Previous Page  105 / 108 Next Page
Information
Show Menu
Previous Page 105 / 108 Next Page
Page Background

103

August 2018

eienskappe en spesifieke oplossings moet ontwikkel word om

vroue op groter skaal te bemagtig en te betrek. “Partykeer moet jy

maar ‘n traan stort; dit is nie altyd nét sleg nie.”

Beide McPherson en Swart het in ‘n pleidooi gevra dat passie

en empatie weer in landbou teruggeploeg moet word. Die paneel­

lede was dit ook eens dat die regte mense vir ontwikkelingshulp

gekies moet word – en dat ‘n vrou versigtig selfondersoek moet

doen voor sy besluit om by landbou betrokke te raak.

“Ek het geen agtergrond van boerdery gehad nie,” het Swart

gesê. “Jy moet ‘n passie daarvoor hê en eers selfondersoek

doen voor jy betrokke raak. As jy besluit om te boer, moet jy by

jou naaste Departement van Landbou vir hulp gaan aanklop. Raak

by georganiseerde landbou ook betrokke, dan gaan deure vir jou

oop. Kyk byvoorbeeld na Graan SA se landbou-ontwikkelingspro­

gram. Daarvandaan volg die ander goed vanself – mits jy passievol

daaroor is.”

Een struikelblok is, volgens Swart, dat die regering geneig is om

‘n boer tot op ‘n sekere vlak te neem, maar dan sy hand los. “Hulle

gaan nooit terug na waar hul hom gelos het nie. Te veel mense,

wat nie self wil boer nie, kry boonop ondersteuning. Hulle moenie

net die koerante wil haal nie.”

Daarom moet vroueboere wat self vooruit wil gaan, “nie vergeet

van dié wat agter hul is nie. Help die vyf ander agter jou ook”.

McPherson beaam: “As ek ‘n ou met skerppuntskoene wat hulp

soek hier sien instap, dan weet ek sommer hy wil nie noodwendig

self boer nie.”

Me Rita Andreas, navorser in landelike ontwikkeling by die Dra­

kenstein-munisipaliteit in die Paarl, meen die regering se betrok­

kenheid by die opheffing van boere is van kardinale belang. “Die

regering sal móét inkoop. Hulle kan nie eenkant staan nie. Jy kan

nie vir iemand ‘n plaas gee en sê gaan boer daar nie. Hulle moet

betrokke bly.”

Sy meen een “gereedskapstuk” wat gebruik kan word om druk op

die regering te plaas en beleidsverandering te bewerkstellig, is om

die talle suksesse van kommersiële vroueboere wyer te verkondig.

Só kan veranderinge en transformasie in landbou vinniger be­

werkstellig word.

Volgens McPherson bly dit steeds ‘n groot uitdaging om aan klein­

boere toegang tot moderne tegnologie te gee. Hierby het heel­

wat boere toegang tot grond, maar hulle kan nie plant nie omdat

hulle nie grond besit nie. “Om net vir hulle geld te gee, lewer geen

bydrae nie.”

Nogtans moet Suid-Afrikaanse vroue in landbou nie aanhou dink

dat dit nie gedoen kan word nie. “Kom ons werk uit hoe ons dit

kán doen,” sê sy. Uiteindelik moet bekwame vroue nie huiwerig

wees om op hul regmatige plek in die landbou aan te dring nie. “Ek

glo nie enigeen gaan in jou pad staan en jou nie daar wil hê net

omdat jy ‘n vrou is nie. Die meeste van ons hier weet nie wat dit

is om snags jou kinders in die bed te moet sit sonder dat daar kos

in die huis was nie. ‘n Vrou kan hiermee empatie hê.

“Ons is nie almal dieselfde nie, maar ons hoef nie en ons wil ook nie

dieselfde wees nie. Ons behaal groot suksesse met vennootskappe

tussen kleinboere en groot kommersiële maatskappye, soos met die

verskaffing van insette. Kom ons begin deur armoede te verlig en

hongersnood uit te wis,” het McPherson gesê.