x4-voertuig koop, of selfs net ‘n 2x4-bakkie of nutsvoertuig (SUV) waarmee jy nie net beoog om te pendel nie, maar ook so bietjie in ons land te gaan rondry of oor die grense heen te gaan verken, is daar ‘n paar dinge wat jy in gedagte moet hou.

Die verskeidenheid van voertuie en toebehore vir dié doel is so groot dat dit ‘n mens eintlik verwar en meer besluiteloos laat as voordat jy daaraan begin dink het. Daarom is daar ‘n paar aspekte wat vooraf oorweeg moet word om die besluit te vergemaklik sou jy ‘n nutsvoertuig wou aanskaf – en dan ook wanneer jy dit wil toerus.

Die eerste aspek is natuurlik wát jy wil of kan bekostig, want dit plaas jou in ‘n bepaalde mark. Die volgende vraag is: Wil jy ‘n bakkie of ‘n SUV (stasiewa)-konsep hê?

Bakkie    
•    Ry gewoonlik bietjie harder;
•     is beperk tot hoogstens vyf passasiers;
•     is verseker ‘n goeie dubbeldoelvoertuig;
•     jy moet al jou bagasie agterop pak en daarom sal jy moet voorsiening maak om dit toe en veilig te hou; 
•     die moontlikheid van addisionele toebehore is legio; en
•    op ‘n enkelkajuit of ekstra kajuit kan jy BTW terugeis indien jy die voertuig in ‘n besigheid van watter aard ook al aankoop.

SUV    
•    Ry gewoonlik heelwat lekkerder en is meer soos ‘n motor;
•    die meeste kan vyf tot sewe passasiers akkommodeer;
•    al jou bagasie kan binne-in die voertuig gebêre word en die kanse van ‘n irriterende geratel van goedere is groot; en
•    jou pakspasie is ook uiters beperk en jy kan geen ekstra brandstof binne so ‘n voertuig vervoer nie. 
        
Indien jy die besluit oor watter tipe voertuig jy verkies geneem het, is daar dan natuurlik die keuse van petrol of diesel.

Hier is my opinie: Dieselvoertuie is verseker ligter op brandstof, maar het beslis hoër onderhoudskoste. Indien jy ‘n voertuig met ‘n motorplan koop en jy gaan dit weer verkoop wanneer die motorplan verby is, is dit geen probleem nie.

Hedendaagse petrolvoertuie is besonder betroubaar en indien jy ‘n voertuig tweedehands koop of buite sy motorplan wil ry, is ‘n petrolmodel ‘n goeie besluit, want die diensonderhoud is laer en waarskynlik is die enjin se lewe ook langer.

Bereken wat die voertuig jou per kilometer aan brandstof en onderhoud gaan kos, asook die aankoopprys. In heelwat gevalle 
is die petrolmodelle oor die lang termyn (1 500 000 km plus) goedkoper.

Toebehore
Toebehore word bepaal deur wat presies jy met jou voertuig wil aanpak. Ek het dit goed gedink om die algemene basiese toerusting te lys en dan daaroor uit te brei – natuurlik in geen spesifieke volgorde nie.

Yskas
‘n Yskas is ‘n gemaklike stuk toerusting en jy kan te alle tye – veral as jy hoër op in Afrika gaan ry en dit warm is – iets kouds nuttig en natuurlik jou kosvoorraad stoor. My motto is dat indien jy nie ‘n behoorlike, welbekende tyddeurstaande kompressoryskas kan bekostig nie, moet nie ‘n goedkoop handelsmerk-yskas koop nie; leen eerder die buurman s’n of werk met ‘n koelboks.

Dubbelbatterystelsel
Só ‘n stelsel beteken ‘n ekstra battery wat gelaai word wanneer jou voertuig se enjin loop. Wanneer die enjin af is, is die battery heeltemal onafhanklik van die voertuig se hoofbattery, daarom kan jy alle bykomende toebehore wat krag verbruik aan die battery koppel sonder dat dit jou hoofbattery beïnvloed. Met enige yskas is dit hoogs aan te beveel.

Omsetter (inverter)
Dit is ‘n toestel wat 12 V omskakel na 220 V. Hierdie toestelle – afhangende van die grootte wat jy benodig – is nogal swaar op 
‘n battery. Indien jy kameras of ‘n skootrekenaar het wat jy moet laai wat nie 12 V kan akkommodeer nie, is dit baie nuttig. ‘n Groot aantal mense wil groot omsetters insit om haardroërs te gebruik. Ja, jy kan, maar die groter toestelle is baie duur en jy kan dit nie son­der ‘n dubbelbattery gebruik nie. Daar is wel 12 V-haardroërs op die mark, maar hulle is ongelukkig nie so effektief soos dié van 220 V nie.

Dakrak
‘n Dakrak is slegs nodig indien jy stoorruimte benodig. Bagasie, tent, gasbottels, ekstra brandstof, ekstra water asook ‘n ekstra spaarwiel, kan gemaklik op ‘n dakrak gestoor word. ‘n Dakrak het egter ‘n impak op jou brandstofverbruik. Dit kan ook ‘n sekere mate van windgeraas veroorsaak. Heelwat mense monteer ‘n dakrak om ‘n daktent te huisves. Indien dit ál is wat jy wil inpas, is ‘n ligte draraam betreklik goedkoper vir dié doel.

Daktente
Wat is die hoofdoel van ‘n daktent? Dit is ‘n tent wat bo-op die dak van ‘n voertuig gemonteer word en wat bitter vinnig en maklik oop- en toegemaak kan word om met min moeite te oornag en die volgende dag weer verder te ry. Aangesien hierdie tipe tente vas aan die voertuig is, kan dit nogal ‘n frustrasie wees as jy langer as ‘n dag wil staan en jy met die voertuig wil ry, want dit sal dan beteken dat jy die tent moet toemaak. 

Daar is natuurlik deesdae elektriese daktente wat met die druk van ‘n knoppie oop- en toemaak – wat hierdie aksie uiters vinnig en maklik maak.

Ekstra brandstoftenk
Nie alle voertuie kan ‘n ekstra ingeboude brandstoftenk akkommo­deer nie. Indien wel, is dit volgens my ‘n uiters gemaklike en uitstekende ekstra gerief – en wel om die volgende redes: Dit is baie gemaklik, dit word uiters suksesvol gedoen en as jy in Afrika wil rondry, kan jy nie genoeg brandstof dra nie. Nie alle voertuie het spasie vir só ‘n tenk nie, maar indien dit wel het, maak seker dat jy by ‘n betroubare instansie, wat vleklose staal drukgetoetste tenks verkoop, aanklop.

Watertenk
Water is seker die grooste oorsaak van ‘n ongestelde maag – wat natuurlik des te meer ongemaklik is as jy op reis is. Dit gaan nie bloot oor water wat nie op standaard is nie, maar oor water waaraan jou maag nie gewoond is nie. Daarom is dit vir my noodsaaklik om die water wat ek daagliks drink, saam te ry. Indien die water binne-in die voertuig is, bly dit lekker koel. Jy kan natuurlik ook gebottelde water koop as jou roete naby winkels verbyloop. Plastiese watertenks van 25 liter tot 60 liter en verskeie vorms is beskikbaar en kan met gemak gemonteer word.

Kappie (canopy)
My persoonlike opinie is dat dit iets is waarsonder jy nie kan klaarkom nie – indien jy wil toer of kamp en jy ‘n bakkie ry. Daar is verskillende tipes kappies op die mark, naamlik die tradisionele veselglas-, vlekvryestaal- en aluminiumkappies. 

Die hedendaagse voertuie het so mooi geword dat dit belangrik is om ‘n mooi bypassende kappie te monteer en daarom het die vlekvryestaal- en aluminiumkappies so populêr geword. Hierdie kappies is ook meer veelsydig en kan gemaklik dakrakke of daktente akkommodeer. Maak egter seker dat dit deure aan weerskante het, wat dit betreklik gemakliker maak.

Bosbreker (bullbar)
Nou hier kom die vraag wat jy jouself moet afvra: “Waarom?” Jou antwoord kan tweeledig wees, naamlik kosmeties of prakties. Indien kosmeties, kies jy die mooiste bosbreker wat by jou smaak en sak pas, kyk of dit lugsakvriendelik is en laat dit installeer. 

Indien prakties, sal die redes wees om jou voertuig te beskerm, om ‘n wen-as (winch) te monteer, of jy wil graag die aanvalshoek van die voertuig verbeter of kolligte (spotlights) monteer. Dan moet jy die bosbreker wat in jou behoeftes voldoen, oorweeg. 

Maak altyd seker dat die bosbreker lugsakgetoets en gesertifiseer is. Indien nie en jy wil só ‘n tipe bosbreker laat monteer, moet jy bewus wees daarvan. Daar is dan ook die kleiner vorm van bosbreker, wat sommer ‘n nudge bar genoem word. ‘n Groot aantal voertuie kom daarmee uit. 

In my oë het dit baie min voordele – behalwe om kolligte te monteer of kosmeties van aard te wees. Gewoonlik is hierdie nudge bar ‘n nadeel in die 4x4-omgewing, want dit verklein die voertuig se aanvalshoek.

Wen-as (winch)
Ek huldig die persepsie dat ‘n wen-as iets is wat jy baie min gebruik, maar indien jy dit die dag nodig het, daar niks is wat sy plek kan inneem nie. ‘n Wen-as sal ek oorweeg as ek alleen in tegniese of gevaarlike terrein gaan rondry en myself sal moet herwin of indien jy ‘n boot of iets dergeliks uit die water sou wou trek of selfs diere wil optrek – op welke manier ook al. 

Ek vind dit gereeld dat mense wen-aste monteer en dit vir jare nie gebruik nie en dan wanneer hulle dit nodig het, werk dit nie. Daarom, as jy ‘n wen-as het, moet jy ten minste elke ses maande die kabel/tou uittrek en weer laat oprol om seker te maak alles werk, asook om die motor te laat warm word om alle moontlike vog wat daarin mag wees, te laat verdamp. Jy kry deesdae wen-aste wat waterdig is.

Kolligte (spotlights)
Met die paaie wat deesdae so swak is en wilde diere wat aan die orde van die dag is, dink ek kolligte is ‘n móét. Ongelukkig is dit, 
met die hedendaagse plastiekbuffers, ‘n uitdaging om kolligte te pas. Jy moet verkieslik een of ander vorm van raam voorop jou voertuig hê waarop dit monteer kan word.

Strookligte (bar lights)
Nou ja, hier is nou vir jou ‘n ding, want volgens die letter van die wet is hierdie ligte verbode. Die wet sê duidelik dat geen lig die middellyn van jou voertuig mag kruis nie. Baie van hierdie ligte word deur groot gerespekteerde maatskappye wettig die land ingebring as hulp (auxiliary)-ligte, wat beteken dit is nie ligte wat saam met die voertuig se hoofligte gebruik word nie, maar op hul eie funksioneer vir ander aanwendings. Daarom, indien jy die risiko wil neem om sulke ligte te monteer, moet dit ‘n aparte skakelaar hê en heeltemal onafhanklik van die hoofligte funksioneer. Ongelukkig mag dit ook ‘n probleem wees en van verkeersbeampte tot verkeers­beampte verskil. Die interpretasie van die wet wat hierop van toepassing is, is op die oomblik ‘n groot punt van bespreking.

Suspensies 
Wat suspensies betref, ervaar ek dat daar heelwat misverstande en miskonsepsies is. 

Vere, hetsy kronkelvere, bladvere of torsiestange, dra die gewig van die voertuig en bepaal die hoogte van die voertuig. Met ander woorde, indien jy jou voertuig se ryhoogte wil aanpas of wil kompenseer vir addisionele permanente vrag, moet jy aan die vere werk. 

Skokbrekers is daar om die vere te beheer en het, met ander woorde, te doen met padhouvermoë en rygerief. Goeie 4x4-skokbrekers is ‘n aanwins vir enige nutsvoertuig en verleen definitief ondersteuning met padhouvermoë en ritgehalte – veral as jy daai lang grondpaaie wil aanpak. 

Jy kan skokbrekers alleenlik vervang, maar indien jy jou ryhoogte verander deur die vere te verander, moet jy ook die skokbrekers vervang met ‘n soort wat by die vere pas. 

‘n Groot aantal mense wil ander vere, veral agter, insit om die dravermoë van die voertuig te verhoog. Dit sal ‘n bydrae lewer as jy permanente gewig moet dra, maar indien jy slegs in enkele gevalle swaar vragte dra, sal die sterker vere agter veroorsaak dat jou voertuig besonder hard en ongemaklik ry wanneer daar nie vrag in is nie. Daarom sal ek dan aanbeveel dat lugsakke geïnstalleer word. 

Lugsakke is sakke wat óf binne die agterste kronkelveer óf tussen die bladveer en die onderstel van die voertuig pas – afhangende van watter tipe suspensie jou voertuig het. Hierdie sakke kan dan op- of afgeblaas word om te help om die vrag te dra.

Bande
Daar is basies drie tipes bande, naamlik teerpad-georiënteerde bande, veelterreinbande (all terrain) en modderterreinbande. Daar is ‘n magdom kampvuurstories oor bande – watter handelsmerke en tipes die beste is.

Die teerpadband is bedoel vir 80% teer en so 20% grondpad, terwyl die veelterreinbande so 50/50%-kombinasie is en die modderterreinbande geskik is vir 80% grond- en modderoppervlakte en 20% teer. Hierdie is nie die alfa en omega nie; dit is slegs ‘n riglyn. Die belangrikste is dat jy self moet besluit watter tipe band jy benodig. ‘n Groot aantal mense verkies die modderterreinband, omdat dit baie mooi en cool lyk, maar besef nie dat die geraasvlak van die bande op teerpad uiters irriterend kan wees nie.

Banddrukmeters
Hedendaagse bande is van uitstekende gehalte. ‘n Mens hoor nie meer oor die algemeen van ‘n band wat gebars het nie. Die voertuie se suspensies is so goed dat jy nie agterkom ‘n band word pap voordat jy dit stukkend gery het nie. 

Die hedendaagse koste van bande maak dit ‘n duur item om te vervang. Voorts is die verdere uitdaging dat jy met die voertuie wat permanente vierwieldryf het (ook genoem all wheel drive) nie net een band kan vervang nie, maar al vier, aangesien die loopvlakke nie meer as ‘n sekere persentasie van mekaar mag verskil nie. 

Op die mark is daar banddrukmeters wat binne elke band geïnstal­leer word wat ten alle tye die banddruk en die temperatuur van elke band lees en dan die bestuurder waarsku indien ‘n band oorverhit of pap word. Die koste van hierdie tipe apparaat is gewoonlik die prys van een band. 

Slotsom
Noodsaaklike produkte op voer­tuie is belangrik om ál die tyd en geld wat in ‘n toer ge­ïnvesteer word, te regverdig en ‘n aangename reiservaring te verseker. Al die ekstras is persoonlike keuses en opinies daaroor verskil van persoon tot persoon.

Vir meer inligting, kontak Nelus Bantjes by 051 430 3831 of sales@safari4x4.co.za
 

Publication: November 2017

Section: Focus on

Search