Background Image
Previous Page  110 / 112 Next Page
Basic version Information
Show Menu
Previous Page 110 / 112 Next Page
Page Background

108

Beste Grootneef

‘n

Wyle terug stop Buurman voor die Handelshuis

in onse dorpie. Agter sy bakkie in gelid gehaak,

is ‘n karavaan en ‘n boot. Sy mooi, nuwe vrou

vooruitstrewend langs hom, ‘n klippie van Cullinan

skitterend aan die linkerhand.

“En dié trein, Buurman?” vra ons ander belangstellend vanaf die

Handelshuis se stoep. “Nee,” beduie Buurman, “Geld is nou so

goedkoop, jy kan nie bekostig om nie skuld te maak nie!” En so is

hy vort vir drie weke by die see, die boot hinkepink agter die

karavaan oor die sinkplaatpad. Buurman was heel ontstig toe hulle

hom by die eerste tolhek vir ‘n lorrie aanslaan – synde al die aste!

Ou Neef, een van my gunstelingplekke op die plaas is die hoek-

paal tussen my en Buurman. Daar is al ‘n kaal kol weerskante van

die hoekpaal uitgetrap soos wat ons daar staan en gesels. Gewoon-

lik sien ek hom op ‘n afstand op die miershoop sit en suig aan sy

pyp, dan ry ek nader vir ‘n geselsie. Buurman is ‘n ensiklopedie van

wat in die wêreld aan die gebeur is: ‘n Ewige optimis met ‘n broek

vol planne.

Oor die jare het ‘n fontein van geldmaakplanne by die hoekpaal

uitgeborrel. Swart rooibokke – dit help met die wildskamp se BEE-

telling. Angora-hase – vroumense is mal oor sagte serpe. Blombolle

direk uit Amsterdam wat aan skole gesmous kan word. Melk wat

jy laat skif en in ‘n koevertjie laat droog word – vir ‘n nuwe mediese

wonder op Garies. Kontantbeleggings met ‘n opbrengs van 101%

per week, maar dit moet kontant wees. Stranderwe op Beaufort-Wes

– onthou klimaatsverandering gaan die see oor 50 jaar diep die

Karoo in stoot...

Die een blink plan na die ander uit Buurman se hoekpaal, wat elk

met ‘n sagte plof-geluidjie die niet in is. Soos gebruiklik sien ek vir

Buurman op ‘n Donderdagmiddag by die hoekpaal, diep denkend

met ‘n pyp in die mond. Ek kan sommer aan sy naderstaan sien hy

het vandag ‘n nuwe plan. Na die wedersydse vra oor die welsyn van

familie en kennisse, kyk Buurman oor sy skouer of iemand loer en

staan dan nóg nader.

Hy beduie met sy pyp na die weste en vra of ek weet wat ‘n Bitcoin

is. En toe begin hy beduie. Van kontant se waarde wat ontsluit

moet word. En van die nuwe geldeenheid wat nie gevange is aan

lande se wispelturige leiers of gulsige amptenare nie. En dat

Bitcoins met ‘n ritme deur ruimte en tyd loop sonder lastige

valutareëls. Want ‘n Bitcoin is digitaal: ‘n Neseier buite die bereik

van die ontvanger van al jou inkomste. Daar is ook net ‘n beperkte

hoeveelheid Bitcoins uitgereik en met almal in die wêreld wat tou

staan vir Bitcoins, sal die waarde van elke Bitcoin styg en styg tot

bo in die kuberruim. Die goed lê in die internet se wolk waar mot en

roes nie verniel en diewe nie kan inbreek en steel nie. Sela.

Buurman is só opgewerk dat sy pyp van al die pratery geblus het.

Hy druk ‘n vars stopsel in die pyp, suig die vlammetjie behaaglik

in tot die twak se toorkrag loop en beduie verder oor Bitcoins.

Eintlik is die ding nie om Bitcoins te koop nie, jy moet stóórplek vir

die goed uithuur. Dit werk so: Jy koop ‘n ou skeepshouer en verf

hom wit. Die ding moet koel wees. En dan koop jy ‘n komper by

die Bitcoin-mense, wat jy in die skeepshouer sit. Maar daar moet ‘n

fan

wees, want dit moet koel wees in die skeepshouer – die komper

kry gou warm. En dan stoor die Bitcoins-mense data vir die wêreld

se beleggers daar óp jou plaas!

“En niemand weet eers dat die kuberruimte eintlik in ‘n skeepshou-

er agter die stoor staan nie,” seg Buurman en knipoog vertroulik.

Buurman sê die beste van alles is dat die Bitcoin-mense jou dan

maandeliks vir stoorkoste met Bitcoins betaal. So al slapende word

jy ryk! Op Buurman se vraag of ek aandele in sy skeepshouer vol

kompers wil koop, het ek maar net beleefd laat weet dat ek nog

van kontant in my agtersak hou. Met die digitale goed weet ‘n mens

nooit of iemand die verkeerde knoppie druk wat waardes laat op-

of afgaan nie. Ek kan buitendien nie by Sakkie se Wiele-plek met

Bitcoins vir ‘n nuwe sleepwaband betaal nie.

So is ek toe vort, met Buurman by die hoekpaal aan’t planne beraam

oor die aankoop van marmotte uit Peru met al die Bitcoin-winste.

Die mense in Sandton het blykbaar nou so sin in marmotte. Ou Neef,

geld is ‘n snaakse ding. ‘n R5 rol nie sommer tot in jou sak nie. Dit

is meestal maar die sweet van jou aangesig wat bepaal of jy jou

sout werd was. Sny maar die rieme volgens die bok se vel

wat reeds aan die slagpale hang. Soos Salomo gesê het: As iets te

goed klink om waar te wees, dan is dit te goed om waar te wees.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

E-POSSE

aan Groot neef

Om geld te maak

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by

kleinneef@graingrowers.co.za

.

Augustus 2017