• Login
  • Search Icon

Oordeelkundige beheer van valsstinkbesies op sonneblomme — Hierdie besie se skade is nie vals nie!

January 2012

image

HANNALENE DU PLESSIS, SKOOL VIR OMGEWINGSWETENSKAPPE EN ONTWIK KELING, NOORDWES-UNIVERSITEIT

Groot getalle valsstinkbesies is in sonneblomlande oor groot dele van die verbouingsgebied gerapporteer. Beskadigde sade is ligter en die olie-inhoud laer as díe van onbeskadigde sade. Beheer van hierdie insek hoef nie ‘n kopseer te wees indien die regte besluite geneem word nie.

Valsstinkbesies (Nysius natalensis) is ‘n sporadiese plaag van sonneblomme. Die insek het ‘n baie wye verspreiding en kom derhalwe oor die hele sonneblomverbouingsgebied voor.

Volwasse valsstinkbesies is grys-bruin en sowat 4 mm - 6 mm lank (Foto 1). Nimfe wat uit die eiers broei, is klein en kan skaars met die blote oog gesien word. Die nimfe vervel ‘n paar keer voordat volwassenheid bereik word.

Die volwassenes, sowel as al die nimfstadiums, suig plantsappe uit die stam, blaarstele, blare en sade van sonneblom. Skade aan sonneblom word egter gewoonlik aangerig deur volwassenes wat van buite in die lande invlieg.

Sonneblom word hoofsaaklik op drie stadiums deur valsstinkbesies aangeval:

  • Enkele gevalle waar saailinge beskadig is, is aangemeld. Indien groot getalle valsstinkbesies op saailinge voorkom, kan saailinge afsterf.
  • Indien hewige infestasies tydens die knopstadium voorkom (Foto 2), sterf enkele plante in die land af.
  • Ekonomiese verliese word gelei wanneer hewige besmettings tydens en net na die saadvulstadium voorkom. Waar sade beskadig word, is dit selde op die swart saadhuid sigbaar. Wanneer die saad afgedop word, is suigmerkies op die saadlobbe sigbaar (Foto 3). Beskadigde sade is ligter, die olie-inhoud laer en groei- en kiemkragtigheid swakker.

image

Valsstinkbesies kom op ‘n baie wye reeks gasheerplante voor en hulle verkies om op verskeie algemene onkruidspesies te voed. In gevalle waar saailinge beskadig is, is waargeneem dat ‘n land met baie onkruid aangrensend tot die sonneblomland kort tevore bewerk is. Met die verwydering van hul natuurlike gasheerplante is die naburige sonneblomland toe deur hierdie valsstinkbesie geïnfesteer.

Waar infestasies op ‘n latere tydstip plaasvind, is dit gewoonlik net nadat produsente onkruid op die wenakkers van die sonneblomlande of aangrensende lande ingewerk het. Onkruide sterf teen die einde van die produksieseisoen af en laat-aangeplante sonneblom kan dan deur valsstinkbesies afkomstig uit hierdie onkruide geïnfesteer word.

Navorsing het getoon dat hierdie stinkbesie onkruidspesies soos Kaapse misbredie, withondebossie, vaalskraalhans en porslein bo sonneblomme verkies. Indien hulle dus ‘n keuse sou hê, sou hulle nie sonneblomme verkies nie, maar onkruid.

Beheer

Valsstinkbesies vlieg van buite in lande in om saailinge en jong sonneblom te infesteer. Dit word derhalwe aanbeveel dat ‘n sistemiese middel gespuit word om ‘n hewige en ook moontlike herinfestasie hok te slaan. Tydens blom moet beheer liefs uitgestel word aangesien die meeste insekdoders ook dodelik is vir bye, wat nodig is vir die bestuiwing van sonneblom.

Die meeste skade aan sonneblomsade word aan die punt verste van die aanhegting aan die kop gedoen (Foto 3). Ná bestuiwing neem dit langer as ‘n week vir die saadlobbe om in die saadhuid in te groei.

As in gedagte gehou word dat sonneblomme van die buiterand van die kop, na binne blom, is dit ongeveer gelykstaande aan die tydperk wat dit vir sommige kultivars neem om klaar te blom. Gedurende die periode hierna vind saadvul en fisiologiese rypwording plaas waartydens die koppe afwaarts buig en ook baie vatbaar vir beskadiging deur die valsstinkbesie is.

Beheer word bemoeilik indien die koppe reeds hang en die insekte in die koppe voorkom. Die tyd van insekdodertoediening is dus baie belangrik vir effektiewe beheer. Die beste tyd vir beheer is in die paar dae ná blom, voordat die koppe afwaarts buig. ‘n Insekdoder met ‘n lang nawerking moet dan toegedien word. Sodoende word daar verhoed dat daar té vroeg en voordat skade aangerig word, gespuit word. Daar word aanbeveel dat beheer tot op die laatste uitgestel word om die tydperk vir moontlike herinfestasie ná bespuiting te verkort.

Die beste manier van beheer bly egter steeds voorkoming. Om migrasie van valsstinkbesie vanuit natuurlike gasheerplante (onkruide) na sonneblomme te beperk, moet onkruidbeheer tussen die rye, om lande en in aangrensende oorlêlande liefs uitgestel word tot nadat die sonneblomme geoes is.

Publication: January 2012

Section: Wenartikels

Search