• Login
  • Search Icon

Ou vrou stories of die waarheid?

February 2012

Hoekom gipstoediening so belangrik by grondbone is

LOUREINE SALOMON, LRN-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Dit gebeur menigmale dat goeie raad by een oor ingaan en net so vinnig weer by die ander oor uitvlieg. Sit daarby die neiging om seker raad af te maak as “ou vrou stories”, dan begin ‘n mens kriewelrig raak.

In die grondboonwêreld is een van daardie sogenaamde “ou vrou stories” die toediening van gips in grondboonaanplantings. Daar is produsente wat vas glo aan hul gipstoedienings en ander weer wat die geloof aflag; wetenskaplik is daar egter groot waarheid in die waarde van gips.

Om te verstaan waaroor die hengse lawaai gaan, is dit belangrik om te gaan kyk na van die belangrike voedingstowwe wat ‘n grondboonplant nodig het vir lewering van ‘n kwaliteit-opbrengs asook die manier hoe die plant hierdie voedingstowwe opneem.

Dit is alombekend dat kalsium die boustene van ‘n goeie “skelet” is. Vir die grondboon is die peul wat die grondboonpit beskerm, die “skelet”. Sien Figuur 1 oor die vorming van die grondboonanker.

image

Die vorming van die grondboonanker en die uiteindelike peulvorming is deel van die uniekheid van die grondboon self. Die anker ontstaan vanuit die onderpunt van die blomsteel, binne die node waar die blom gevorm is. Aan die voorpunt van die anker is die ontwikkelende embrio van die saad. Hierdie anker groei af en dring die grond binne tot op ‘n diepte van ongeveer 5 cm waar die peul dan tot volwassenheid vorm. Die anker dien dus as ‘n naelstring tussen die plant en die ontwikkelende peul, waardeur noodsaaklike voedingstowwe na die peul gevoer kan word.

Dit is juis hier waar daar ‘n kinkel in die verhaal kom. Sommige voedingstowwe is baie beweeglik en kan binne die plant rondgeskuif word tot waar dit benodig word. ‘n Goeie voorbeeld van ‘n beweeglike voedingstof is boor, wat as blaarvoeding toegedien word en verplaas kan word na die peul om sodoende boortekorte teë te werk.

In die geval van kalsium is blaartoedienings nutteloos aangesien die voedingstof nie deur die grondboon af na die peule toe verplaas word nie. Die grondboonplant het dus so ontwikkel dat die opname van kalsium direk deur die peul geskied. As gevolg van die vermoë van die grondboonpeul om kalsium direk vanuit die grond op te neem, is dit uiters belangrik dat daar genoegsame beskikbare kalsium binne die peulsone voorkom om die opname te vergemaklik.

Terug by die “ou vrou storie” oor gipstoediening. Gips is ‘n goeie produk vir die vrystelling van kalsium, aangesien die produk hoogs oplosbaar is. Kalsium versterk die peul wat die “skelet” om die pit vorm.

Genoegsame kalsiumopname is voordelig aangesien dit opbrengs verhoog deur die verlaging van die voorkoms van peulvrot. Dit voorkom ook die voorkoms van “dowwe” peule en daar word in Amerika beweer dat dit ook die voorkoms van aflatoksien kan verlaag. Vir produsente van saad-grondbone is dit uiters belangrik dat gipstoediening wel geskied aangesien dit die produksie van saad met goeie ontkieming en groeikragtigheid bewerkstellig.

Daar steek dus baie waarheid in hierdie “ou vrou storie”, aangesien daar wêreldwye bevestiging in die literatuur is oor die belangrikheid van kalsium, veral in gipsvorm. Die algemene riglyn vir gipstoediening is soos volg: Toediening geskied met die aanvang van eerste blom by grondbone. Hoeveelhede wissel tussen 500 kg/ha - 700 kg/ha. Die wisseling kom in by die metode van plasing van die gips. Indien gips gebandplaas word, sal die hoeveelheid gips minder wees as wanneer gips breedwerpig toegedien word. Die produsent sal moet besluit wat die maklikste manier van toediening is.

Onthou om ‘n oog op die grondontledings te hou. Kalium en kalsium word deur dieselfde “boodskapper” opgeneem en dit is dus verkieslik dat daar ‘n verhouding van 3:1 kalsium/kalium binne die grond moet wees. Indien daar wel kalium toegedien moet word, moet daar gewaak word teen die plasing daarvan binne die peulsone waar kalsium vrylik beskikbaar moet weer vir die opname deur die grondboonpeul.

Wie sou nou kon dink dat ‘n grondboon só uniek is? Die uiteinde van die saak bly egter dit:

  • Grondbone het gipstoedienings nodig wanneer die eerste blomme opgemerk word.
  • Kalsium is nodig vir ‘n goeie kwaliteit grondboonopbrengs.
  • Voldoende kalsium lewer goeie saad met hoë ontkieming en groeikragtigheid.

As die wetenskap dus ‘n “ou vrou storie” oor en oor as die waarheid bewys het, kan jy dit maar glo!

Vir meer inligting, kontak Loureine Salomon by salomonl@arc.agric.za.

Publication: February 2012

Section: Wenartikels

Search