Previous Page  7 / 75 Next Page
Information
Show Menu
Previous Page 7 / 75 Next Page
Page Background

HOOFSTUK 1

Die Komitee was van mening dat daar voldoende redes bestaan het om te herbesin

oor maatreëls wat produsente se finansiële posisie kon verbeter ten einde landbou

op ’n gesonde en lewensvatbare basis te herstel. Hulle het ook aanbeveel dat die

strategiese belangrikheid van landbou vir die bereiking van veral die doelwit van

selfvoorsiening, groter prioriteit moes geniet en dat die regering se doelwitte in

hierdie verband duidelik uitgespel moes word.

Die Komitee het, onder andere, tot die gevolgtrekking gekom dat dit nodig was

om die landbouprysbeleid te herformuleer en dat aanpassings in die Land Bank

se beleid rakende die finansiering van produsente en landboukoöperasies die

aangewese aksie was. Hulle het ook uitgewys dat ’n groot behoefte vir koördinasie

tussen landboukoöperasies en owerheidsinstellings ten opsigte van tegniese en

ekonomiese voorligting aan produsente bestaan het.

Die meeste van die Jacobskomitee se aanbevelings is in beginsel deur die Minis-

ters van Landbou en van Finansies aanvaar, in besonder dié wat op die prysbeleid

van toepassing was, met die oog daarop om produsente se winsmarges aan te

pas. Die Komitee se verslag het uiteindelik gelei tot ’n besluit van die Parlement om

produsente se rentekoerse te subsidieer.

Finansiële ondersteuning deur die Staat en

die Burger-kommissie

Die verswakkende winsgewendheid in baie dele van die landbousektor sou wesen-

like afnames in boerdery-inkomste tot gevolg gehad het as dit nie vir staatshulp

aan produsente was nie. Ten spyte van die Staat se aansienlike finansiële bystand

aan produsente, het agterstalligheid op lenings deurlopend toegeneem namate die

finansiële krisis op plase versleg het.

In 1979 het die Staat ’n droogtehulpskema vir die somersaaigebiede ingestel,

soortgelyk aan ’n skema wat kort tevore vir die Swartland ingestel is. Die doel van

die skema was verlening van spesiale hulp aan vee- en graanprodusente wat as

gevolg van droogte finansiële probleme ondervind het. Dit was beperk tot pro-

dusente wat steeds kredietwaardig was en wat kon bewys dat hulle verliese deur

die droogte veroorsaak is.

Ingevolge die skema is uitstel verleen vir terugbetaling van produksiekrediet wat

produsente as gevolg van die droogte nie in staat was om te vereffen nie. Dit het

slegs gegeld vir produksiekrediet wat vir die 1979/1980-produksieseisoen verleen

is en het aan produsente die geleentheid gebied om daardie produksieskuld oor

’n maksimum tydperk van vier jaar terug te betaal. Die rente op die betrokke skuld

is met 3,5% per jaar deur die Staat gesubsidieer. Die skema het ook voorsiening

gemaak vir spesiale krediet aan kredietwaardige produsente vir die aankoop van

veevoer in gebiede wat as noodweidingsgebiede verklaar is.

Die Staat se finansiële bystand oor etlike jare het egter nie daarin geslaag om die

strukturele verswakking in winsgewendheid van boerdery teen te werk nie en die

skuldlas het aanhoudend toegeneem.

’n Wesenlike komponent van die produsente se korttermynskuld, wat hoofsaak-

lik aan koöperasies verskuldig was, het bestaan uit oordragskemas vir produk-

siekrediet wat deur die Staat gewaarborg was. Die staatswaarborg ten opsigte van

produsente se oorlaatskuld is oorspronklik ingestel na die geweldige droogte van

1982/1983. Produsente van daardie tyd vertel dat dit ’n ingewikkelde stelsel was

waarvolgens die mielieproduserende gebiede in streke opgedeel is volgens die

tipe gronde. ’n Produsent kon op grond van die klassifikasie van sy grond aansoek

doen dat ’n bepaalde gedeelte van sy skuld na die volgende jaar oorgedra word,

wat die Staat dan gewaarborg het. Die produksieskuld is uiteindelik deur die pro-

dusente terugbetaal teen die gesubsidieerde rentekoers.

In 1992 is beraam dat die totale voordeel uit die Staat se rentekoerssubsidie aan

produsente vanaf 1983 tot 1992 sowat R1,31 miljard beloop het.

Die staatswaarborg op oorlaatskuld het na 1983 in effek ’n permanente instelling

geword en die waarde daarvan het met verloop van tyd gestyg van R800 miljoen

in 1983 tot R2,4 miljard in 1992. Die droogte van 1991/1992 het ’n baie groot effek

daarop gehad.