• Login
  • Search Icon

Soektog na 'n Bt-vatbare stamboorderpopulasie in Suid-Afrika

December 2015

ANNEMIE ERASMUS, LNR-Instituut vir Graangewasse

Bt-mielies (MON810) is vir die eerste keer in 1998 in Suid-Afrika geplant om die Afrika-mieliestamboorder, Busseola fusca, (Foto 1) te beheer. Die eerste tekens van stamboorderlarwes met weerstand teen Bt-mielies is in 2004 gerapporteer en daarna in 2006 is totale veldweerstand aangeteken in die Christianaomgewing (Noordwes Provinsie).

‘n Tweede Bt-event (MON89034) is in 2011 gekommersialiseer wat wel Bt-weerstandbiedende stamboorders beheer. Dit is dus uiters noodsaaklik om Bt-weerstandsvlakke van stamboorderpopulasies in Suid-Afrika se mielieproduksie-areas te moniteer.

Om akkurate gevolgtrekkings te maak, is dit egter nodig om ‘n kontrole stamboorderpopulasie te hê wat nog vatbaar is vir albei Btevents. Só ‘n vatbare populasie kan dan in Suid-Afrika gebruik word om Bt-weerstandsvlakke met mekaar te vergelyk.

Die afgelope seisoen is stamboorders versamel in die veld vanaf Douglas (Noord-Kaap), Dutywa (Oos-Kaap), Normandien (KwaZulu- Natal) en Louis Trichardt (Limpopo). Al vier hierdie populasies is in die laboratorium geteel om genoegsame eiers te versamel om sodoende ‘n laboratoriumproef te doen.

Kelke van nie-Bt- (kontrole), MON810- en MON89034-mielieplante is afgesny en geïnokuleer met vars uitgebroeide stamboorderlarfies (Foto 2). Die larwes se persentasie oorlewing en gemiddelde massa is oor tyd gemonitor om larwale ontwikkeling te bepaal. Weerstandsvlakke is dus só oor tyd bepaal.

Uit die resultate (Grafiek 1) was dit duidelik dat die Douglas- en Normandien-populasies die hoogste vlak van Bt-weerstand het teen die event MON810, met ‘n oorlewingspersentasie van 27% en 33% onderskeidelik.

Uit die populasie wat versamel is in die Oos-Kaap, het slegs 9% van die larwes oorleef op MON810 na 26 dae. Die mees vatbare populasie vir MON810 is die Louis Trichardt-populasie met slegs 3% van larwes wat nog oorleef het op dag 26.

Larwes van al vier die populasies is egter binne die eerste agt tot twaalf dae deur MON89034 beheer.

Die mees vatbare Louis Trichardt-stamboorderpopulasie gaan dus as kontrole gebruik kan word sodat Bt-weerstandvlakke van ander Suid-Afrikaanse stamboorderpopulasies daarmee vergelyk kan word.

Hierdie tipe navorsing is daarom belangrik – nie net om Bt-weerstandsvlakke te bepaal nie, maar ook om as ‘n waarskuwing te dien vir produsente wanneer weerstand in hul omgewing ontwikkel.

Die navorsing help ook só om die huidige event wat weerstandbiedende larwes beheer, te beskerm. Uit hierdie evaluering kan daar dus vroegtydig gesien word wanneer ‘n sekere populasie die vermoë begin ontwikkel om langer te lewe op, of wanneer larwes die vermoë begin ontwikkel om te oorleef op die huidige event.

imageDeur hierdie navorsing kan daar vroegtydig opgetree word as tekens van weerstand in die veld voorkom om totale veldweerstand te voorkom.

Vir meer inligting, kontak die outeur by erasmusa@arc.agric.za.

 

 

Dankie aan die Mielietrust wat die navorsing befonds het en die volgende persone vir hul harde werk en toewyding: Elrine Huyser, Alicia Pretorius en Mabel du Toit. Dankie ook vir die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) se bydrae

Publication: December 2015

Section: On farm level

Search