• Login
  • Search Icon

Praktiese bulbestuur

October 2014

ARTHUR DE VILLIERS, Arcadia Bonsmaras, Vrede

‘n Bul is die belangrikste dier in jou beesboerdery. Hy maak slegs 3% - 4% van jou kudde uit, maar dra geneties 50% by tot elke kalf wat hy produseer. ‘n Enkele bul kan 40 en meer kalwers per jaar vir jou lewer.

Die nuwe bul op jou plaas

Indien die “nuwe” bul saam met ander “vreemde” bulle vervoer word, is die ideaal om nie die bulle saam in dieselfde kompartement op ‘n trok te laai nie – veral nie as hulle “los” staan nie. Hulle kan baklei op die trok en die ondergeskikte bul kan dan in so ‘n situasie ook nie wegkom van die bakleier af nie.

Laai vreemde bulle verkieslik in aparte kompartemente (selfs ook, waar moontlik, bulle wat mekaar ken). Kontroleer tydens die aflaai van die bul of hy enige beserings tydens die vervoer na die plaas opgedoen het. Indien wel, behandel dit onmiddellik.

Dit is belangrik dat nuwe, vreemde diere eers vir ongeveer ‘n maand apart van ander beeste loop – hulle word dus in kwarantyn gehou. Hierdie nuwe diere moet met ‘n bosluismiddel wat amitras bevat (dit verlam die monddele van vatbare bosluise en maak hulle dood) asook met ‘n inspuitbare makrosikliese laktoon (beheer bloubosluise en rondewurms) behandel word.

Vatbare parasiete wat hulle kon saambring, sal dan beheer word. As dit nie gedoen word nie, kan parasiete van ander plase en omgewings op die plaas gevestig word.

Sorg dat die bul (veral as dit net een bul is) afgelaai word in ‘n veilige kamp (met goeie drade) saam met ‘n ander bees of twee om hom geselskap te hou. Hierdie kan ‘n speenkalf of byvoorbeeld ‘n jong bul wees – wat ook met bogenoemde middels behandel is.

Skoon water en goeie weiding sal hom dadelik meer rustig maak. Maak seker hy kry die water. Laat die bul met rus vir ten minste twee dae.

Die bul kan beperk of omvattend verseker word en/of jy kan semen tap van die bul indien dit spesiale genetika is. Indien bulle ingebring word vanaf ‘n siektevrye area na ‘n area waar siektes soos hartwater, rooiwater en galsiekte endemies is, verseker eerder die bul omvattend vir ‘n jaar.

Skakel die bul dadelik in jou normale dip-, doseer- en inentingsprogram in – onafhanklik van wat die vorige eienaar gedoen het.

Indien die bul baie vet is – kry hom stelselmatig van die kragvoer af: Eerste week 8 kg/dag, tweede week 4 kg/dag, derde week 1 kg/dag saam met sy toekomstige lek ad lib, en die vierde week net sy normale lek.

Hou die nuwe bul indien moontlik weg van ander bulle totdat hy by sy koeie kom; dit wil sê die bul behoort eers vir ‘n seisoen te werk voordat hy in die groter bultrop geplaas word.

Onthou dat ‘n bul tande wissel tussen 2 en 2,5 jaar. Hy kan dus gewig verloor as hy moet aanpas in sy nuwe omgewing, in gemiddelde weiding loop en nog moet dek ook. Die ideaal is om die bul twee maande of langer voor die dekseisoen begin op die plaas te kry sodat hy in sy nuwe omgewing en voedingstoestande kan aanpas.

image

Voor die dekseisoen

Baie belangrik: Toets bulle drie tot ses weke voor die dekseisoen vir vrugbaarheid en doen skedewasse vir trigomonose en vibriose.

Uit ‘n proef waar 10 940 bulle getoets is vir geslagsgeskiktheid in Amerika, was ongeveer 20% nie geskik vir gebruik nie. Normaalweg gaan jy voor elke dekseisoen ten minste 10% bulle “verloor”.

Identifiseer hulle voor die dekseisoen – die koste om dit te doen, is baie minder as die kalwers wat “verloor” gaan word omdat dit nie gedoen is nie. Toets selfs die nuwe bul ook, al is hy verkoop met 'n vrugbaarheidsertifikaat – die effek van die stres van die veiling en die vervoer kan sy vrugbaarheid in die kort termyn beïnvloed.

Selfs in stelsels waar meerbulparings gebruik word, is dit noodsaaklik om semenevaluasie van die bulle te doen, want dominante bulle met swak semen kan jonger bulle met goeie semen weghou van die koeie.

Gaan bulle deur voor die dekseisoen vir algemene gesondheid en kyk dat hulle struktureel normaal is en dat hulle gang (loopvermoë) op geen manier ongemaklik of abnormaal is nie.

Spuit die bulle twee maande voor die dekseisoen vitamiene A en minerale (Multimin + Se + Cu). Bovimin of Embamin en Embavit (word deur die bek gedoseer) is ook handelsname wat gebruik kan word. Hierdie behandeling kan herhaal word ná ongeveer twee maande.

Bulle se kondisie behoort altyd tussen 2,5 en 3,5 uit 5 te wees. Oorvoeding lei tot swaar, onfiks en lomp bulle wie se semen ook gewoonlik onderstandaard is. Vetaanpakking in die nek van die skrotum is gevaarlik en lei tot swak termoregulering, met die gevolg dat semen swak is.

Ondervoeding kan ook ‘n probleem wees, maar gewoonlik neem libido eers af voordat semengehalte beïnvloed word. Indien bulle effens skraal is, begin twee maande voor die dekseisoen om hulle byvoeding te gee. Dit kan wissel van ‘n produksielek tot 5 kg - 10 kg konsentraat per bul per dag.

Immuniseer bulle twee maande voor die dekseisoen teen drie-dae-stywesiekte en vibriose.

Gedurende die dekseisoen

Observasie van jou bulle, veral jong bulle, is belangrik. Kyk of sulke bulle dekbehendig is en ook of hulle libido (dekdrang) het. Jong bulle is aanvanklik onervare, maar binne ‘n paar dae behoort hulle dekbehendig te wees. Daar is gewoonlik 10% bulle met geen of swak libido – identifiseer hierdie bulle en vervang hulle.

Sit in meerbulparingstroppe die ouer en jonger bulle saam, nie bulle wat ewe sterk is nie en ook nie minder as drie tot vier bulle per 100 koeie nie.

Vir ons werk dit om een volwasse bul en twee jong bulle per 75 koeie te gebruik. In enkelbuldektroppe behoort 30 tot 40 koeie per volwasse bul vir drie maande per bul toegedeel te word. Jong bulle met baie potensiaal moet liewer alleen in ‘n groep gebruik word – anders gaan jy dalk te min kalwers van hulle aankry.

Indien ‘n bul ‘n koorsreaksie gehad het as gevolg van rooiwater, anaplasmose, knopvelsiekte of drie-dae-stywesiekte sal sy semen heel waarskynlik dood wees en dit kan twee maande (selfs langer) neem om reg te kom.

Goeie observasie behoort gedoen te word gedurende die dekseisoen om dadelik te weet as bulle siek of beseer is. Vervang dan so ‘n bul.

Vrotpootjie gedurende die dekseisoen moet dadelik behandel word, want dit is ‘n baie pynlike toestand en die bul sal nie dek voordat die vrotpootjie gesond en nie meer pynlik is nie. Behandel hiervoor die bul met ‘n langwerkende antibiotika soos deur jou veearts voorgeskryf. Kyk dus dat bulle gesond bly gedurende die dekseisoen. Beserings as gevolg van bakleiery of ander redes kan ‘n bul uitskakel in die dekseisoen – veral heup-, been- en kloubeserings. Hou rekord van die koeie wat gedek word. Ongeveer 60% van koeie raak beset in hulle eerste siklus. Indien meer koeie “terugkom”, is daar 'n probleem en dit moet so gou as moontlik geïdentifiseer en reggestel word.

Jy het nog tyd om die probleem reg te maak – maar jy sal gou moet speel. Indien die probleem in ‘n spesifieke enkelbulparingstrop voorkom, vervang onmiddellik die bul. Indien die probleem in 'n spesifieke meerbulparingstrop voorkom, kan dit moontlik wees dat die dominante bul onvrugbaar of laag vrugbaar is.

Probeer om daardie bul te identifiseer en vervang hom onmiddellik. Dektroppe behoort nie langs mekaar te loop nie. Bulle baklei deur die draad en ‘n bul met ‘n goeie libido sal deur 'n gewone draad breek na ‘n koei op hitte. Met twee jaar oue asook jonger bulle kan nog 'n kans gevat word as die heining baie goed is.

Ná die dekseisoen

Honger die bulle uit in aparte, sterk krale vir drie tot vier dae (sonder kos of water). Neem die bulle dan een-een na die bulkamp waar goeie weiding en skoon water vrylik beskikbaar is. Bulle behoort in hierdie omstandighede te vergeet van die koeie en ook meer lus te wees vir vreet as om te baklei. Die bulkamp moet ook veilig wees sonder te veel klippe, slote en gate en daar moet genoeg spasie wees vir bulle om vir mekaar pad te gee.

Die ideaal is om bulle twee-twee (een ouer en een jonger) te laat loop en nie almal saam in een kamp nie. Veral waardevolle bulle behoort apart gehou te word. In die praktyk gebeur dit egter dat bulle tussen dekseisoene saam gegooi word en die eienaar kan dan nie veel meer doen as oë toeknyp en hoop vir so min as moontlik beserings nie.

Hou die bulkamp veilig deur dubbelheinings (3 m uit mekaar) teen die kante te span waar daar ander beeste langsaan loop. Elektriese heinings kan ook help, alhoewel meer nasorg hiervoor nodig is.

Omdat bulle meer baklei en ‘n groter “persoonlike” ruimte nodig het, moet daar voorsiening gemaak word vir genoeg vreetspasie by die lekbakke of wanneer beperkte aanvulling gedoen word. Tussen 0,5 m en 1 m per bul behoort voldoende te wees. Omgedopte vragmotor- of trekkerbande is goeie lekbakke – dit is onvernietigbaar en kan die bulle ook nie beseer as hulle baklei nie. As daar met die bultrop gewerk word, kyk dat al die bulle nie in ‘n bondel gejaag (vasgedruk) word nie. Hulle baklei gewoonlik in sulke omstandighede. Bulle wat mekaar al vir maande lank aanvaar het, kan skielik begin baklei as hulle rondgeskuif word – die mooi woord hiervoor, is “verplasingsgedrag”.

Moenie tussen dekseisoene bulle almal saam met die melkkoeie of ‘n ander koei laat loop nie. Die bulle kan, deur almal dieselfde koei te dek, mekaar met geslagsiektes besmet.

Algemene opmerkings

Vir elke tien bulle wat jy gebruik, is dit raadsaam om een reserwe bul te hê vir bulle wat siek of beseer kan word gedurende die dekseisoen.

Meeste mediumraambulle kan alreeds op 14 maande gebruik word indien hulle ten minste 420 kg weeg, hul testis ten minste ‘n 340 mm omtrek het en hulle semen positief getoets is. Hierdie jong bulle behoort 10 tot 20 koeie in drie maande te kan dek. Normaalweg kan mediumraam Sanga of Bos Indicus tipe bulle gebruik word tot op tien jaar. Ouer bulle kan ook gebruik word, maar dan moet spesiale observasie gedoen word om te kyk of die bulle nog goed werk.

Mediumraam Sanga of Indicus tipe bulle wat volwasse is, weeg tussen 800 kg en 1 000 kg; dit wil sê ten minste 1,5 tot 2 GVE; hou dit dus in gedagte ten opsigte van die grootte en drakrag van die bulkamp.

Geniet jou bul – in 90% van die gevalle behoort jy geen probleem te hê nie. Kontak Arthur de Villiers by amdev@zippnorth.co.za.

Publication: October 2014

Section: Focus on

Search