• Login
  • Search Icon

'n Hartverskeurende reis

February 2016

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Die voortdurende hitte en boodskappe van ons graanprodusente gedurende die Desembervakansie het my in die eerste week van Januarie dié jaar genoodsaak om in die motor te klim en self te gaan kyk wat aangaan.

Hoe sou ek die Minister kon adviseer as ek dit nie eerstehands gesien het en dít wat in die lande aangaan self beleef het nie? Dit was nie maklik nie. Een van my uitstaande persoonlike doelwitte van 2015 was: “Take a trip to break your heart.” Dit is presies wat ek gedoen het: 1 248 km en 258 foto’s later. Ek het tot die besef gekom dat ek maar min verstaan het van wat dit presies beteken toe ek dié woorde in Januarie verlede jaar in my stiltetydjoernaal neergeskryf het.

Ek het dit so stilletjies as moontlik probeer doen, amper soos Nehemia wat in die aand die mure van Jerusalem gaan inspekteer het. Teen die middel van die tweede dag het die media my opgespoor en wou almal weet wat ek sien. Ek het in Sannieshof onder ‘n boom, waar dit 37°C was, my gedagtes en emosies probeer verwoord. Hoe kan ‘n mens al sy emosies in woorde omsit sodat ander dit ten volle kan verstaan? Wie is ek om te probeer om produsente se emosies oor hul plase en hul mense te omskryf en die diere wat nie verstaan waar die gras en water is nie?

Langs die pad gee my “drywer” (jongste seun) vir ‘n man wat in die bloedige son al sowat 20 km gestap het om op die dorp te kom, ‘n botteltjie koue water, terwyl ek die beste foto van mielies wat in die hittegolwe verlep, probeer neem.

In elke dorp waardeur ons ry, sien ek hoe die hoeveelheid groen Jojo-tenks toegeneem het. Die persoon wat nog twyfel dat water ons volgende krisis is, moet maar self mooi gaan kyk. Elektrisiteit kan ons vervang en self genereer, maar water?

Ek hoor van die nuwe rekordtemperature in die Swartland en die Weskus en bedags hou ons die gordyne van die huis toe, sodat die huis “koel” kan bly – nes my ouma Dollie dit altyd Desembervakansies op Brandkop gedoen het.

Hoe nou gemaak? Wat is die boodskap van die versengende hitte en droogte? Wie moet dit hoor en wie moet wat daaromtrent doen? Dit is die gedagtes wat oor en oor in my kop maal.

Elke landbouer en elke landboubesigheid en -organisasie gaan hierdie jaar groot druk beleef. Saam staan en saam oorleef – dit is wat ons sal moet doen.

Wat behels dit vir ons as Graan SA? Ons sal moet seker maak dat ons al die nodige inligting het en dat ons kennis dra van die presiese behoeftes van ons lede sodat ons behoorlik namens hulle kan praat oor wat nodig is om in 2016 te kan oorleef. Ons sal nog daar wil wees as die mense in die toekoms oor die 2016-droogte praat. Dan sal ons vertel hoe ons dit oorleef het en wat ons gedoen het, sodat ander weer moed ingepraat kan word.

Ek het nie enige slim raad om met julle te deel nie, behalwe my geloof in God. Hy gee die goeie jare en ook die swaar jare. Kom ons bly Hom vertrou en op Sy beloftes staan. Hy het klaar die straf vir ons gedra en is nie besig om ons te straf nie, maar is besig om vir ons iets te probeer sê. Kom ons vind saam uit wat dit vir elkeen van ons is en handel dan in gehoorsaamheid.

Publication: February 2016

Section: Features

Search