• Login
  • Search Icon

'n Fokus op die Graan SA Wes-Kaap kantoor

May 2013

PHILIP SMITH, BESTUURDER: BEMARKING, GRAAN SA

Graan SA se Wes-Kaap kantoor in die Paarl is nou ongeveer een jaar oud en is intensief besig om Graan SA se dienste ook in hierdie provinsie te vestig en uit te brei.

Die Wes-Kaap fokusareas en bedrywighede is soos volg:

Bemarking

Heffings
Ons wil graag ons toegewyde produsente in die Wes-Kaap bedank vir hul getroue bydrae van heffings. Ons het ongeveer 600 lede wat hul heffings oorbetaal het in 2012.

Streekskongres
Die Graan SA Winterreënvalstreek se Algemene Jaarvergadering wat op 5 Februarie 2013 gehou is, was ‘n reuse-sukses en Graan SA het ongeveer 130 lede hier ontvang. Hierdie vergadering het ook aan die Wes-Kaapse produsente die geleentheid gebied om hul waardering, bekommernisse asook standpunte met die Graan SA-bestuur te deel.

Koring, Kanola en Gars Werkgroepe
Hierdie Werkgroepe word kwartaalliks gehou met die doel om Wes-Kaapse aangeleenthede te bespreek ten opsigte van volhoubare verbouing van kommoditeite.

Boeredae
Boeredae bied aan produsente die geleentheid om met Graan SA-personeel en bestuurslede te netwerk, verhoudinge te bou en ook om waardevolle plaas- en area-spesifieke inligting onder die aandag van die organisasie te bring. Wes-Kaapse personeel en/of bestuurslede sal Graan SA by die volgende dae verteenwoordig: Swartland skou, Bien Donné, Roodebloem Boeredag, Overberg Agridag, Rietpoel Boeredag, Riversdal Boeredag en Agri Mega Week.

Bemarking van Graan SA in die Wes- en Oos-Kaap
Daar word beoog om in 2013/2014 Graan SA se dienste in die Wes- en Oos-Kaap te bemark deur by die boereverenigingvergaderings uit te kom en ook om die produsente in daardie area te besoek.

Ontwikkelende Landbou

Studiegroepvergaderings
Die stigting en uitbreiding van studiegroepe is een van Graan SA Ontwikkelende Landbou se hoofprioriteite. Die bymekaarkoms van ‘n groep van ongeveer 15 ontwikkelende boere op ‘n maandelikse basis waar bedryf- en seisoenspesifieke onderwerpe bespreek word, is van kardinale belang. Hierdie studiegroepe bied produsente ‘n geleentheid om as persoon, as boer en as denker te ontwikkel. In die Wes-Kaap is daar op hierdie stadium vier studiegroepe, naamlik Overberg SG, SWD SG, Piketberg SG en Moorreesburg SG. Daar sal in die eerste helfte van 2013 nog drie studiegroepe op die been gebring word.

Opleiding
Daar is ‘n groot behoefte in die Wes-Kaap aan opleiding en die oordrag van kennis en vaardighede aan ons ontwikkelende boere. Graan SA beskik oor 26 geakkrediteerde opleidingskursusse wat deur nege voltydse opleiers behartig word. Daar word ongeveer agt opleidingskursusse vir 2013 beplan wat deur die Winterkoring Trust befonds word.

Opleiding word hoofsaaklik aan studiegroep - lede gegee wat deur hul getroue bywoning van studiegroepvergaderings onderneem om die lang pad saam met Graan SA te stap in hul ontwikkeling as volhoubare graanprodusente.

Boeredae
Boeredae bied aan ons ontwikkelende boere die geleentheid en blootstelling om netwerke met insetverskaffers en medeprodusente te bou. Daar word twee boeredae in die Wes-Kaap vir 2013 beoog gedurende Mei en September.

Proewe
Daar word proewe in die Wes-Kaap beoog wat op twee van ons ontwikkelende boere se plase sal plaasvind. Een proef sal in die Overberg en een in die Swartland plaasvind. Die doel met hierdie proewe is om ons ontwikkelende boere eerstehands te wys wat die effekte van regte asook verkeerde bestuurspraktyke en tydsberekening tot gevolg kan hê.

Pula Imvula

Die Pula Imvula tydskrif word maandeliks aan ons ontwikkelende boere in die Wes-Kaap versprei in hul voorkeurtaal. Ons is ook besig om ons databasis van bestaande en toekomstige ontwikkelende boere uit te brei.

Hierdie tydskrif bied relevante seisoenspesifieke inligting aan die ontwikkelende boer. Die Pula Imvula sal ook binnekort met ‘n addisionele tien bladsye vergroot word, wat ons in staat sal stel om nog meer inligting op hierdie wyse aan ons produsente te versprei.

Skoleprogram
Die skoleprogram het vier skolefasiliteerders wat elke jaar ongeveer 11 000 graad 9-leerders in die Wes-Kaap toespreek. Inligting oor waar landbouprodukte vandaan kom, die verskeidenheid van produkte, grond en grondbewaring, die tipe insette wat nodig is om ‘n boerdery te bedryf, ekonomiese aspekte, soos vraag en aanbod asook landbou as loopbaankeuse word aangeraak.

Die oorhoofse doel met hierdie skoleprogram is om graad 9-leerders blootstelling te gee aan die verskeidenheid loopbaankeuses wat die landbousektor bied en om dit in gedagte te hou wanneer hulle hul vakkeuses saamstel.

Graan SA-betrokkenheid in die Wes-Kaap graanbedryf gaan van krag tot krag en alle Wes-Kaapse kommersiële en ontwikkelende boere word uitgenooi om ons personeel in ons Paarl-kantoor te kontak.

image

Publication: May 2013

Section: Other Articles

Search