Previous Page  106 / 108 Next Page
Information
Show Menu
Previous Page 106 / 108 Next Page
Page Background

104

Beste Grootneef

d

ie dae is nog koud en winderig, met die Augustuswin­

de wat tolbossies oor die vlaktes jaag. Saans gaan lê

die wind en dan tooi die laaste sonstrale die westerkim

in ‘n goud-rooi skildery. Wat is die mens...

Ou Neef, ‘n koöperasiestoor bekoor met elke besoek;

met geure van melasse, soutblokke en voer. Draad en pale lê

gestapel, reg om ingespan te word. Krippe en hekke staan gereed

om gelaai te word – almal wil graag plaas toe gaan. Met mossies in

die balke wat in die halfdonker van die stoor rondvlieg, op soek na ‘n

plek om nes te maak.

‘n Koöperasiestoor was van kindsbeen af vir my ‘n plek van

verwondering – eers later sou ek leer dat die betaalslag vir die paar

goedjies op die bakkie die ervaring so effe bederf.

Ou Neef, ‘n hele stoor vol boeregoed laat my ook terugdink aan

die smous wat destyds by die plase omgery het – ‘n hele negosie­

winkel op wiele! So een keer per maand het die ou afgeleefde

Chev-bakkie die omgewing se plaaspaadjies besoek en by die statte

aangedoen. Die vrouens het mekaar geroep en die kinders het uit

alle rigtings nader gedraf wanneer die Chev sy draai

gemaak en onder ‘n bloekom gaan stop het.

Want as die smous die bakkie se klappe oopgevou

het, het hy ‘n hele nuwe wêreld ontsluit. In die

laaitjies en rakkies van die bak was naalde en garing,

rolle bruin en diepblou lappe, twak, snuif, meel,

stampmielies, droëbone in ‘n mudsak wat op ‘n skaal

afgeweeg is, kondensmelk, suiker en koffie. En houers

vol suurklontjies, vrypepermente en

chappies

! Twee

vir ‘n sent. Met ‘n silwer 5c-stuk kon jy skatryk daar

wegstap – ‘n broeksak vol soetgoed.

Die smous het geduldig elkeen se bestelling hanteer.

Van die vrouens sou ‘n hele paar keer weer in die tou

gaan staan om te koop – in afwagting op die kleingeld

wat hul met elke transaksie sou uitkry. Die smous

het met ‘n stil glimlag elkeen se bestelling – groot of

klein – hanteer. Of die kleingeld reg of verkeerd was,

sal niemand weet nie, maar almal was tevrede met

die negosieware en transaksie.

Wanneer almal opgekoop was, het die smous die

klappe begin toevou en met ‘n wuif afskeid geneem.

Die ou Chev-bakkie is snorkend die bult uit. Die vrou­

ens het partykeer nog ‘n tydjie verwyl en gesels en

dan met hul stringetjie kinders begin aanstap huis

toe. Die week se opwinding was verby.

Die smous was op sy manier die venster van hoe dit buite ‘n plaas-

hek gelyk het – met nuus van buurplase en wat anderkant die dorp

gebeur. Die smous het vir baie jare gekom en gegaan. As jy weer sien,

het hy by die statte uitgeslaan en met die vrouens se vrolike geroep

het die kinders nader gedraf om grootoog ‘n soet meevallertjie af

te wag.

Die Chev is een Augustusmiddag laat daar weg. Die wind het die

dag baie stof uitgewaai. Maar ons het die smous en sy bakkie nooit

weer gesien nie. Soms wonder ons wat van hom geword het. Dalk

siekte of dood? Of dalk het hy net aanhou ry tot in ‘n nuwe geweste.

Sy aardse goed was immers op wiele. Of dalk het hy net moeg geraak

om twee stukkies soetgoed vir ‘n stuiwer te verruil.

Maar op sy stil manier het die smous die wêreld anderkant ‘n

plaashek vir kinders kom wys.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

e-posse

aan Groot neef

Die smous

Lesers is welkom om ‘n e-pos na Kleinneef te stuur by

kleinneef@graingrowers.co.za.

Augustus 2018