• Login
  • Search Icon

Waar sal die brood vandaan kom?

February 2011

Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder

Die nuwe jaar het afgeskop met uitstekende reën en selfs skade aan die jong somergewasse in sommige gebiede. Behalwe vir sulke en ander moontlike negatiewe natuurverskynsels, is daar nie veel wat produsente kan doen aan die omvang van die someroes wat reeds in die grond is nie.

Argumente ten gunste van ‘n vermindering van die verhandelbare binnelandse mielievoorraad, het wisselende uitkomste tot gevolg gehad. Weersomstandighede het in baie gevalle gedikteer wat geplant kan word, maar die huidige omstandighede laat geen onduidelikheid oor die vraag- en aanbodtoestande nie.

Die mark verdiskonteer die groot aanbod en vroeë oesverwagtinge by wyse van lae en dalende pryse, terwyl die vraag swak bly. Verbruiksbesteding sal na verwagting ook nie kan bydra tot prysverligting vir produsente nie. Dit is duidelik dat meer en meer faktore buite die plaashek gaan dikteer wat moontlik is aan die produsent se kant van die plaashek.

Dit is so dat die sterk rand binnelandse pryse ontdaan aan die stygende tendense internasionaal, maar aan die ander kant het dit ook bygedra tot laer insetinflasie, want die sterk rand was die bedryf ook ter wille, gegewe die afhanklikheid van invoere wat die vernaamste insette aanbetref. Kortom: die ruilvoet is onder druk en het sedert middel 2010 stelselmatig verder verswak.

Verbruikers het baat gevind by die laer produsentepryse en voedselinflasie is tans onrealisties laag. Verbruikers was veronderstel om meer te spandeer op grond van die lae voedselpryse, maar vroeë aanduidings is dat enige laer pryse as ‘n asemskepgeleentheid vir skuld deur die verbruiker benut is. Laer rente en lae inflasie kry egter nie die verbruiker oortuig om meer aan kos te spandeer nie. Dié toedrag van sake strem behoorlike beplanning vir die seisoene wat kom.

2011 sal in vele opsigte waterskeidings bring. Daar sal duidelike strategiese direktiewe moet kom oor hoe gemaak binne die mieliemark wat na alle waarskynlikheid blywend in ‘n surplussituasie kan bly, afhangend natuurlik van wat die weer dikteer. Daar is al soveel gesê oor dat die heil van die graansektor lê in die vermoë om die vraag uit te brei.

Produsente is geregtig om te hoor en te sien wat die regering gaan doen om hierdie realiteite binne veranderde beleid aan te spreek. Die bedryf kan nie meer bekostig om te wag vir ‘n ekonomiese opswaai wat pro du sentepryse kan laat styg tot vlakke noodsaaklik vir die herstel van winsgewendheid nie.

Binnelandse prysstygings as ‘n afgeleide van internasionale prystendense is noodsaaklik, maar daar is geen realistiese verwagting dat so iets binne die afsienbare toekoms kan gebeur nie. Produsente sal dus vir ten minste dié jaar meer entrepreneuries moet handel met die werklikhede. Die antwoord lê in slimmer bemarking en ongenaakbare kostebestuur.

Graan SA sal teen hierdie agtergrond verskerpte pogings moet loods om beleidsontwikkeling te rig en om die negatiewe impak van ‘n rigtinglose mark te beperk. Die fokus bly op die verbetering van die graanprodusent se bedryfsomgewing om teen ‘n wins te kan produseer en die 2011 Kongres gaan ‘n geleentheid wees vir sodanige introspektiewe besinning en strategiese herposisionering.

Publication: February 2011

Section: Editorial

Search