Background Image
Previous Page  99 / 108 Next Page
Basic version Information
Show Menu
Previous Page 99 / 108 Next Page
Page Background

Jy sê jy wil boer my seun…

Dan moet jy die insig hê van ‘n profeet

om van probleme wat kom af te weet.

Voorgevoel soos ‘n reënvoël wat met sy kreet,

vertel van die reën voor jou FM dit weet.

Slim moet jy wees soos ‘n genie,

weet wie om te glo en wie nie.

Na agente te luister en te leer as hy reg is,

of te ignoreer as dit maar net verkoopstegniek is, nie.

Reg te besluit en uit te voer, dit my seun maak ‘n goeie boer.

Jy sê jy wil boer my seun…

Dan moet jy goeie arbeid goed kan hou,

hy vir jou en jy vir hom vertrou.

Hy moet gelukkig wees om hard te werk,

sy maag moet vol wees, sy spiere sterk

en al hoort hy ook tot ‘n ander ras

moet jy weet hy sal jou goed oppas.

Jou mense moet op jou steun as jy wil boer my seun.

Jy sê jy wil boer my seun…

Dan moet jy alles doen en alles kan,

mielies plant en drade span.

Vroegdag al met ‘n kennersoor

die foute in jou trekker hoor.

Jou ploeë in kan stel

en skape foutloos tel.

Kan stap oor berg en daal

en beeste uit die modder haal

Jy moet kan begryp en leer

kan stel en kalibreer.

My seun, ‘n boer moet alles kan en wil,

moet handig wees en slim.

Jy sê jy wil boer my seun…

Dan moet jy soos ‘n wonderwerk,

foutloos met geld kan werk.

Om te geniet of te konsolideer,

goeddeurdag te beplan vir meer

sodat jy nie môre agterbly

omdat jy onder ‘n skuldlas ly.

Jy moet kan bid en hoop,

kan belê en koop.

Met jou hoed in jou hand jou goed gaan verpand...as jy moet.

En al voel jy lus om te skree na ‘n misoes of twee,

moet jy hoopvol en bly

nog ‘n oes in kan kry,

en weet om te eet en te leef

asof armoede nie kleef.

Jy moet bedrywe se winste kan meet

wanneer te koop en wanneer verkoop.

Wanneer om te spaar al is dit hoe swaar.

Jy moet alles van geld af weet as jy wil boer my seun.

Jy sê jy wil boer my seun…

Dan moet jy ‘n plantkundige, dierkundige, grondkundige

wees en meer.

Jy moet weet van plante en bemesting,

van diere en vetmesting,

onkruid en onkruiddoders,

van insekte en insektedoders.

Van gewasse en planttye

van nou of wye rye.

Van siektes in diere en plante,

van tekorte in al jou lande.

Jy moet baie leer as jy wil boer my seun.

Jy sê jy wil boer my seun…

Dan moet jy lief wees vir die natuur,

na duiwe kan luister in die oggenduur.

Jy moet lief wees vir die reuk van grond,

vir die bulk van ‘n bees, die blaf van ‘n hond

vir windgolwe oor koringlande

vir tarentale op die mielielande.

Jy moet lief wees vir die Skepper en sy Skepping.

Jy moet kan lag as die aarde juig en kan huil as alles

om redding hyg.

Jy moet een wees met alles om jou as jy wil boer my seun.

Jy sê jy wil boer my seun…

Dan moet jy kan bid my seun,

as die hael oor jou lande dreun,

as jou hoop op redding verdwyn,

as die veglus in jou kwyn,

dan moet jy vol moed op kan kyk

berustend vol vertroue en verryk.

As jy dit kan doen my seun...is jy ‘n boer in murg en been.

Skrywer: Dietz Meiring

97

July 2017

Graan SA/Sasol fotokompetisie

– Enrico Cronje 2011

Wil jy boer my seun?