Previous Page  66 / 68 Next Page
Information
Show Menu
Previous Page 66 / 68 Next Page
Page Background

Februarie 2019

64

Beste Grootneef

t

oe ons in die aanloop tot die feesdae van ’n Somerkersfees

gesing het, kon niemand voorsien wat ’n dorre Kersdag op

pad was nie.

Ou Neef, op Kersdag was dit asof ’n Aga-stoof oor die

Vrystaat staangemaak is. Die dwarrelwinde het oor die droë

vlaktes gedraai, met net wolke van stof op die horison. Die gras was

soos winterveld. Die droogte het só hard gebyt, dat jy dit tot in

jou murg kon voel.

In die nagte was die veld doodstil. Net die dakplate het gekraak

soos dit deur die nag effe afgekoel het.

Die belofte van ’n plantseisoen het daagliks voor die hittegolf

vervaag. Die trekkers het in stille afwagting by die sakke saad,

wat hoog in die stoor gestapel was, bly staan. Waar sou ons hulp

vandaan kom?

En toe kom die dans van die reën oor die Nuwejaar: Vlaag na vlaag

vol genade oor die vlaktes. Die aand na die eerste reën het die

vleie gedreun met die danklied van die padda- en kriekekoor, wat ’n

halleluja vir die reën gesing het.

Die volgende dag het jy die trekkers oor die bulte

hoor dreun om die kosbare saad betyds in die grond

te kry.

Ou Neef, as die reën een week later gekom het, sou

nie net die treine in die Vrystaat se waaisand vasgeval

het nie. Al loop NASA se karretjies op Mars rond, bly

die mens ’n nietige wese wanneer die droogte se

winde uit die weste waai.

Die lot vir die someroes is nou gewerp, met soveel

hektare as wat voor die winter se eerste byt geplant

kon word. Of dit genoeg vir die Suidland sal wees, sal

net die tyd en die midsomer ons leer.

In my oorle jong dae het my pa ’n perd by Koos

Mononye gekoop om as rydier vir die skaapwagter

te dien. Die perd was egter sy lewe lank ’n karperd

wat op sy beste oorgeslaan het in ’n ongemaklike

galop, maar eintlik meer gehou het van ’n draffie

in derde rat. Die ou perd was skimmelgrys – nie

van Arabiese afkoms nie, maar van ouderdom. En

met ’n nuk om te skop as jy te na aan die stertkant

verbygestap het. Van daar die naam, “Ou Pasop”.

Dié het later sommer kortweg in die volksmond na

“Oupa Sop” verander.

Wanneer Ou Pasop nie lus was vir ’n ruiter nie, het

hy bloot sy gatkant gedraai wanneer hy iemand

met ’n toom sien aankom. Met al die skop in sy lyf, moes Ou Pasop

maar versigtig benader word. Maar as die toom eers oor sy

kop getrek was, het dit klopdisselboom gegaan. Dan was Ou Pasop

pure perd.

Ou Neef, sy een geit was egter om sy pens op te blaas sodra hy

’n buikgord gevoel het. Dit was raadsaam om so ’n entjie uit die

perdekamp die buikgord en die saal weer vas te trek – net so vir

die wis en die onwis. Swaartekrag is ’n blikskottel wanneer die saal

stadig maar seker begin kantel wanneer Ou Pasop na sy karperd-

draffie oorgeskakel het.

Vanoggend lyk die jaar net soos “Ou Pasop” van ouds. Maak maar

seker dat die buikgord vasgetrek is, want met die verkiesing op

hande, deurmekaar weer en grondsake op die koop toe, is ons

vanjaar in vir ’n uithourit.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

E-POSSE

aan Groot neef

’n Somerkersfees

Lesers is welkom om ‘n e-pos na Kleinneef te stuur by

kleinneef@graingrowers.co.za.