ႆႉ
HOOFSTUK 4
NOPO se Hoofbestuur neem afskeid
NOPO se Hoofbestuur het op 17 April 1999 tydens ʼn finale Hoofbestuursver-
gadering afskeid geneem. Hierdie was ʼn spesiale geleentheid, aangesien twee
groot doelwitte bereik is, deurdat:
• Die oliesadebedryf se strukture in plek was en aktief gefunksioneer het, naamlik
die Trust, Advieskomitee, Forums en die Tegniese komitees van die Forums.
• Die onderhandelinge vir die vestiging van die te stigte Graanprodusente-organi-
sasie afgehandel was.
NOPO se Hoofbestuur wou egter tydens die finale Hoofbestuursvergadering be-
vestig dat die beginsel van spesialisbediening van die kleiner bedrywe steeds in
die strukture van die nuwe Graanprodusente-organisasie moontlik sou wees, en
dat nie slegs mieliebelange in ’n nuwe struktuur gedien sou word nie. Gevolg-
lik is versoek dat spesialisbediening vir sonneblom-, sojaboon- en grondbone-
produsente in die grondwet van die nuwe organisasie verskans sou word en dat
hierdie mandaat tydens NOPO se Afsluitingskongres herbevestig word.
Tydens die afskeidsdinee het die NOPO Hoofbestuurslede elk ’n gedenksertifikaat
onderteken. Hierdie gedenksertifikaat is na die ontbinding van NOPO aan die nuwe
Graanprodusente-organisasie te Bothaville oorhandig, waarna dit in die raadsaal
geplaas is. Van Zyl, as aangewese Uitvoerende Beampte van die nuwe Graanpro-
dusente-organisasie, het ook die NOPO afsluitingsfunksie bygewoon.
NOPO Afsluitingskongres
NOPO se afsluitingskongres het op 9 Junie 1999 in die Fanie Ferreira Saal op die
NAMPO Oesdagterrein (later bekend as NAMPO Park) plaasgevind.
Die tema van die openingsrede van Pretorius was: “NOPO het ’n verskil ge-
maak”. In ’n persberig ná die Kongres, is hy soos volg aangehaal:
“Ons kyk met trots terug na die werksaamhede van NOPO oor die afgelope vyf jaar,
maar ook met vertroue vorentoe, waar produsente deur saamgevoegde vermoë,
kundigheid en leierskap uitdagings sal aanspreek. Hierdie Kongres lei tot ’n nuwe
era, waar alle graanprodusente in Suid-Afrika binne ’n enkelorganisasie ’n tuiste
sal vind”.
Die Kongres het versoek dat die Hoofbestuur van die nuwe Graanprodusente-or-
ganisasie spesifiek aandag sal gee aan ʼn aantal oliesade aangeleenthede wat vir
die doel as kongresbesluite omskryf is. Die Sonneblom, Soja- en Grondbone Werk-
groepe het hierdie sake na eenwording binne die strukture van Graan SA hanteer.
Mosie vir die ontbinding van NOPO en afsluiting van die Kongres
In terme van die riglyne van die reglement is ʼn mosie vir die afsluiting van die
werksaamhede van NOPO aan Kongres voorgelê. Die Kongres het die mosie
eenparig goedgekeur.
Verskeie dankbetuigings is gelewer waarna die Kongres met ʼn gebed deur
mnr Adriaan Ferreira van Hoopstad afgesluit is.
Steun aan ontwikkelende oliesadeprodusente vanaf 1996
NOPO het gedurende sy bestaan belangrike en waardevolle bydraes tot die
ontwikkelende landbousektor gemaak, wat na eenheidswording in Graan SA
voortgesit en uitgebrei is.
Die ontwikkelingsmodel van NOPO, via ʼn streekskantoor, met betrokkenheid
by ontwikkelende produsente in ʼn bepaalde gebied, is na die stigting van
Graan SA ook met sukses in ander gebiede geïmplementeer. NOPO het met
ontwikkelende landbou begin lank voordat dit ʼn modewoord in landbou was,
omdat dit die regte ding was om te doen. Die aksie is ook gedryf deur leiers in
NOPO se Hoofbestuur vir wie dit ʼn passie was om as mentors op te tree.
NOPO se betrokkenheid in die opsig is vervat in Hoofstuk 8, wat fokus op
ontwikkelende landbou in die graan- en oliesadebedrywe.
Tydens NOPO se afskeidsdinee op 17 April
1999 het die hele Hoofbestuur hierdie ge-
denksertifikaat onderteken.