Previous Page  114 / 116 Next Page
Information
Show Menu
Previous Page 114 / 116 Next Page
Page Background

112

Beste Grootneef

s

uid-Afrika het sy eie Bermuda-driehoek waar goed spoor-

loos verdwyn. Die gevaarte van ‘n plek is geleë tussen

Brakpan, Boksburg en Benoni. Van lorries tot mense

verdwyn eenvoudig in die niet. Ook empatie en padreëls

waai daar by die venster uit. Ou Neef, die suiker in jou

koffie en die sein uit jou foon is ook nie veilig nie.

Die paaie wat daarheen lei, is vir enige vlakte-mens van die Vrystaat

een groot kraaines. ‘n Verskrikking van meer karre as pad, met

die gevolg dat die verkeer drupsgewys in die spitstyd aankruie.

Behalwe vir die taxi’s en ander waagmoediges wat links van die geel

sperstreep resies jaag om ‘n entjie verder in te druk.

Ou Neef, so is ek en Buurman na Gauteng om sy suster by die

groot vlieghawe in Johannesburg af te haal. Ons is die oggend vroeg

stad toe, met ons ID-boeke, doopseël en testament toegeknoop in

die linker bo-sak.

Was ons darem bly toe ons op die geverfde vliegtuigies op die pad

afkom: Dit wat soos broodkrummels in Hansie en Grietjie se bos.

Maar helaas, net soos in die storie, lok die ry vliegtuigies op die teer

jou tot in die hok en verdeel dan plotseling in verskeie rigtings met

drop off zones

, hotelle en trosse parkeerareas.

Buurman beveel aan dat ons ‘n boom met lekker koelte soek om te

parkeer, maar die knaap agter my ry so op ons, dit lyk of hy agter

óp die Isuzu wil parkeer. Ons mik en meet vir al wat stilhouplek is,

maar die verkeer druk ons dwarsdeur die lughawe tot binne-in ‘n

baan wat sommer net so verdeel na Johannesburg of Pretoria. Nie

een van die twee was ons keuse nie, maar ons druk die bakkie se

neus noorde toe in Pretoria se rigting en sien in die truspieël hoe

die vlieghawe agter ons verdwyn. Dwarsdeur die hele lot sonder

Buurman se suster.

Teen dié tyd sit Buurman meestal met sy oë toe om nie vir Sodom of

Gomorra raak te sien nie. Nou en dan prewel hy iets in hoog Hollands

wat klink soos “hijgend hert der jacht ontkomen”. Dis nou wanneer ‘n

lorrie of ‘n taxi naby ons verbyskuur.

By die eerste afdraai het ons links gewys en regs gedraai, onder deur

‘n brug en terug op ‘n snelweg vlieghawe toe. En weer kry ons die

sylyn met geverfde vliegtuigies om die rigting aan te dui. Buurman

se ferm standpunt was: “Bly nou in jou baan al gaan jy ook staan.”

Ons laat ons deur niemand van koers af boelie nie en haastige jafels

moet maar om ons jaag. Die keer spoeg die verkeer ons uit op ‘n brug

vir baie siek mense. Ons sien eers Terminaal A en toe Terminaal B.

Ons kruie stadig verby en verkyk ons aan al die vreemdes met tasse

en trollies.

Ou Neef, maar wat ‘n mooi gesig begroet ons toe nie! Buurman se

sus met ‘n rooi rok en ‘n beblomde hoed, hande op die heupe en

‘n voet wat op die teer tik, die ene ongeduld oor ons wat haar laat

wag. Ons druk sonder meer die Isuzu se neus op die sypad en

parkeer ‘n halfdosyn Gautengers vas. Buurman druk sy sus dat haar

hoed skuins sit en laai haar saam met hom op die voorste sitplek. Die

suitcase

met ‘n

handle with care

-plakker word staangemaak agterop

die bakkie. Teen dié tyd het ‘n verkeersowerste met ‘n pienk boek

met lang hale aangekom en beduie dat ons die wiele moet laat rol.

Met Buurman en sy sus veilig in die bakkie, vat ons sommer kort-

pad bo-oor die sypad om in ‘n groter baan te kom. Toe waai die

spietkop éérs vir ons. Maar ons is deur ‘n tonnel en onder deur ‘n

brug uit die drukgang, met Buurman wat ons aanmoedig met ‘n

“hou 90 en hou links”.

Die pad terug Vrystaat toe was kort met Buurman se sus wat

vertel het wat sy op haar reis gesien en beleef het. Met die laaste

tolhek agter ons kon ons weer begin asemhaal, want die wye vlaktes

het voor ons gestrek.

Ou Neef, maar toe ons die middag by Buurman se opstal stilhou,

maak ons die ontdekking dat sy sus se tas skoonveld was. Herverdeel

van die bakkie tot in die niet van Gauteng se Bermuda-driehoek

van Brakpan, Boksburg en Benoni.

Ou Neef, daardie middag lees ek in die Volk se blad dat beide

Grace Mugabe en Charlize Theron uit Benoni se geweste is. Ek kon

geen simboliek uit dié toeval raaklees nie. Behalwe dat die plaaslike

driehoek dalk ook vir hul te veel geraak het en hul toe verkas het

– die een na Zimbabwe toe en die ander een tot in Hollywood.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

E-POSSE

aan Groot neef

Gauteng se Bermuda-driehoek

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by

kleinneef@graingrowers.co.za

.

Maart 2018