Previous Page  9 / 37 Next Page
Information
Show Menu
Previous Page 9 / 37 Next Page
Page Background

HOOFSTUK 2

die verkoop, verspreiding en verbruik van mielies. Dit het ’n permitstelsel en ’n

beperking op die vervaardiging van mielieprodukte ingesluit. In Maart van daardie

jaar is ’n Voedselbeheerorganisasie gevorm en het die verskillende beheerrade wat

op daardie stadium reeds in terme van die Bemarkingswet gefunksioneer het, op

versoek van die Minister van Landbou deel daarvan geword.

Eenkanaalbemarking

Alles het dus daarop gedui dat die Staat die bemarking van landbouprodukte tot ’n

groter mate wou beheer. Hierdie siening is versterk deur ’n kritieke voorraadposisie

aan die begin van die 1943/1944-seisoen en probleme wat met die opberging en

hantering van mielies ondervind is. Dit het daartoe gelei dat die Mielieraad in 1944

besluit het om ’n “eenkanaalbemarkingstelsel” vir mielies vir die 1943/1944-sei-

soen te implementeer ingevolge waarvan die Mielieraad die enigste bemarkings-

liggaam vir mielies in die sogenaamde beheerde gebiede geword het.

Mielieprodusente en afnemers was daarna nie meer geregtig om direkte mielietran-

saksies met mekaar aan te gaan nie. Hulle was ook verbied om groter hoeveelhede

mielies te stoor as wat vir hulle eie behoeftes benodig is.

Die eenkanaalbemarkingstelsel was aanvanklik in die 1944/1945-seisoen vir ’n

proeftydperk van een jaar ingestel, maar dit het uiteindelik, met geringe wysigings

van tyd tot tyd, tot die 1995/1996-seisoen voortbestaan.

Die basiese beginsels van die eenkanaalbemarkingstelsel was (i) dat die Minister

van Landbou jaarliks die mielieprys vasgestel het (in Mei-maand van elke jaar) na

oorweging van die aanbevelings van die Mielieraad, die Nasionale Bemarkingsraad

en die Minister se ander adviseurs, (ii) dat alle verbruikers van mielies moes bydra

tot die koste van hantering en opberging van graan, en (iii) dat verbruikers verseker

moes wees van voldoende voorrade graan teen vooraf vasgestelde pryse.

Onder die eenkanaalbemarkingstelsel was die Mielieraad die enigste koper en

verkoper van mielies in die hoofproduksiegebiede. Vir daardie doel is drie produk-

siegebiede geïdentifiseer waar verskillende maatreëls ten opsigte van die bemarking

van mielies gegeld het:

• Gebied A het die huidige (2014) Noordwes, Vrystaat, Gauteng en Limpopo Provin-

sies omvat, asook die noord en noord-westelike gedeelte van KwaZulu-Natal en ’n

klein gedeelte van die Noord-Kaap in die Hopetown-gebied. Dié gebied het sowat

95% van Suid-Afrika se mielies geproduseer en die produsente in die gebied was

verplig om hulle mielies slegs aan die Mielieraad of sy agente te verkoop, teen

die vasgestelde prys. Dit het beteken dat die Mielieraad in effek die volle beheer

gehad het oor mielies wat in die land geproduseer is.

• Gebied B het bestaan uit verkillende klein areas wat in die sentrale, suidelike en

suidwestelike gedeeltes van die land verspreid was. In daardie gebied kon pro-

dusente slegs hulle mielies aan die Mielieraad of handelaars wat by die Mielie-

raad geregistreer was, verkoop teen pryse wat nie laer mag wees as die pryse

wat in gebied A gegeld het nie. Dié handelaars moes maandelikse opgawes van

die mielies wat hulle aangekoop het, by die Mielieraad indien en ’n heffing betaal

op die mielies wat hulle aangekoop het.

• Gebied C het die res van die land beslaan. In daardie gebied het geen beheer

gegeld nie, behalwe dat die Mielieraadheffing betaal moes word op enige mie-

lies uit daardie gebied wat in die ander twee gebiede verkoop is.

Die Mielieraad het met die instelling van die eenkanaalstelsel die bestaande or-

ganisasies wat by die hantering en opberging van graan betrokke was, naamlik

die koöperatiewe ondernemings, meulenaars en handelaarsagente, as sy agente

aangestel. Die Mielieraad het nie self die funksies van hantering, opberging, finan-

siering en verspreiding van mielies onderneem nie, maar dit deur middel van die

agente verrig.

Dit was ook mettertyd vir die Raad moontlik om deur middel van die agente mas-

sa-opbergingsfasiliteite daar te stel. Benewens lewering aan die agente, kon pro-

dusente hulle mielies direk in graansuiers van die Spoorwegadministrasie stort.

Op hierdie wyse het die Mielieraad teen die begin van die 1950’s sowat 90% van

die land se mielies beheer.