• Login
  • Search Icon

Veldbestuur verbeter veldkwaliteit

November 2014

— Deel 2
 

HENNIE DU TOIT, hoofveekundige, NWK Landboubestuursdienste

In die vorige uitgawe is die voordele van hoëdruk- en ultrahoëdrukbeweiding vir die veeprodusent en sy weiding bespreek. Aangesien die veeprodusent sy veevertakking moet evalueer om winsgewendheid te bepaal, kan veranderings nou maklik aan die weidingsbestuur aangebring word om dit so effektief as moontlik te kry.

In hierdie uitgawe word die invloed wat hierdie beweidingstelsel op die grond het, bespreek asook hoe om dit te implementeer.

Invloed van ultrahoëdrukbeweiding op die grond

Hierdie beweidingstelsel het ‘n definitiewe invloed op die grond en die bewaring daarvan. Aangesien die veelading so hoog is (tot 'n ekwivalent van sowat 5 000 diere/ha), is daar 'n trapeffek op die grond.

Die grond se harde bolaag word losgetrap voordat die diere die kamp verlaat, met die volgende resultate:

  • Die harde kors word opgebreek, wat waterafloop tot ‘n minimum beperk.
  • Die los bogrond is nou ontvanklik vir waterindringing en deurlugting wat baie voordelig is.
  • Die grond is nou ‘n saadbed waar baie nuwe grassaad wat in die grond voorkom in die komende groeiseisoen sal ontkiem en nuwe plante vorm waar daar oorspronklik kaal kolle voorgekom het.

Die plaaseienaar het ‘n sosiale verpligting om sy plaas op te pas en te ontwikkel vir die nageslag. Om dit ten volle te bereik, is dit nodig om die plaas vertikaal te verbeter of ontwikkel. Soos die bogrond verbeter, sal die mikroörganismes in die grond ook vermeerder en erdwurms sal terugkeer. Al hierdie faktore bring mee dat die grond toenemend vrugbaarder word.

Hoe dieper hierdie vrugbare laag is, hoe hoër sal die veld se produksie van gras wees en hoe hoër sal die drakrag word. Die invloed van droogtes sal ook kleiner wees met vrugbaarder grond.

Implementering van die stelsel

Elke plaas se implementering sal anders daar uitsien aangesien die plaasuitleg, kapitaal beskikbaar, hoeveelheid koeie en ander faktore van plaas tot plaas verskil. Die beginsel van hoe dit geïmplementeer word, word in hierdie artikel aangespreek sodat produsente dit moeitevry kan gaan toepas.

Stap 1: Keuse van stelsel
Die eerste keuse wat die produsent moet maak, is om te bepaal watter stelsel gevolg gaan word. Sal dit slegs hoëdrukbeweiding (klein kampe) of sal dit ultrahoëdrukbeweiding (stroke in ‘n kamp) wees wat geïmplementeer word? Hierdie keuse sal die verdere stappe wat volg, beïnvloed.

Stap 2: Aantal kampe beskikbaar
Die aantal kampe en die groottes daarvan, sal die implementering van hierdie stelsels beïnvloed asook die keuse van of nuwe draad gekoop moet word en of daar van 'n elektriese draad gebruik gemaak gaan word. Dit is baie duur om draad en pale aan te koop, maar hierdie struikelblok kan deels oorkom word deur van ‘n elektriese draad gebruik te maak. Houtsparre kan self gemaak word of gekoopte sparre kan in die veld geplant word waar die draad moet kom. Dit vergemaklik die span van die draad elke keer as die kamp bewei word.

Elke kamp behoort afsonderlik geëvalueer te word om te bepaal hoe om dit te verdeel. Voorbeelde van die verdeling word in Figuur 1 en Figuur 2 getoon. Die plaas moet kamp vir kamp deurgegaan word om die verdelings te beplan. Poog om die verdelings van die waterpunt af te doen sodat dieselfde waterpunt vir ‘n aantal kampies gebruik kan word. Dit bespaar verdere koste en is in die meeste gevalle maklik haalbaar.

image

Vir die hoëdrukbeweidingstelsel sal die kampe ongeveer een vyfde van die tropgrootte wees, met ander woorde vir ‘n koeitrop van 100 koeie moet die kampgroottes hoogstens 20 ha groot wees. Die beweidingstyd per kamp moet ongeveer 10 tot 14 dae wees voordat die diere onttrek moet word.

Hoe meer diere per hektaar nou in ‘n kamp geplaas word (dus kleiner kampies), hoe meer ekstreem is die beweidingstelsel. Die uiterste gebruik van ultrahoëdrukbeweiding is waar die koeie in ‘n strook van ongeveer 50 m - 80 m breed, vir ‘n bepaalde periode geplaas word om al die materiaal weg te wei. Hier behoort die diere ongeveer elke uur aangeskuif te word in die strook om by die nuwe weiding uit te kom.

‘n Gemaklike bestuurstelsel moet egter opgestel word wat by die plaas en sy aktiwiteite sal inpas. ‘n Werkbare stelsel is kampies wat só groot is dat die veelading/kamp ongeveer 30 diere/ha is.

Dit beteken dat die diere elke dag na ‘n nuwe kamp verskuif word. Vir ‘n trop van 400 koeie, sal die kampe dan ongeveer 15 ha groot moet wees. ‘n Wawielstelsel is baie effektief waar die water in die middel van die kampe is en die koeie elke dag na ‘n nuwe kamp verskuif word.

Dit is belangrik om te onthou dat hierdie slegs riglyne is en dat elke plaas se periode van beweiding van die volgende plaas s’n sal verskil.

Stap 3: Beweidingsiklusse
Sodra die kampe beplan is en die sparre op hul plek (opsioneel) ingeplant is, kan die draad gespan word in die eerste kamp wat bewei moet word. Sorg dat die diere vir die eerste paar dae voortdurend onder toesig is, aangesien hulle aan die stelsel en elektriese draad gewoond moet raak. Maak ook seker dat die elektriese toestel (energiser) goed gegrond is sodat die krag deurentyd sterk bly. Die beeste moet weet die draad skop as hulle daaraan raak.

Sodra die plantmateriaal alles weggewei is, word die beeste na die volgende deel van die kamp geskuif. Sorg moet gedra word dat alle materiaal benut is (Foto 3) voordat hulle geskuif word.

image

Gevolgtrekking

Soos wat die huidige landboutoestande nou daar uitsien, sal elke produsent, of hy saai of met beeste boer, sy plaas so volledig as moontlik moet benut. Daar mag nie meer ‘n enkele hektaar onbenut lê nie, want die winsgewendheid is net nie meer goed genoeg nie. Daarom is ‘n beweidingstelsel soos die een wat hier onder bespreking is, van waarde.

Die belangrikheid van goeie veld is vir ‘n veeprodusent onaanvegbaar. Sorg behoort dus gedra te word dat elke veeplaas so doeltreffend as moontlik bestuur word. Maak die beste van jou plaas en vee sodat hulle op hulle beurt vir jou sal kan sorg.

Vir enige navrae in hierdie of enige ander verband, kontak Hennie du Toit by 084 515 6817 of hennie@nwk.co.za

Bronnelys

Gekoördineerde voorligtingsaksie. 1987. Beplan nings riglyne vir die veeboer.
Harvey, K. 2014. Persoonlike mededelings.
Jooste, Chris. 2003. Voorkom “droogtes” met veldbestuurstelsel. Landbou.com.
Tainton, N.M. 1981. Veld and pasture management in South Africa.
Zietsman, J. 2011. Drukbeweiding.

Publication: November 2014

Section: On farm level

Search