• Login
  • Search Icon

'n Oorsig oor die koringoeskwaliteit van die 2013/2014-seisoen

January 2015

JOLANDA NORTJÉ, laboratoriumbestuurder, Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium

Die poging om ‘n goeie kwaliteit koringoes jaar op jaar te verseker is ‘n intensiewe proses. Insette word benodig vanaf alle rolspelers in die koringwaardetoevoegingsketting.

In Suid-Afrika is daar drie hoofkoringteelprogramme, dié van die LNR-Kleingraaninstituut, Pannar en Sensako.

Nuwe kultivars kan slegs vrygestel word vir aanplanting indien dit agronomies goed presteer en terselfdertyd ook voldoen aan die kwaliteitsvereistes van die graanverwerkingsbedryf ten opsigte van vermalings-, reologiese- (deeg) en bakkwaliteite.

Die teling en vrystelling van nuwe koringkultivars met geskikte kwaliteitseienskappe is 'n langtermynprojek wat gepaard gaan met baie hoë insetkoste, daarom word evaluasienorme en kwaliteitstandaarde daargestel om aan die telers riglyne te verskaf wat die toets van die tyd kan deurstaan. Enige veranderinge aan die evaluasienorme en kwaliteitstandaarde word dus deeglik ondersoek en oorweeg om te verseker dat die langtermyndoelwitte van die teelprogramme bereik word.

Faktore soos onder meer reënval, klimaat, omgewingsinteraksies en bewerkingspraktyke het ‘n beduidende effek op koringkwaliteit en maak die gebruik van absolute kwaliteitswaardes vir klassifikasiedoeleindes onprakties. Vir die evalueringsproses word kommersiële kultivars dus as biologiese kwaliteitstandaarde gebruik om as verwysingsraamwerk te dien waarteen nuwe teellyne geëvalueer kan word.

Produsente poog verder om die koringopbrengs en -kwaliteit te verbeter deur kultivars te selekteer wat die beste aangepas is vir kommersiële produksie in ‘n spesifieke gebied. Streng graderingstandaarde is ook daargestel vir voldoende kwaliteitsbeheer.

image

image

Kultivars

Kultivaridentifisering word uitgevoer op elk van die 340 oeskwaliteitmonsters ingesluit in hierdie opname. Die kultivars waarna hieronder verwys word, is gebaseer op 'n berekening van die geweegde gemiddelde persentasie verteenwoordigend van die top vyf kultivars per streek.

In die Wes-Kaap was SST 015, SST 027 en SST 88 die gewildste kultivars vir aanplanting. In die Noordwes Provinsie was dit SST 843, SST 835 en Duzi. SST 835, gevolg deur PAN 3120 en PAN 3471 was gewild in streke 21 tot 24 van die Vrystaat. SST 835 was ook die mees aangeplante kultivar in die res van die Vrystaat, terwyl SST 356, Elands en PAN 3161 ook populêr was.

Produsente in die Vaal- en Oranjerivierbesproeiingsgebiede het SST 835, SST 843 en Duzi verkies. Laasgenoemde drie kultivars, in dieselfde volgorde, was ook die voorkeurkultivars in Mpumalanga, Gauteng, Limpopo en KwaZulu-Natal.

Koringproduksiestreke

Suid-Afrika is verdeel in 36 graanproduksiestreke, met koring wat in ongeveer 30 van hierdie streke geproduseer kan word. Sien die Suid-Afrikaanse Gewasproduksiestreekskaart (Figuur 1). Streke 1 tot 6 is geleë in die winterreënvalstreek van die Wes-Kaap. Die Wes-Kaap het hierdie seisoen 928 000 ton (50%) bygedra tot die totale oes van 1 870 000 ton.

image

Die Vrystaat is verdeel in produksiestreke 21 tot 28 en verteenwoordig besproeiing sowel as droëlandkoringverbouing. Die tonnemaat koring geproduseer, het met 90 000 ton afgeneem, wat ‘n voortsetting is van die vorige twee seisoene se afname.

Die besproeiingsgebiede word saamgestel uit streke 10 en 11 (Noord-Kaap), 12 tot 20 (Noordwes Provinsie), 29 tot 33 (Mpumalanga), 34 (Gauteng), 35 (Limpopo) en 36 (KwaZulu-Natal). Die Noord-Kaap is nou die tweede grootste produseerder van koring, danksy ‘n gemiddelde opbrengs van 7,62 ton/ha. Produksiesyfers is verkry vanaf die Oesskattingskomitee.

Kwaliteitsopsomming

In vergelyking met die 11,4% van die vorige seisoen en die tienjaargemiddeld van 11,9%, was die heelkoringproteïengemiddeld 11,6%. Die persentasie monsters met 'n proteïeninhoud van meer as 12% (bereken op ‘n 12%-vogbasis), het toegeneem van 30,5% tot 39,5%.

Die hektolitermassagemiddeld het afge neem van 81,3 kg/hl in die 2012/2013-sei soen tot 79,5 kg/hl. In totaal het
41 monsters hektolitermassas laer as die minimum vir Graad 1 koring (77 kg/hl) gehad. 56% van hierdie monsters
was afkomstig vanaf die Wes-Kaap en 32% van die Vrystaat.

Hierdie seisoen was die valgetal gemiddeld 337 sekondes laer as die vorige twee seisoene se gemiddeldes van 360 en
387 sekondes onderskeidelik, maar steeds aansienlik hoër as die minimumvereiste. 20 monsters in totaal het valgetalle laer as 220 sekondes gehad en hiervan was 17 laer as 200 sekondes (die minimumwaarde vir Graad B4).

38% van die monsters afkomstig vanuit die Vrystaat is as graad B1 gegradeer, verlede seisoen was hierdie syfer 25%. Die besproeiingsgebiede het 39% B1 monsters gelewer teenoor die 49% van 2012/2013 en die Wes-Kaap 12% (voorheen 9%).

Sien Tabel 1 vir ‘n vergelyking van die geweegde gemiddeldes van geselekteerde kwaliteitseienskappe tussen produksiegebiede en ook oor drie seisoene.

image

Die persentasie ekstraksie behaal op die Bühler MLU 202 laboratoriummeule is 'n aanduiding van die meelopbrengs wat verkry kan word vanaf ‘n gegewe hoeveelheid koring. Die besproeiingskoring lewer oor die algemeen hoër ekstraksies. ‘n Ligte (wit) meelkleur is belangrik aangesien dit grootliks die krummelkleur van brood bepaal. Hoe laer die natkleur- en hoër die droëkleur- (L*) waardes, hoe ligter (witter) die meel.

Vrystaatse koring het gemiddeld die hoogste proteïeninhoud gehad en dus ook die hoogste nat gluteninhoud wat direk met die proteïeninhoud gekorreleer kan word. Wanneer daar na koringkwaliteit verwys word, word daar na die proteïenkwaliteit en dus indirek na die glutenkwaliteit verwys.

Gluten is die proteïenfraksie wat die deeg en bakeienskappe van koringmeel bepaal. Die farinogram-, alveogram-, ekstensiegram- en mixogram-resultate wat ‘n aanduiding gee van die reologiese (deeg) kwaliteit, toon dat die Vrystaatse koring die sterkste kwaliteit gehad het en koring van die Wes-Kaap die swakste van die drie produksiegebiede. Goeie kwaliteit word gekenmerk deur hoër waterabsorpsie, langer mengtye en hoër sterktes. Die gluten-indekswaarde, wat ‘n aanduiding is van die glutensterkte, bevestig bogenoemde kwaliteitsverskille.

Mikotoksiene

40 monsters, geselekteer om die verskillende produksiestreke asook klas en graad te verteenwoordig, is getoets vir die teenwoordigheid van mikotoksienresidue met behulp van ‘n UPLC-MS/ MS-instrument.

Slegs een monster het positief getoets en ook vir net een van die mikotoksiene, naamlik deoksinivalenol (DON). Die vlak gemeet, was 151 μg/kg of 151 dpb (dele per miljard), wat aansienlik laer is as die voorgeskrewe internasionale maksimumvlakke.

Vir meer inligting aangaande die kwaliteitsresultate van die 2013/2014-koringoes, besoek gerus die SAGL-webtuiste by www.sagl.co.za. Vorige seisoene se data sowel as oesverslae in PDF-formaat is ook hier beskikbaar.

Hierdie 16de jaarlikse kwaliteitsopame is moontlik gemaak danksy die volgehoue finansiële steun
van die Wintergraantrust asook die Graan Silo Industrie en meulenaars met die neem en instuur van
verteenwoordigende monsters.

Publication: January 2015

Section: On farm level

Search