• Login
  • Search Icon

Voorkom dié slaggate die komende seisoen

July 2015

LANDBOUKUNDIGE-SPAN: OPBRENGSVERBETERINGSTELSELS, Kynoch

Die afgelope seisoen het weer eens die groot wisselvalligheid van gewasproduksie in Suid-Afrika beklemtoon. Oor die somersaaigebied het opbrengste van totale misoeste tot bogemiddelde opbrengste gevarieer.

In baie gevalle is die verkryging van finansiering vir insette onder erge druk en sal daar baie slim met beskikbare fondse te werk gegaan moet word. Ons almal is al vertroud met die voorkoms van slaggate op ons paaie, maar die komende seisoen gaan daar baie meer slaggate in gewasproduksie as in die verlede wees.

Hierdie groot variasie gaan beplanning vir die komende seisoen baie bemoeilik. Elke plaas en selfs elke land sal hierdie jaar op sy eie geëvalueer moet word om moontlike slaggate te identifiseer en iets daaromtrent te kan doen.

Kontak jou landboukundige om jou hiermee by te staan.

Grondgebruik en bewerking

Gronde is oor ‘n wye gebied baie droog en daar is nie genoegsame oordraggrondvog (water) beskikbaar nie. ‘n Gebrek aan opgegaarde water bring mee dat die oes wat ingesit gaan word, reeds vanuit die staanspoor ‘n hoër risiko dra.

Dit veroorsaak dat waar befondsing beperk is, slegs die hoëpotensiaalgronde geplant moet word en die laerpotensiaallande glad nie geplant moet word nie. Die risiko is eenvoudig net te hoog om die laerpotensiaallande te plant.

Laat lê hierdie laerpotensiaallande eerder oor om genoegsame water op te gaar om volgende seisoen ‘n laerisiko-oes in te sit. Indien gronde met planttyd nie ten minste in die orde van 100 mm water bevat nie, moet daar baie goed besin word voordat hierdie lande geplant word.

Gedurende jare met beperkte befondsing moet daar eerder minder lande geplant word. By dié lande wat wel geplant gaan word, moet daar nie vanaf die basiese beginsels van gewasverbouing afgewyk word nie. Om by die basiese beginsels te bly, is die eerste en belangrikste stap in suksesvolle gewasverbouing.

Grondbewerking kan nie afgeskeep word nie, want dit sal net tot swakker water- en voedingstofbenutting lei. Onkruidbeheer gaan die komende seisoen selfs nog belangriker wees en lande met hoë onkruiddruk moet vroegtydig bewerk word om waterverliese te beperk.

Gewaskeuse

Markkragte en gevolglik die prys wat die voedselprodusent vir sy produkte ontvang, is van kardinale belang by gewaskeuse. Vanuit ‘n landboukundige oogpunt is daar ook ‘n verskil in die droogteverdraagsaamheid van gewasse.

Só is sonneblom en graansorghum byvoorbeeld meer droogteverdraagsaam as mielies. Hierdie verskil kom in by byvoorbeeld die morfologiese verskille van die wortelstelsels en die blare. Sojabone het weer ‘n baie langer blomperiode as byvoorbeeld mielies.

Dit bring mee dat indien daar ‘n kort droogteperiode tydens die blomtyd van die gewasse voorkom, mielies baie gouer ‘n oesverlies kan ervaar as byvoorbeeld sojabone. Wat egter ook waar is, is dat sojabone geneig is om meer blommetjies onder lae humiditeitstoestande af te speen as gewoonlik.

Dit wil lyk asof die nuwegenerasie-sojaboonkultivars sulke toestande beter hanteer. Sulke gewasverskille lei daartoe dat mielies gewoonlik op die hoërpotensiaallande en sonneblom op byvoorbeeld die laerpotensiaallande geplant word.

Daar is ook ‘n groot verskil in die insetkoste van die verskillende gewasse en indien fondse beperk is, kan dit ook ‘n rol in gewaskeuse speel.

image

Bemesting

Bemestingsaanpassings gaan in die komende seisoen ‘n belangrike rol speel aangesien bemesting oor die algemeen tussen 25% en 35% van die insetkoste uitmaak. Daar behoort na bekalking, die oordraging van bemesting, gedifferensieerde bemesting en ook die effektiwiteit van bemesting gekyk te word.

Bekalking
Bekalking is ‘n hoeksteen in gewasverbouing en moet geensins verwaarloos word nie. In jare met beperkte kapitaal, is die gebruik om heel eerste op bekalking te sny. Die besluit is dan gewoonlik dat die bekalking “volgende jaar” gedoen sal word.

Bekalking word gedoen om grond-pH (grondsuurheid) reg te stel en ook om kalsium en magnesium aan te vul. Grondsuurheid het ‘n direkte invloed op wortelontwikkeling en die opneembaarheid van plantvoedingstowwe. Indien daar nie genoegsaam bekalk word nie, kan dit tot ‘n swakker wortelstelsel lei wat water- en voedingstofopname sal benadeel.

Onder sulke toestande kan dit selfs finansieel meer lonend wees om te bekalk en minder te bemes, as om voluit te bemes. Die afgelope seisoen het weer gewys dat op dié lande wat gereeld bekalk word, die gewasse baie langer gehou het.

Oordraging
‘n Produsent kan waar daar die afgelope seisoen ‘n misoes of ‘n ver ondergemiddelde oes was (weens moontlike oordraging van bemesting), die komende seisoen op bemesting sny. Dit moet in gedagte gehou word dat mielies ongeveer 20 kg N/ton graan verwyder.

Verder lewer Suid-Afrikaanse mieliegronde, afhangende van die kleipersentasie, ongeveer 30 kg tot 40 kg N/ha. Grondmonsters, om die hoeveelheid oorgedraagde stikstof in die grond te bepaal, kan wel geneem word. Hierdie monsters moet op ‘n spesifieke manier getrek word en dit is raadsaam om ‘n landboukundige daaroor te skakel.

Verder bestaan daar ook die nodige inligting om die ontledingswaardes te interpreteer en te bepaal of daar wel ‘n reaksie op N-bemesting verwag kan word. Dit is ook so dat die N-inhoud van die grond baie vinnig ná byvoorbeeld ‘n groot bui reën kan verander, maar die grondontledingsresultaat sal steeds ‘n aanduiding wees.

Wat ander voedingstowwe, soos fosfaat, swael, kalium, kalsium en magnesium betref, is die beste advies om nuwe grondmonsters te trek en dan aanpassings dienooreenkomstig te maak.

Die bemestingsbehoefte vir die komende seisoen moet voorsien word vanuit die lewering van die grond, plus moontlike oorgedraagde bemesting (indien enige), plus die bemesting wat vir die komende seisoen gegee gaan word. Die nodige hulpmiddels bestaan wel om dit doeltreffend te bestuur.

Dit is juis met die onoordeelkundige vermindering van bemesting dat daar in groot slaggate getrap kan word. Kynoch se Opbrengsverbeteringstelsel-landboukundiges kan die produsent bystaan om kunsmispeile oordeelkundig, indien moontlik, te verlaag.

Gedifferensieerde bemesting
Gedifferensieerde bemesting is waar bemesting met presisieboerderypraktyke van land tot land of selfs binne dieselfde land, verander. Gedurende jare met beperkte kapitaal, kan dit nie bekostig word om alle lande dieselfde te bemes nie en raak gedifferensieerde bemesting al hoe belangriker en selfs ‘n noodsaaklikheid.

Gedifferensieerde bemesting begin by ‘n onlangse grondontleding asook die opbrengsmikpunt waarvoor daar bemes moet word. Met hierdie inligting kan die bemestingsbehoefte vir elke land of gedeelte van ‘n land bereken word. Hierdie bemestingsbehoeftes kan dan weer gegroepeer word om by ‘n prakties werkbare plan uit te kom. Gedifferensieerde bemesting kan insetkoste sowel as risiko verlaag.

Effektiwiteit van bemesting
Die effektiwiteit van verskillende kunsmisprodukte kan baie verskil. Almal is bewus van hoe ureum byvoorbeeld onder sekere toestande kan vervlugtig (verlies). Daar bestaan wel produkte in die handel wat hierdie ureumverliese kan bekamp, soos byvoorbeeld die produk KynoPlus.

Kalksteenammoniumnitraat (KAN) kan ook gebruik word as die verlies van stikstof beperk wil word. Onthou net elke produk is uniek. Maak seker dat dit reg bestuur word en sodoende sal optimale prestasie verkry word.

Die plasing van kunsmis kan ook die effektiwiteit daarvan verhoog. Dit kan oor die algemeen gestel word dat bandgeplaasde kunsmis, indien maksimumhoeveelhede nie oorskry word nie, meer effektief as breedwerpigtoegediende kunsmis is.

Dit geld veral vir fosfate, tot ‘n mate vir kalium en tot ‘n mindere mate vir stikstof. Die rede hiervoor is dat fosfate feitlik glad nie in die grond beweeg nie, terwyl stikstof baie maklik in die grond beweeg met kalium tussen die twee.

Die tyd van toediening kan, afhangende van die grondtipe, ook die effektiwiteit van kunsmis bepaal. Kunsmis wat voor-plant toegedien word, is vir ‘n langer periode aan grondreaksies blootgestel, terwyl na-planttoegediende kunsmis onmiddellik deur die gewas opgeneem kan word.

Indien bemesting eers na-plant en nie voor-plant toegedien word nie, kan dit verder ook ‘n positiewe invloed op die kontantvloei van die boerderyeenheid hê.

Blaartoegediende bemesting se opname kan tussen tien en 30 keer meer effektief as grondtoegediende bemesting wees. Ongelukkig kan ons nie in die gewas se totale voedingsbehoefte met blaarvoedings voorsien nie. Blaarvoeding is ook ‘n uitstekende manier om die metaboliese prosesse in die plant te bestuur.

Weens die verskil in effektiwiteit van die verskillende bemestingsprodukte, moet daar vir die komende seisoen ook gewaak word daarteen om nie maar net die “goedkoopste” kunsmis te koop nie. Die spreukwoord: “Jy kan jou bankrot spaar” of “goedkoop koop, is duur koop” is ook hier van toepassing.

Samevatting

In jare met beperkte kapitaal en ná droogtes, is die belangrikste om heel eerste die basiese dinge reg te doen.

Die kombinasie van grondgebruik, gewaskeuse, bekalking, moontlike oordrag van plantvoedingstowwe, gedifferensieerde bemesting en die effektiwiteit van bemestingsprodukte, is hierdie komende seisoen nog belangriker as ander jare.

Publication: July 2015

Section: Focus on

Search