• Login
  • Search Icon

SOJABOONKWALITEIT van die 2011/2012-oesseisoen

February 2013

JOLANDA NORTJÉ, BESTUURDER: LABORATO RIUM, SAGL

Wêreldwyd is die VSA, Brasilië, Argentinië, China en Indië die grootste produseerders van sojabone, met produksiesyfers wat wissel van ongeveer 83 tot 11 miljoen ton gedurende 2011.

Hierdie vyf lande verteenwoordig meer as 90% van die wêreld se sojaboonproduksie, wat volgens die International Grains Council kan styg tot 250 miljoen ton in 2012/2013. Alhoewel die VSA die afgelope jare die grootste produseerder van sojabone was, word egter voorsien dat Brasilië die hoofproduseerder van sojabone gaan wees in 2012/2013, gegewe die hoeveelheid beskikbare bewerkbare grond en water asook die erge droogtetoestande in die VSA.

Ongeveer 85% van die wêreld se sojabone word jaarliks verwerk na sojaboonmeel en -olie. Ongeveer 98% van die sojaboonmeel (ook bekend as sojaboonoliekoek) word verder geprosesseer na dierevoer en die res word gebruik vir sojameel en proteïene vir menslike gebruik. Plaaslike verbruik van sojaboonmeel/oliekoek het meer as verdubbel die afgelope tien jaar.

Die oliefraksie word uit die sojaboon geëkstraheer deur oplosmiddelekstraksie met heksaan en word hoofsaaklik vir menslike verbruik (95%) aangewend en die res word gebruik vir industriële produkte. Die gedeelte van die olie wat gebruik word vir biodieselvervaardiging is egter vinnig besig om toe te neem, veral in die VSA.

Ongeveer 6% van die sojabone wat wêreldwyd geproduseer word, word direk as menslike voedsel gebruik, hoofsaaklik in Asië.

Suid-Afrikaanse produksie

Daar word voorsien dat sojaboonpryse hoog gaan bly in 2013 en dat die hoeveelheid landbougrond onder sojaproduksie gaan toeneem. Volgens die Oesskattingskomitee se opname (middel-Oktober 2012), beplan produsente om 504 000 hektaar vir soja-aanplantings te benut gedurende die 2012/2013-seisoen.

Volgens BFAP se SA Agricultural Baseline Outlook vir die periode 2012 - 2021, gaan die totale area onder sojaboonproduksie teen die einde van 2021, meer as 40% van die totale area onder mielieproduksie beloop. Hierdie geprojekteerde toename tesame met hoër opbrengste gaan lei tot ‘n plaaslike soja-oes van meer as 2 miljoen ton teen 2021. Plaaslike sojaboonverwerking gaan volgens verwagting ook met meer as ‘n miljoen ton verhoog oor die volgende dekade.

Volgens die finale produksieskattingsyfer van die Oesskattingskomitee is 646 950 ton sojabone gelewer tydens die 2011/2012-seisoen. Hierdie syfer is 8,9% laer as die finale berekende produksiesyfer van 710 000 ton in die 2010/2011-seisoen.

Die oppervlak onder soja-aanplantings het egter toegeneem van 418 000 in die 2010/2011-seisoen tot 472 000 hektaar hierdie seisoen (13% toename). Die gemiddelde opbrengs het die afgelope seisoen egter afgeneem van 1,70 ton/ha in die vorige seisoen tot 1,37 ton/ha. Die laer opbrengs kan toegeskryf word aan die ongunstige weerstoestande gedurende die 2012-groeiseisoen. Mpumalanga en die Vrystaat het onderskeidelik 40% en 30% van die sojabone bygedra tot die totale oes, gevolg deur KwaZulu-Natal met 13%.

image

image

2011/2012-sojaboonoesopname

Die 2011/2012-sojaboonoesopname is die eerste van dié soort uitgevoer deur die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL). Die doel van hierdie opname is die versameling van kwaliteit-data van die kommersiële sojaboonoes op ‘n nasionale vlak. Hierdie data kan gebruik word om onder andere tendense oor seisoene en kwaliteitsverskille tussen produksiegebiede uit te wys. Dit gee ook ‘n aanduiding van plaaslike sojaboonkwaliteit vir uitvoerdoeleindes.

Vir oeskwaliteitdoeleindes is Suid-Afrika verdeel in 36 produksiestreke. Die Oesskattingskomitee se syfers word volgens provinsie aangegee en die streeksamestelling volgens provinsie is dus soos volg: Streke 1 tot 6 vorm deel van die Wes-Kaap, waar geen sojabone verbou word nie, kanola is hier die hoof oliesaadkommoditeit. Streke 7 en 8 verteenwoordig die Oos-Kaap en streke 10 en 11 die Noord-Kaap. Die Noordwes Provinsie beslaan streke 14 tot 20 en die Vrystaat streke 21 tot 28. Streke 29 tot 33 is in Mpumalanga, streek 34 in Gauteng, 35 in Limpopo en 36 in KwaZulu-Natal.

Gedurende die oesseisoen, word ‘n verteenwoordigende monster van elke lewering by die silo’s geneem volgens die bepaalde graderingsregulasies. ‘n Verteenwoordigende monster van elke klas en graad per silo is na die SAGL gestuur. In totaal is 100 monsters, wat die soja-oes proporsioneel verteenwoordig, deur SAGL gegradeer en geanaliseer.

Graderingsresultate

‘n Totaal van 85 van die monsters is as graad SB1 gegradeer; 15 monsters is afgegradeer na COSB (Klas Ander Sojabone), hoofsaaklik as gevolg van die persentasie gebrekkige sojabone onder die 4,75 mm rondegatsif sowel as die teenwoordigheid van ander graan en skadelike sade in die monsters.

Die gemiddelde persentasie vreemde materiaal vir graad SB1 was 0,26% en vir klas COSB 0,79%. Sojabone en gedeeltes van sojabone wat deur die 4,75 mm rondegatsif gegaan het, was 2,68% vir SB1 en 4,63% vir COSB met ‘n Suid-Afrikaanse gemiddeld van 2,97%. Die gemiddelde persentasie gebrekkige sojabone op die 4,75 mm rondegatsif was 5,89%; 5,62% vir SB1 en 7,39% vir COSB.

Soja as proteïenbron

Sojabone is ‘n uitstekende bron van proteïene en vorm dus die belangrikste bron van dieetkundige proteïene vir dierevoeding, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in bykans die res van die wêreld.

Soja is een van net ‘n paar plante wat ‘n “volledige” proteïen voorsien aangesien dit al agt essensiële aminosure bevat. ‘n Essensiële aminosuur word nie natuurlik in die liggaam vervaardig nie, maar is essensieel vir menslike voeding en gesondheid. Proteïen-gebinde aminosuurprofiele van tien gemaalde sojaboonmonsters is bepaal deur middel van vloeistofchromatografie-analises en het goed ooreengestem met literatuurwaardes.

Chemiese samestelling en resultate

Sojabone (droë gewig) bestaan uit ongeveer 40% proteïen, 20% vet, 35% koolhidrate en 5% as. Die proteïen-, vet- en asresultate word gerapporteer as persentasie (g/100 g) op ‘n droë (vogvrye) basis.

Die gemiddelde proteïeninhoud van die monsters was 39,42%. Die gemiddelde vetinhoud was 18,7% en die gemiddelde as-inhoud 4,62%. Die as-inhoud van die monsters het gevarieer tussen ‘n minimum van 4,05 en ‘n maksimum van 5,43%.

image

Sien Tabel 1 vir ‘n vergelyking tussen die plaaslike kwaliteit en ‘n aanduiding van Amerikaanse, Brasiliaanse en Argentynse kwaliteit, soos gepubliseer in ‘n artikel in die Journal of the American Oil Chemists’ Society in 2007.

Soos gesien kan word, vergelyk die Suid-Afrikaanse proteïenkwaliteit goed met dié van internasionale sojabone, terwyl die plaaslike vetinhoud ongeveer 3% laer is.

image

Mikotoksien en GMO-resultate

Mikotoksien-analises is uitgevoer op tien van die 100 monsters volgens die multimokotoksien siftingsmetode, deur gebruik te maak van die UPLC-MS/MS-tegniek. Geen mikotoksien-residu is op enige van die monsters gevind nie.

Van die monsters wat ontleed is vir die oesopname, is 10% getoets vir die teenwoordigheid van die CP4 EPSPS-geen (Roundup Ready) wat genetiese modifisering aandui. Die Envirologix QuickComb-toets is uitgevoer en al die monsters het positief getoets.

Vir meer inligting aangaande die plaaslike sojaboonoeskwaliteit, kan jy die SAGL se webtuiste besoek by www.sagl.co.za.

Publication: February 2013

Section: Input Overview

Search