• Login
  • Search Icon

Winsgewendheid: Beplan só vir die nuwe seisoen

August 2015

PETRU FOURIE, navorsingskoördineerder en produksiekoste-analis: Graan SA

Die afgelope seisoen se droogtetoestande het winsgewende graan- en oliesaadproduksie in die grootste dele van Suid-Afrika onder hewige druk geplaas. Met die nuwe seisoen om die draai, lyk die situasie egter heelwat beter as gevolg van voorraadvlakke wat besonder laag is en plaaslike pryse ondersteun.

Dié styging van produsentepryse wat by die meeste van die somergewasse, maar spesifiek mielies, die afgelope jaar voorgekom het, het tot gevolg dat produsente met beter vooruitsigte ten opsigte van winsgewendheid kan beplan watter gewasse aangeplant kan word.

Weervooruitsigte vir die komende seisoen

Uitgesluit die verkryging van finansiering, is die weervooruitsigte vir die komende seisoen die enkele grootste bekommernis onder produsente.

Volgens verskeie klimatoloë word ‘n El Niño-verskynsel, wat dikwels gepaardgaan met ondergemiddelde reënval in die somerproduksiestreke, voorspel – melding word gemaak dat dit een van die mees intense op rekord kan wees. Met dié agtergrond in gedagte, moet produsente kennis neem dat hoewel El Niño dikwels droogte vir Suid-Afrika se somerreëngebiede meebring, dit nie altyd die geval is nie en ‘n normale seisoen wel kan voorkom.

Noodsaaklikheid van produksiebegrotings

Produksiekoste verskil radikaal van buurman tot buurman weens elke graanprodusent se eie unieke sisteem, die tipe boerdery-eenheid en produksiepraktyke. Die daarstel van produksiebegrotings vir jou eie omstandighede, voor die aanplant van gewasse, is noodsaaklik sodat ingeligte produksiebesluite geneem kan word.

Niemand kan die toekoms met al sy risiko’s en onsekerhede akkuraat voorspel nie aangesien dit om planne vir die toekoms gaan en op vooruitskattings, historiese gegewens, aannames en ondervinding gebaseer word. In die lig hiervan moet produsente, as gebruikers van begrotings, daarvan bewus wees dat begrotings asook die aannames waarop dit berus, voortdurend aan veranderinge onderworpe is.

Met die inagneming van al die onsekerheid wat die toekoms inhou in terme van pryse en klimaatsomstandighede, word daar in hierdie artikel gepoog om die koste vir die mees algemene produksiepraktyke voor te lê.

Winsgewendheidvergelyking – Noordwes-Vrystaat

Die vergelyking van beraamde bruto marges van verskillende vertakkings kan hulp aan produsente verleen ten opsigte van gewaskeuse vir aanplantings. Die winsgewendheid (bruto marge) van verskillende somergewasse vir die Noordwes-Vrystaat-omgewing vir die 2015/2016-produksieseisoen word in Grafiek 1 aangetoon. Beraamde bruto produksiewaardes en direkte veranderlike koste is gebruik om dié bruto marges te bereken.

image

Die bruto produksiewaardes is soos volg bereken: Opbrengs van die gewas vermenigvuldig met die produsenteprys (liggingsdifferensiaal ensovoorts in ag geneem).

Bruto marge berekening: Bruto produksiewaardes minus direkte veranderlike koste. Vaste koste wat gewoonlik uitgawes is wat aangegaan moet word of daar geproduseer word of nie, is nie hier in berekening gebring nie; die bruto marge syfers is dus die marge voor vaste koste verhaal word.

Die geskatte voorseisoenpryse wat in die berekeninge gebruik is tydens die skryf van hierdie artikel (16 Julie 2015), is soos volg:

  • Mielies vir lewering in Julie 2016 = R2 450/ton
  • Sorghum vir lewering in Julie 2016 = R3 500/ton
  • Sojabone vir lewering in Mei 2016 = R4 900/ton
  • Sonneblom vir lewering Mei 2016 = R4 900/ton
  • Grondbone vir lewering = R11 000/ton (keurgraad)

Opbrengsscenario’s is gegrond op aannames vir produksie-omstandighede in die Noordwes-Vrystaat. Grafiek 1 is saamgestel om ‘n indikasie van die verskil in winsgewendheid tussen die verskeie somergewasse uit te beeld, maar dit is belangrik om daarop te let dat hierdie syfers van produsent tot produsent kan verskil.

Indien aanpassings in die bogenoemde geskatte voorseisoenpryse en direkte koste aangebring word, sal die bruto marge vergelyking dienooreenkomstig verander. (Let wel: Die grafiek bevat verskillende bruto marge voorbeelde vir mielies)

Met die uitbeelding van die vergelykende analise, kan daar gesien word dat grondbone die beste bruto marge vir die komende produksieseisoen toon. Word daar op mielies gefokus, is dit duidelik dat die hoër potensiële opbrengsgronde en die verminderde bewerkingspraktyke (vyf jaar) beter marges as die mielies op laer- en gemiddelde potensiaal opbrengsgronde lewer.

Met plaaslike mieliepryse wat as gevolg van lae voorraadvlakke ondersteun word, lyk die prentjie van mielies se winsgewendheid teenoor die ander gewasse baie beter in vergelyking met die vorige seisoen waar mielies in ‘n sterk koste-knyptang situasie was.

Produsente moet seker maak dat hulle ‘n sorghumkontrak het voordat hulle besluit om sorghum aan te plant. Kennis moet verder geneem word dat die biobrandstofaanlegte nog nie in produksie is nie en daar dus nie alreeds vir daardie mark geproduseer moet word nie.

Beraamde produksiekoste vir die 2015/2016-seisoen

In Tabel 1 tot Tabel 3 word die beraamde koste om graan in die westelike, sentrale en oostelike dele van die land te verbou, aangedui. Verskillende aannames is met die opstel van die begrotings gemaak, hetsy dit pryslyste van insetverskaffers of vooruitskattings met behulp van future rand/dollar-wisselkoerse en ruoliepryse was.

image

image

image

Die begrotings in Tabel 1 tot Tabel 3 is saamgestel deur veranderlike en vaste koste in berekening te bring. Sedert die koms van die vrye mark, moet produsente self besluit of die Safex-prys voldoende is om te produseer al dan nie.

Slegs deur alle koste te bereken, kan ‘n sinvolle besluit vir volhoubare produksie geneem word. Vervolgens moet vasgestel word hoeveel geld nodig is om die vaste en veranderlike koste van die onderneming te dek en watter vertakkings hoeveel daarvan gaan bydra.

Veranderlike koste
Die veranderlike koste is gewoonlik daardie koste wat maklik met die vertakking geassosieer word en verander soos daar meer of minder van die inset gebruik word.

In die gewasvertakkings sal veranderlike koste bestaan uit by voorbeeld saad, kunsmis, onkruiddoder en diesel. Uit die meegaande tabelle is dit duidelik dat bemesting die grootste komponent van die veranderlike koste uitmaak.

Vaste koste
Die vaste of oorhoofse koste is gewoonlik uitgawes wat aangegaan moet word of daar geproduseer word of nie.

Voorbeelde van vaste koste is salarisse, huur, lewenskoste, elektrisiteit en nog vele meer. Hierdie koste moet by die veranderlike koste per hektaar getel word om die totale produksiekoste te bereken.

Westelike produserende streek

In Tabel 1 word die produksiekoste van Bt-mielies, sonneblom en sojabone in die westelike streek vir die komende seisoen getoon.

Produksiekoste van droëland – GM-mielies (Bt)
In die eerste kolom van Tabel 1 word die begrote produksiekoste van Bt-mielies vir die 2015/2016-produksieseisoen uiteengesit. In dié tabel word die produksiekoste van ‘n 3 ton/ha- en 4 ton/ha-opbrengsmikpunt ten toon gestel.

Die totale veranderlike koste vir ‘n 3 ton/ha-opbrengs beloop rondom R5 364/ha vir ‘n Bt-mielie-kultivar. ‘n Berekende vaste koste van R2 289/ha word bygetel om ‘n totale produksiekoste van R7 652/ha onderskeidelik daar te stel.

‘n Julie 2016 Safex-mielieprys van R2 450/ton is gebruik, wat min of meer R2 201/ton in die produsent se sak sal beteken ná inagneming van die vervoerdifferensiaal, hanteringskoste en bemarkingskommissie.

Indien hierdie prys teen die begrote insetkoste realiseer, moet die produsent vir ‘n Bt-mielie ‘n minimum van ongeveer 3,5 ton/ha stroop om gelyk te breek.

Let daarop dat Graan SA se begrotingsmodel volledig is en grotendeels alle koste wat moontlik deur produsente aangegaan kan word, in ag neem. Indien ‘n opbrengs van 3 ton/ha behaal word, sal ‘n Safex-prys van R2 800/ton vir ‘n Bt-mielie nodig wees om gelyk te breek. Indien slegs die veranderlike koste (uitgesluit vaste koste) in ag geneem word, kan ‘n produsent gelyk breek teen ‘n opbrengs van bietjie minder as 2,5 ton/ha.

Dit is duidelik dat mielieverbouing meer winsgewend as ‘n jaar gelede is, hoofsaaklik vanweë die beter Julie 2016-prys wat in berekening gebring is. Produsente word egter steeds aangeraai om vol ledige somme te maak.

Produksiekoste vir sonneblom
Die tweede kolom van Tabel 1 bevat die insetkoste vir die verbouing van sonneblom. ‘n Mei 2016 Safex-sonneblomprys van R4 900/ton is gebruik, wat ‘n prys van ongeveer R4 596/ton in die produsent se sak beteken ná inagneming van aftrekkings.

Gegewe die begrote insetkoste, kan ‘n minimum van ongeveer 1,25 ton/ha sonneblom in die westelike streek gestroop word om gelyk te breek, mits die begrote insetkoste verwesenlik.

Produksiekoste vir sojabone
Aannames wat met die opstel van die sojaboonbegroting gemaak is, is dat 50% van die saad deur produsente teruggehou is, terwyl die ander 50% gesertifiseerde saad is. Die begroting sluit ook ‘n koste vir N, P en K in.

‘n Mei 2016 Safex-sojaboonprys van R4 900/ton is gebruik, wat ‘n prys van ongeveer R4 841/ton in die produsent se sak beteken ná inagneming van hanteringskoste. Sou die begrote insetkoste (veranderlike + vaste koste) realiseer, is dit vir ‘n produsent moontlik om gelyk te kan breek indien hy ‘n opbrengs van 1,50 ton/ha stroop.

Oostelike produserende streek

In Tabel 2 word die produksiekoste van GM-mielies (RR) en sojabone in die oostelike streek vir die komende seisoen geïllustreer.

Produksiekoste van droëland – GM-mielies (RR)
In die eerste kolom van Tabel 2 word die begrote produksiekoste van GM-mielies (RR) vir die 2015/2016-produksieseisoen vir die oostelike streke uiteengesit.

‘n Julie 2016 Safex-graanprys van R2 450/ton is weer eens gebruik. In die tabel word die produksiekoste van ‘n 5 ton/ha- en 7 ton/ha-opbrengsmikpunt ten toon gestel. Indien dié Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (veranderlike + vaste koste) realiseer, moet ‘n produsent vir daardie omgewing vir ‘n RR-mielie ongeveer 5 ton/ha stroop om gelyk te breek.

Produksiekoste vir sojabone
Die tweede kolom van Tabel 2 illustreer die uiteensetting van insetkoste vir die verbouing van sojabone. Die aannames wat met die opstel van die sojaboonbegroting gemaak is, is dieselfde as vir die westelike dele van die land (50% gesertifiseerde saadaankope en kunsmistoedienings).

‘n Mei 2016 Safex-sojaboonprys van R4 900/ton is gebruik en aangesien sojabone geen vervoerdifferensiaalkoste het nie, kan ‘n moontlike prys van R4 841/ton in die produsent se sak realiseer nadat hanteringskoste en bemarkingskommissie afgetrek is.

Gegewe die insetkoste (vaste + veranderlike koste), soos wat in Tabel 2 aangetoon is en die gemelde Safex-prys, kan ‘n opbrengs van tussen 1,5 ton/ha - 1,8 ton/ha in die oostelike streek behaal word om gelyk te breek.

Sentrale produserende streek

Tabel 3 toon begrote produksiekoste vir mielies, sonneblom en sojabone vir die sentrale dele van die land aan.

Slotsom

Daar is baie wat in die mark kan gebeur, maar die belangrikste punt bly egter dat elke produsent die verantwoordelikheid moet neem om sy eie persoonlike somme te maak. Stel vas teen watter prys jou graan verkoop kan word sodat al jou koste gedek word en jy ‘n wins genereer.

Dit is dus belangrik om jou gelykbreekprys (R/ton) vas te stel om jou totale koste te kan dek.

Produsente en ander rolspelers kan die basiese produksiekoste op die Graan SA-webtuiste besigtig, terwyl die model gratis aan alle opbetaalde Graan SA-lede beskikbaar is. Stuur ‘n e-pos aan petru@grainsa.co.zatesame met jou Graan SA-lidnommer om die model vir jou omgewing te ontvang.

Publication: August 2015

Section: On farm level

Search