DIE
GRAAN- EN OLIESADEBEDRYF
VAN SUID-AFRIKA – ‘N REIS DEUR TYD
ႆ
produsente van mening was dat dié liggame nie hulle belange behoorlik behartig
het nie. Die feit was dat al die lede van die twee liggame nie bona fide-mieliepro-
dusente was nie, maar eerder verbruikers van mielies in wie se belang dit sou wees
om die mielieprys op lae vlakke te hou. Die basis waarop die Mielieraad saamgestel
is, het in praktyk daartoe gelei dat ’n kersieboer en later ’n beesboer die Voorsitters
van die Mielieraad was, iets waarmee die ware mielieprodusente nie verlief kon
neem nie.
Die laaste strooi vir die mielieprodusente was die weiering van die Nasionale
Mieliekomitee in 1964 om op versoek van die Vrystaatse en Transvaalse Mielie-
kongresse ’n bedrag uit die oorskot in die Stabilisasiefonds aan produsente uit te
betaal. Die versoek was gemotiveer deur die ernstige droogte wat in die vooraf-
gaande jare in die somerreënvalgebiede geheers het en produsente finansieel
geweldig verswak het.
Die besluit by die Mieliekongresse van SALU van daardie jaar was dat die Mielie-
raad versoek sou word om ’n agterskot van 25 sent/sak mielies aan produsente
te betaal ten einde hulle in staat te stel om in die volgende seisoen weer te kan
produseer. Op daardie stadium was produksielenings nog nie beskikbaar nie en
was die handelsbanke nie geneë om geld vir produksiedoeleindes voor te skiet nie.
Die Mielieraad het egter die versoek geweier. Dit het tot groot ontevredenheid ge-
lei, veral nadat dit uit die Mielieraad se notules geblyk het dat die mielieprodusente
se eie verteenwoordigers daarvoor blameer kon word.
Nadat die mielieprys vir die 1964/1965-seisoen aangekondig is, het ’n groep pro-
dusente van Bothaville, waaronder mnre Fanie Ferreira, Crawford von Abo en Giep
Nel, ’n reeks vergaderings in die destydse Noordwes-Vrystaat en Wes-Transvaal
gehou met die doel om die noodsaaklikheid van ’n betaling uit die Stabilisasiefonds
te beklemtoon en verdere optrede te beplan. Dit het gelei tot die verkiesing van
Mielieprodusentekomitees in die twee gebiede, wat ’n groot steunwerwingsveld-
tog geloods en verskeie samesprekings met die Mielieraad, die Nasionale Mielie-
komitee en SALU gevoer het, dog sonder sukses.
Die mielieprodusente se ontevredenheid oor die wyse waarop hulle verteenwoor-
dig is en die wyse waarop hulle verteenwoordiging in die Mielieraad bepaal is,
het deurentyd bly groei. Hulle het dit duidelik uitgespel dat hulle nie bereid was
om langer te aanvaar dat die mieliebedryf as “algemene boerderybelange” deur ’n
koördinerende sentrale organisasie (SALU se strukture) behartig word nie. Hulle
het aangedring op ’n bedeling waarvolgens die mieliebedryf deur mielieprodu-
sente verteenwoordig word en hulle dus groter seggenskap oor hulle eie belange
kon verkry.
Die streeksbedeling wat die mielieprodusente voorgestel het om daardie doel te
kan bereik, is egter tydens die Vrystaatse Landbou-unie se kongres op 3 Maart 1966
afgestem. As gevolg daarvan het Ferreira uit die kongres gestap, gevolg deur so-
wat 200 ander mielieprodusente.
DAAR WAS VERAL TWEE STERK GROEPE
PRODUSENTE WAT SELFBESKIKKING EN BILLIKE
PRYSE VIR HULLE PRODUKTE GEËIS HET. DIE EEN
GROEP WAS VAN BOTHAVILLE MET MNRE HENNIE
DELPORT, HENNIE DE JAGER, CRAWFORD VON
ABO, GIEP NEL, JANNEMAN VENTER EN LUDICK
SCHLEBUSCH AAN DIE SPITS. DIE ANDER GROEP WAS
VAN DIE DESTYDSE WES-TRANSVAAL (NOORDWES)
MET MNRE CALLIE VAN WYK, ANDRE DU PREEZ EN
JAN COMBRINK AS DIE LEIERS.