• Login
  • Search Icon

Sasol Landboutrust - beursaansoeke nou oop

November 2013

ESTIE DE VILLIERS, ASSISTENT-REDAKTEUR: SA GRAAN/GRAIN

Studente word uitgenooi om nou aansoek te doen vir beurse van die Sasol Landboutrust om hul nagraadse studies voort te sit in landbou of verwante studievelde.

Verbeter mededingendheid en volhoubaarheid

Die Sasol Landboutrust, wat die mededingendheid van die landboubedryf ondersteun, is in Maart verlede jaar deur Sasol gestig. Dit volg na aanleiding van ‘n ooreenkoms tussen Sasol Nitro en die Mededingingsraad waarvolgens Sasol Nitro ‘n bedrag van R30 miljoen aan die trust sal betaal oor ‘n tydperk van drie jaar om tot voordeel van landbou en veral die Suid-Afrikaanse graanbedrywe aangewend te word.

“Die trust het ten doel om die mededingendheid en volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse landboubedryf te verbeter en verskaf ondersteuning vir navorsings- en ontwikkelingsprojekte,” verduidelik mnr Leon du Plessis, senior bestuurder: L & L Landboudienste en administrateur van die Sasol Landboutrust.

“Die trust sal ook inisiatiewe ondersteun wat gemik is op die verbetering van opleiding vir produsente en die landboubedryf in die algemeen. Weens die groot bydrae wat graan tot voedselsekerheid maak, sal die trust spesifiek
op die volhoubaarheid van dié bedryf fokus.”

Wie kan aansoek doen vir geld by die trust?

Volgens Du Plessis kan enigeen aansoek doen, solank die projek of studies waarvoor aansoek gedoen word binne die trust se doelstellings val en tot voordeel van landbou is.

“Die trustees sal elke aansoek op meriete oorweeg en besluit of dit befonds gaan word al dan nie. Die diskresie oor die befondsing van ‘n aansoek rus dus by die trustees,” aldus Du Plessis.

Die hoofdoel van die trust is ondermeer:

  • Om die mededingendheid en volhoubaarheid van die landboubedryf in Suid-Afrika te bevorder deur die befondsing van mark- en produksieverwante navorsing, die befondsing vir die verkryging en verspreiding van markinligting ten einde mededingendheid regdeur die waardeketting te verbeter – in die besonder op plaasvlak – en om toegang tot die mark te fasiliteer
  • Om finansiële ondersteuning te gee vir ontwikkelingsprojekte – en die verskaffing van finansiële ondersteuning aan spesifieke navorsingsprojekte binne die landboubedryf
  • Befondsing vir opleidingsprogramme vir die produsente en die bedryf – wat die toekenning van beurse vir graad/diplomakursusse in landbou insluit

Internasionale opleiding

Volgens Du Plessis het die trust ‘n behoefte geïdentifiseer vir ‘n groter internasionale blootstelling van die landbounywerhede in Suid-Afrika en een van die doelwitte van die trust is om beurse toe te ken aan PhD-studente vir opleiding aan aanvaarbare internasionale instellings.

“Die fokus van die trust se strategie is in wese die ontwikkeling van plaaslike kundiges om internasionale navorsing en kennis by ons unieke grond- en omgewingstoestande aan te pas. Studente sal die kennis wat hulle oorsee ten opsigte van nuwe metodes en wetenskap opgedoen het, aan die Suid-Afrikaanse bedryf moet oordra en hul vaardighede met ander hier moet deel,” het Du Plessis gesê.

Fokusareas

“Sleutelfokusareas wat produsente in staat stel om volhoubaar en winsgewend te produseer, is veral aspekte soos bewaringslandbou (CA), behoorlike plantsiektebeheer en waardetoevoeging. Die trust het nog nie spesifieke voorkeure vir navorsing bepaal nie, maar oorsese studiebeurse en kursusse wat tans oorweeg gaan word, moet gerig wees op die sojaboonbedryf,” aldus Du Plessis.

Internasionale kundiges

Deel van die trust se strategiese doelwit is om ook internasionale kundiges te borg om kort kursusse te kom aanbied oor ‘n verskeidenheid van belangrike onderwerpe in Suid-Afrika wat deel vorm van die leerplanne van universiteite en landboukolleges.

“Multidissiplinêre navorsing is baie belangrik om plaaslike landbou te bevorder en om te verseker dat ons steeds internasionaal mededingend is. Buiten grondwetenskap, is dit nodig om al die verskillende agronomiese en ander studierigtings (byvoorbeeld oes- en grondkunde, plantpatologie, onkruidwetenskap, grondmikrobiologie, biochemiese wetenskap en landbou-ekonomie) in te sluit.

“Ons wil deur die opleiding van plaaslike studente en die betrokkenheid van internasionale kundiges, ‘n netwerk van plaaslike vaardighede vorm wat oor die tyd ‘n groot rol in die bedryf kan speel sodat toekomstige geslagte ook hierby kan baat.

“Persone is welkom om voorstelle by die trust in te dien oor moontlike internasionale kundiges wat kort kursusse in Suid-Afrika kan aanbied oor die betrokke landbouwetenskappe (veral soja-aangeleenthede) en ander verwante sake,” nooi Du Plessis.

Trustees

Die trustgeld word deur onafhanklike trustees hanteer, wat dit tot voordeel van die landbougemeenskap moet aanwend. Die huidige trustees is mnre Jannie de Villiers (voorsitter van die trust en Graan SA verteenwoordiger), Louw Steytler (Graan SA verteenwoordiger), Neels Ferreira (Agri SA verteenwoordiger), drs Johannes Louw (Sasol Nitro verteenwoordiger), Erik Adriaanse (Sasol Nitro verteenwoordiger), Mamabolo Raphesu (AFASA verteenwoordiger) en prof Johann Kirsten (akademiese verteenwoordiger).

Sluitingsdatum

Die sluitingsdatum vir plaaslike beursaansoeke is 31 Januarie 2014.

Vir volledige besonderhede oor voorwaardes en afskrifte van die beursaansoekdokumente, kontak Louise du Plessis by L & L Landboudienste, administrateurs van die Sasol Landboutrust, by 012 807 3958/4191 of stuur ‘n e-pos na
l-lagric@mweb.co.za of gbconference@mweb.co.za.

Publication: November 2013

Section: Other Articles

Search