SA Grain October 2013 - page 11

9
October 2013
– vrydenker wat die graanbedryf
help omvorm het
Hy was ook betrokke by die skep van ‘n prysvormingsmeganisme en
verhandelingsplatform op die JSE. “Graansilo-eienaars moes wesenlike
administratiewe en intellektuele bydraes lewer en hulle is integraal tot die
vestiging van integriteit in en die aanvaarding van ons bemarkingstelsel.”
Die sukses wat hy in sy loopbaan bereik het, is volgens hom grootliks te
danke aan sy verhouding met ander rolspelers in die graanbedryf.
Hy reken dat omdat daar voor deregulering voordele uit selfsug be-
werkstellig is, het hierdie verandering ook gesorg dat daar meer agting
in die breër bedryf vir ander groeperinge ontstaan het. Die rolspelers
(produsente, landbou-ondernemings, finansiële instellings en die
Land Bank, die meulenaars, bakkers en ander gebruikers van graan,
die verbruikers en die owerheid) moes nou met groter respek en
deursigtigheid optree.
Dit het natuurlik gelei tot versterkte prominensie van groeperinge soos
Graan SA, wat ‘n al groter rol begin speel het. Deur visionêre insig,
groeiende goedgesindheid en verbeterde medewerking in die breër
graanketting, is die Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens (SAGIS) en die
Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) gevestig en het rolspelers
gefokus op navorsing om produksie-volhoubaarheid en kapasiteit in die
bedryf te vestig. Ook hier het dr Lubbe ‘n beduidende bydrae gelewer.
Dit was dan in hierdie tyd dat hy aan die stuur van die Lubbe-komitee
gestaan het, wat Uniegraan van ‘n sentrale koöperasie na ‘n maatskappy
moes omskep, wat steeds in die nuwe vryemarkbestel kon funksioneer
en in belang van die graansilo-eienaars kon optree. Oor die jare heen
het dit vir hom duidelik geword dat kundigheid op tegniese vlak uiters
belangrik is. Vaardige mense is nodig vir die meer as 500 silo- en meule-
komplekse – plekke waar graan in die land hanteer en verwerk word.
Hy verduidelik: “Met die ontbinding van die rade het AgriSETA en
die graanbedryf gevorder om die kapasiteit en standaarde asook die
inhoudelike van leermateriaal te vestig. Ek het vertroue in hierdie proses
en glo dat ons daardeur die aansien en vermoëns van graanbedryfper-
soneel kan verbeter en sodoende ‘n nasionale register van vaardighede
kan vestig.”
Vir die produsent het die vooruitgang van biotegnologie ook ‘n om-
wenteling meegebring en hy glo dit is vir die toekoms van die graanbe-
dryf van onskatbare waarde. Hy sien dat die onvermoë van regerings in
Suider-Afrika om volhoubare graanproduksie te verseker, wel uitdagings
skep, maar ook groot uitvoergeleenthede bewerkstellig vir Suid-Afrika,
wat homself bewys het as ‘n land wat die vermoë het om surplus grane
te produseer.
Ongelukkig het deregulering ook een van die minder aangename
herinnerings in sy loopbaan veroorsaak met die herorganisering van die
landbou-omgewing. Hy noem dat ondersoek gedoen is na die omvang
van personeelkorpse en deelnames in sekere produksiegebiede, wat tot
gevolg gehad het dat mense afgelê en bedryfspunte gesluit is. Hierdie
gebeure het traumatiese gevolge vir groot gedeeltes van die platteland
veroorsaak, veral op sosio-ekonomiese vlak.
Dr Lubbe noem dat een van die belangrikste lewenslesse wat hy in die
bedryf geleer het, is dat hoewel leierskap en “voorloop” belangrik is, die
uitsette of prestasie deur spanwerk bewerkstelligword. “Dit ismy filosofie:
Dit is die ouens in die loopgrawe wat jou sukses bewerkstellig. Iemand
moet baas wees, maar jy kry niks reg as die troepe jou nie ondersteun
nie.” Hy voeg by dat hy ook besef het dat jy nooit jou professionele rol kan
losmaak van die ander dimensies in jou lewe nie, dat mislukkings nie die
einde van die wêreld beteken nie en dat dit noodsaaklik is om met deernis
en empatie op te tree teenoor mense wat jou pad kruis.
Van die mense wat sy pad gekruis het en ‘n blywende indruk gelaat het,
is groot name in die landbou, leiers in die graanbedryf by wie hy baie
geleer het. “Dit is moeilik om mense uit te sonder, maar ek moet mense
soos Johan Dique en Francois Strydom uitsonder vir hul unieke leierskap.
Ek het ook groot respek vir Jannie de Villiers,” gee hy tog erkenning aan
mense saam met wie hy ‘n pad gestap het.
Dr Lubbe voel positief oor die toekoms van die graanbedryf in Suid-
Afrika en noem dat Graan SA spesiale erkenning verdien vir die rol wat
hulle speel om landbouers bymekaar te hou; om tot gelyke voordeel vir
alle belanghebbendes met die regering te onderhandel en leierskap in
bepaalde krisisse te openbaar.
“My gevoel is dat die beleidmakers aan die bedryf se kant, waar hulle
al hoe meer besig is met politiese, strategiese en grondwetlike aspekte,
‘n toenemende rol het om deur uitmuntende leierskap die energie en
krag wat in hul onderskeie assosiasies opgesluit is, vorentoe toe te
vat. Daarmee saam bevind die professionele bestuur van landbou-
ondernemings, -assosiasies en -korporasies hul so toenemend in ‘n
onvriendelike owerheidsomgewing, met die druk van internasionalise-
ring en grondwetlike regstellings, dat hulle ook ‘n groot uitdaging het
om vorentoe toe te gaan, maar die talent asook die leierskap is daar,”
staaf hy sy positiwiteit oor die toekoms van die graanbedryf. Dit is ook
vir hom belangrik dat aspekte soos voedselsekerheid, grondkwessies en
die owerheid se rol asook plaasveiligheid, hoog op die agendas van die
landbougesprek moet bly.
Hierdie plaaskind van Makwassie se wêreld, is ‘n Wes-Transvaler in
murg-en-been, wat sy hoërskoolloopbaan op Wolmaransstad deurloop
het. Ná sy militêre opleiding het hy sy studies aan die Noordwes-
Universiteit voltooi en noem dat hy oor ‘n tydperk van 25 jaar vier grade
in graanverwante rigtings behaal het: BCom, MBA, MCom asook ‘n PhD.
Sy loopbaan het by Bremer meulens op Hennenman afgeskop, by
Suidwes op Leeudoringstad gedraai en stilgestaan by Senwes, waar hy
vir 25 jaar werksaam was. Tot en met sy aftrede was hy die besturende
direkteur van die Graan Silo Industrie (GSI), die pos wat nou deur
Mariana Purnell beklee word. Dr Lubbe het tot met sy uittrede, as trustee
by die Koringtrust gedien en is steeds die voorsitter van die SAGL.
Dr Lubbe gaan egter nie van die toneel af verdwyn nie en noem dat hy
aangestel is as lid van die subkomitee van die Nasionale Bemarkingsraad.
Hy voeg gou by, “Ek het egter my rol in die bedryf gespeel en gaan nie
dinge uit die graf probeer hanteer nie.”
Hy en sy vrou, Elmarie, gaan in Klerksdorp aanbly omnaby hulle kinders en
twee kleindogters te kan wees. Saam gaan hulle Afrikaanse kultuurfeeste
platloop omdat hy buiten vir die graanbedryf, ook ‘n passie vir sy taal het.
Hy sal graag onthou wil word as iemand met goeie menseverhoudings,
wat baie hoogtepunte in die graanbedryf deurloop het en deel was van
die suksesvolle omskakeling van ‘n gereguleerde na ‘n gedereguleerde
omgewing.
Dié wat bevoorreg genoeg was om hom as kollega te ken, sal saamstem
met Jan F. Cilliers se woorde, “Stil broers, daar gaan ‘n man verby.”
1...,2,3,4,5,6,7,8,9,10 12,13,14,15,16,17,18,19,20,21,...116
Powered by FlippingBook