DIE
GRAAN- EN OLIESADEBEDRYF
VAN SUID-AFRIKA – ‘N REIS DEUR TYD
ႃႂ
Tydens SALU se Jaarkongres van 1976 is goedkeuring vir die stigting van
SAMSO verleen en is ’n beplanningskomitee aangewys om die oorgang van die
Nasionale Mieliekomitee na SAMSO te bestuur. Die mielieproduserende streek is
in 18 substreke verdeel, gebaseer op gemiddelde produksiesyfers oor die vorige
vyf jaar. Vir elke streek is ’n loodskomitee saamgestel wat die taak opgedra was
om vergaderings te belê met die doel om produsente oor SAMSO in te lig en lede
vir die organisasie te werf.
’n Tussentydse Hoofbestuur, waarop die Voorsitters van die Beplanningskomitee
en die Loodskomitee gedien het, is saamgestel. Op die eerste Hoofbestuursver-
gadering, wat op 2 November 1976 te Pretoria gehou is, is mnr Ben Wilkens as
voorsitter verkies en is besluit dat SAMSO se eerste kongres op 8 en 9 Maart 1977
te Potchefstroom gehou sou word.
SAMSO het beoog om ’n einde aan die uitgerekte verdeeldheid tussen mieliepro-
dusente te maak en dit as sy hooftaak beskou om alle mielieprodusente onder sy
vaandel te vestig. SAMSO se bedryfstrukture het bestaan uit plaaslike-, distriks-
en streeksmieliebedryfstakke, die Uitvoerende Raad, die Bestuurskomitee en die
Jaarkongres. Laasgenoemde is as die hoogste gesag in die struktuur aanvaar.
SAMSO se strukture het voorsiening gemaak vir lidmaatskap van koöperasies
wat mielies hanteer het. Dit was dus nie slegs ’n produsente-organisasie nie. Die
koöperasies was geregtig om afgevaardigdes na die Kongres te stuur, mits die-
sulkes in eie reg lede van SAMSO was.
Die vestiging van SAMSO het duidelik daarop gedui dat SALU besef het dat ’n
behoefte aan ’n spesialiteitsorganisasie vir die mieliebedryf bestaan het. In die uit-
gawe van SAMSO (die organisasie se lyfblad) van Mei 1978 is die volgende berig:
“’n Mens moet SAMPI gelyk gee dat die idee van ’n spesialiteitsorganisasie ’n blink
gedagte was.”
SAMPI se bestuur was van mening dat die stigting van SAMSO deel was van SALU
se strategie om SAMPI te kelder. Die klem van die stryd het gevolglik verskuif na
wie van SAMPI en SAMSO as spesialiteitsorganisasie ondersteun moes word.
SAMPI het hom inderdaad in ’n baie moeilike posisie bevind na SALU se strate-
giese SAMSO-skuif. Dit is vererger deur ’n opdrag van minister Hendrik Schoeman
aan alle Staatsdepartemente en Landboubeheerrade dat “...u sal verseker dat geen
briefwisseling of onderhoude voortaan met sodanige organisasies deur beamptes
van u Departement gevoer sal word nie. Geen publisiteit moet ook aan die akti-
witeite van hierdie soort groepe deur middel van departementele publikasies of
Landbouradio verleen word nie.” SAMPI is by name genoem as een van die orga-
nisasies waarop die opdrag betrekking gehad het.
As teenvoeter het SAMPI se leiers, onder andere, goedkeuring van sy Kongres ver-
kry om ’n grootskaalse poging aan te wend om lede vir SAMPI te werf. Gedurende
Februarie en Maart 1976 is 33 inligtingsvergadering in die mieliegebied gehou, wat
in groot getalle bygewoon is. SAMPI se lede is versoek om uit die boereverenigings
van georganiseerde landbou te bedank en weer SAMPI-takke op die been te bring.
SAMPI het organiseerders aangestel om die ledewerwingsveldtog te dryf, wat op die
plase omgegaan het om nuwe lede te werf. Daarbenewens is verskeie ander metodes
en pogings aangewend om mielieprodusente te oorreed om by SAMPI aan te sluit.
Op 19 Augustus 1976 het SAMPI weer ’n versoek om affiliasie tot SALU gerig, onder
andere op grond van SAMPI se mening dat hy verteenwoordigend van die meerder-
heid mielieprodusente was. Die aansoek is weer eens geweier en oënskynlik was die
kans op samewerking daarmee heen.
Ooreenkoms 1976
Gedurende November 1976, egter, het minister Schoeman ’n vergadering met
SAMPI se Dagbestuur en SAMSO se Bestuurskomitee belê om hulle oor die
moontlikheid van samewerking te pols. Beide organisasies het baie gunstig daarop
gereageer, tot so ’n mate dat SAMPI se Dagbestuur en SAMSO se Hoofbestuur
nege dae later weer vergader het en tydens daardie vergadering ’n ooreenkoms
onderteken het wat as basis vir eenwording moes dien.