• Login
  • Search Icon

'n Padkaart deur die slaggate en modderpoele van grondboon-blaarvlekke

December 2012

LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

image

Grondboonproduksie het ‘n padkaart wat getrou nagevolg moet word. Om kortpad te vat, is gewoonlik net moeilikheid soek. Daar is slaggate en modderpoele wat jou rit op daardie pad moeilik kan maak en jou dikwels duur te staan kom. Daarom het die “grondboonvoertuig” onderhoud nodig en ‘n goeie diensplan vergemaklik maar net die taak.

Gereelde inspeksie van jou voertuig is die eerste stap om te verseker dat die nodige instandhouding op die regte tyd gedoen word. Die inspeksieriglyn vir grondbone is eenvoudig: Dit is van kardinale belang om die lande gereeld deur te stap.

Plante moet fisies oopgemaak word sodat die blaredak-kern van die plant ondersoek kan word vir moontlike tekens van blaarvlekke (Foto 1) omdat dit hier is waar die eerste tekens van blaarsiektes voorkom.

Sodra die eerste tekens van blaarvlekke opgemerk word, moet regstellende stappe geneem word om die impak van die blaarsiektes te beperk. As gevolg van die huidige hoë insetkostes, moet die produsent self besluit of hy voorkomend of remediërend wil spuit. Maak seker dat slegs geregistreerde produkte op die grondboonaanplanting gebruik word aangesien GAP- en HACCP-regulasies streng toegepas word. Sorg met die samewerking van die chemiese verteenwoordiger dat die chemiese middels afgewissel word sodat die siektevormende patogene nie weerstand teen die middels opbou nie.

Dit is ook baie belangrik om die “slaggate” te kan uitken en te weet watter klimaatsomstandighede gunstig is vir die ontwikkeling daarvan. Die eerste belangrike “slaggat”, is vroeë blaarvlek wat gewoonlik in die begin van die seisoen voorkom.

Die simptome van vroeë blaarvlek vertoon as bruin letsels met ‘n geel kring aan die bokant van die blaaroppervlakte (Foto 2). Die siekte kom voor onder hoë humiditeitstoestande, temperature tussen 20oC en 24oC en ook wanneer die blaaroppervlakte nie gou genoeg afdroog nie. As die gunstige omstandighede oor ‘n lang periode plaas vind, sal plante geïnfekteer raak.

Laat blaarvlek is die tweede “slaggat”. Hierdie blaarvlek verskyn sodra die maksimum temperature rondom 20oC is en die blaaroppervlaktes langer as twaalf ure vat om af te droog.

Die simptome kom voor aan die onderkant van die blaar en vertoon as ‘n donkerbruin tot swart letsel (Foto 3) wat uitermatige blaarval oor ‘n kort tydperk teweegbring.

Spatselvlek, wat enige tyd van Desember af kan verskyn, is die mees onvoorsiene “modderpoel”. Hierdie tipe blaarvlek floreer in hoë humiditeitstoestande waar die blaaroppervlaktes stadig afdroog by temperature van tussen 15oC en 20oC. In die beginstadium lyk spatselvleksimptome soos ink wat tussenin die vesels van papier in versprei. Later neem die letsel ‘n byna ronde voorkoms aan met geriffelde kante en kan daar ‘n spinnerakagtige skynsel op die letsel voorkom (Foto 4). As kondisies vir die patogeen gunstig is, kan spatselvlek veroorsaak dat die hele grondboonplant binne ‘n kwessie van twee weke ontblaar.

Blaarvlekke is moeilike “slaggate” en “modderpoele” wat vinnig hok geslaan moet word. Die vroegtydige opsporing en implementering van die nodige beheermaatreëls sal verhoed dat die kosbare blaredak van die grondboon verlore gaan en sal verseker dat daar genoegsame voedingstowwe vervaardig kan word vir die vul van die grondboonpeule.

‘n Gesonde plant beteken ‘n goeie opbrengs. Bewaar jou grondboonplant se blare sodat ‘n glimlag op enige “grondboonvoertuig”-eienaar se gesig aan die einde van die seisoen verseker kan word.

Publication: December 2012

Section: Input Overview

Search