• Login
  • Search Icon

'n Kykie na wintergraan- en kanolasaadpryse vir 2016

March 2016

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Keuse van kultivar is krities om produksierisiko tot ‘n minimum te beperk. In die artikel word die jongste saadpryse beskikbaar in die mark met produsente gedeel, sowel as wenke om seker te maak die saad se kapasiteit word ten volle benut. Dit is egter opvallend hoe min nuwe kultivars in totaal die mark betree. Saad as produksie-inset vir wintergraanproduksie is nie noodwendig produsente se duurste inset nie, maar dit kan wel moontlik die belangrikste inset wees. Die koringbedryf in Suid-Afrika is onder druk. Hektare onder koring, veral in die noorde van die land, is besig om te kwyn en veral nuwe hoëopbrengskultivars is nodig om die bedryf weer kompeterend te kry.

Saadpryse

Graan SA het ‘n verskeidenheid van saad- en landboumaatskappye genader om hul wintergraanpryslyste vir die 2016-seisoen in SA Graan/Grain te publiseer (Tabel 1 tot Tabel 8). Koringsaadpryse het sedert verlede jaar met gemiddeld 7% gestyg. Vir die noordelike produksiegebiede het saadpryse met gemiddeld 2% gestyg, terwyl pryse in die Wes-Kaap met 13% toegeneem het. Kanolasaadpryse het gemiddeld met 7% teenoor verlede jaar toegeneem. Daar is kultivars wat tot soveel soos 14% gedaal het, terwyl ander met 28% gestyg het. Garssaadpryse het ook gemiddeld met 7% toegeneem. Die inligting in Tabel 1 tot Tabel 8 neem nie kortings vir vroeë bestellings en grootmaataankope in aanmerking nie. Dit is belangrik om navrae aan die saadmaatskappye self te rig om te verseker dat die beste moontlike prys beding word.

'n Kykie na wintergraan- en kanolasaadpryse vir 2016

'n Kykie na wintergraan- en kanolasaadpryse vir 2016

'n Kykie na wintergraan- en kanolasaadpryse vir 2016

'n Kykie na wintergraan- en kanolasaadpryse vir 2016Kultivarkeuse

Belangrike riglyne wat gevolg behoort te word wanneer kultivarkeuses uitgeoefen word, is die volgende:

  • Plant ‘n pakket van kultivars om risiko’s ten opsigte van agronomiese eienskappe, plaag- en siekteweerstand, valgetal en gradering te versprei.
  • Moenie ‘n staatmaker-kultivar summier met ‘n nuwe en onbekende kultivar vervang nie. Plant die nuwe/onbekende kultivar eers op ‘n kleiner skaal aan en maak seker dat dit aan persoonlike vereistes voldoen.
  • Raadpleeg die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) se handleidings vir wintergraanverbouing en verseker dat die kultivar onafhanklik geëvalueer en volgens eienskappe wat op die plaas be langrik is, presteer. (Sien ook die invoegsel in die tydskrif waarin die resultate van die nasionale kultivarevaluasieprogram deur die LNR-KGI gepubliseer is.)
  • Raadpleeg die betrokke kundiges indien inligting ontbreek of onsekerheid bestaan.
  • Waak daarteen om ‘n ongetoetste kultivar aan te plant.

Saadkwaliteit is krities

Goeie kwaliteit saad verbeter die kans op die suksesvolle vestiging van die gewas en ‘n goeie oes. Koringsaad kan in drie kategorieë volgens kwaliteit verdeel word, naamlik:

Gesertifiseerde saad
 Hoëkwaliteit saad waarvan belangrike eienskappe soos kiemkragtigheid en suiwerheid teen relatief streng norme deur saadmaatskappye gewaarborg word.

Indien produsente probleme met gesertifiseerde saad ondervind, kan ‘n saak aanhangig gemaak word wanneer ‘n eis ter sprake kom. Die tipe saad word deur erkende saad- en landboumaatskappye verskaf.

Kommersiële saad
Dit is saad van aanvaarbare tot goeie kwaliteit wat aan sekere vereistes van die Plantverbeteringswet voldoen. Die kwaliteitsvereistes is egter nie so streng soos vir gesertifiseerde saad nie. In die geval van ‘n saadprobleem sal ‘n produsent hom tot die Registrateur van die Plantverbeteringswet kan wend. Die tipe saad word ook deur erkende
saadmaatskappye en landboubesighede verskaf.

Teruggehoue saad
Teruggehoue saad is graan wat deur produsente uit die vorige oes teruggehou is om as saad in die volgende seisoen te dien. Dit is wettig, solank die graan nie as saad verkoop word nie. Produsente loop produksie- en opbergingsrisiko’s indien teruggehoue saad gebruik word. Enkele probleme wat ondervind word, is byvoorbeeld dat die saad muf indien dit te klam gestoor word, kalanderskade voorkom indien dit nie berook is nie en swak ontkiemingsvermoë voorkom indien dit te warm opgeberg is. ‘n Produsent het geen eis of regsgronde ten opsigte van saadkwaliteit (en algemene prestasie van die kultivar) indien teruggehoue saad geplant word nie. Graan SA beveel dié praktyke nie aan nie. Indien saad opgeberg word, behoort die saad volgens voorskrifte vir opberging skoongemaak, gedroog, skoon en suiwer gehou en koel en droog opgeberg te word. Beroking om kalanders en ander graaninsekte te beheer, moet gedoen word en dit moet veilig teen rotte en muise geberg word.

Ontkiemings- en suiwerheidstoetse moet gedoen word voor aanplanting en die saad moet teen saadgedraagde siektes met geregistreerde plaagdoders behandel word.

Publication: March 2016

Section: On farm level

Search