• Login
  • Search Icon

Onkruid in die winterreënvalstreek: Deel 5

October 2014

Ramenas (Wild radish)

image

PJ PIETERSE, Departement Agronomie, Universiteit van Stellenbosch

Wetenskaplike naam: Raphanus raphanistrum
Afrikaanse naam: Ramenas
Engelse naam: Wild radish

image

Daar kom twee Raphanus-spesies in Suid-Afrika voor, maar net Raphanus raphanistrum (ramenas) veroorsaak probleme in gewaslande.

Dit word algemeen beskou as die belangrikste breëblaar-onkruid in gesaaides in die winterreënvalstreek. Soms word dié spesie met van die wildemostert-spesies (Rapistrum rigosum, Sysimbrium capense en S. thellungii) in die vegetatiewe stadium verwar. Wanneer dit reeds vrugte gevorm het, kan ramenas egter maklik onderskei word deurdat die vrugte wat soos peule lyk, diep insnoerings tussen die sade het wat veroorsaak dat dit later in enkelsadige dele opbreek.

Ramenas is ‘n strawwe kompeteerder en in Australië is gevind dat 60 ramenasplante/m² die droëmassa van koring met 45% - 55% verlaag by ‘n koring-plantdigtheid van 100 plante/m². Indien die koring-plantdigtheid egter opgestoot word na 400 plante/m² is die droëmassaverliese slegs 20% - 25%, wat illustreer dat hoër gewasdigthede ‘n positiewe invloed op kompetisie met onkruid het.

Soortgelyke tendense is waargeneem in terme van koringopbrengs, waar 60 ramenasplante/m² die opbrengs van koring teen ‘n digtheid van 100 plante/m² met 50% verlaag het, van ongeveer 4 ton/ha na 2 ton/ha.

By ‘n plantdigtheid van 400 koringplante was die verlaging egter net ongeveer 22% – van ongeveer 4,8 ton/ha na ongeveer 3,75 ton/ha. (Die data is verkry van die artikel deur Eslami, S.V., Gill, G.S., Bellotti, B. en McDonald, G.: Wild radish (Raphanus raphanistrum) interference in wheat in Weed Science 54: 749 - 756, 2006.)

Ramenas is een- of tweejarige plante wat bestaan uit ‘n onderste blaarroset met stewige blaarwortels. Wanneer dit reproduktief raak, vorm dit ‘n regopvertakte stingel wat tot 90 cm hoog kan groei. Die stingels is grof en fyn geriffeld met stywe hare op die onderste gedeeltes.

Die rosetblare en die onderste blare op die stingel is enkelvoudig, gesteeld en diep gelob, liervormig (die boonste lob is groter as die ander) met getande rande, harig en tot 20 cm lank en 5 cm breed.

Die boonste stingelblare is ook enkelvoudig, maar sittend (sonder ‘n steeltjie), afwisselend gerangskik, donkergrysgroen en gelob. Blomme kom voor in lang, eindstandige trosse, gewoonlik geel en soms met donker are.

‘n Klein persentasie van plante dra wit blomme met perserige are. Die vrugte lyk soos peule, maar is in werklikheid houtjies (silikwa) wat tussen die sade ingesnoer is. In die volwasse stadium is dit houtagtig, dit spring nie oop nie, maar breek op in eensadige segmente wat nie baie opvallend is in koringsaad nie. Dit kan tot 6 cm lank wees. Die skerp gepunte, koniese, saadlose voorste gedeelte van die vrug is 1,2 tot 3 cm lank. Sade is donkerbruin en afgeplat en tot 3 mm lank.

Voorkoms en verspreiding

Ramenas kom wydverspreid in Suider-Afrika voor. Dit veroorsaak veral probleme in koringlande in die Wes- en Suid-Kaap, in die oostelike Vrystaat en tot ‘n mindere mate in die Noordwes Provinsie.

Ramenas is waarskynlik die belangrikste breëblaaronkruid in gesaaides in die winterreënvalstreek, hoofsaaklik omdat dit soos raaigras onder die grasonkruide, baie geneig is tot die ontwikkeling van weerstand teen verskeie onkruiddoders. Dit is ook 'n probleem in boorde en wingerde in die Boland.

Ramenas plant slegs met saad voort. Die sade is redelik groot en kan van diep af ontkiem. Ramenas kan enige tyd van die jaar ontkiem alhoewel daar ‘n hoogtepunt in herfs is, ná die eerste reëns.

Een ramenasplant kan tot 300 sade produseer en in digte stande is daar al saadproduksie van 45 000 sade/m² gemeet. Ramenassaad kan dormant bly in die grond vir etlike jare. Hoe dieper dit begrawe is, hoe langer oorleef dit.

Van die saad wat 10 cm diep begrawe is, was 45% nog lewendig ná vier jaar. Daarna het getalle vinnig verminder tot lae vlakke ná ses jaar. Meeste saad bo-op die grondoppervlakte het vergaan binne die eerste jaar of twee, maar sommiges het ook vyf jaar lank oorleef. Slegs 5% van die saad wat in die boonste grondlae onversteurd gelaat was, het in die eerste seisoen ná saadrypwording ontkiem, terwyl ongeveer 20% ontkiem het ná ‘n 1 cm diep bewerking in die herfs (inligting van www.herbiguide.com.au).

Beheer

Chemiese beheer
Die lys van onkruiddoders wat vir ramenas geregistreer is, wat genoem word in die publikasie A guide for the chemical control of weeds in South Africa, word in Tabel 1 aangetoon. Daar is ook ‘n paar onkruiddoders en toepassings bygevoeg wat geregistreer is nadat die gids gepubliseer is asook sommige nie-selektiewe onkruiddoders wat nie spesifiseer watter onkruidspesies beheer word nie, maar wat wel effektief teen ramenas is as daar nie weerstand is nie.

image

Dit is noodsaaklik dat produsente en/of chemiese vervaardigings- en bemarkingsmaatskappye probeer vasstel wat die weerstandstatus van ramenas in ‘n land is voordat onkruiddoders daarop toegedien word. Indien daar nie weerstand teen ‘n spesifieke onkruiddoder is nie, moet sorg gedra word dat die onkruiddoder onder goeie spuittoestande en die korrekte dosis toegedien word op onkruid wat nie groter as die vierblaar-stadium is nie.

Té hoë en te lae dosisse veroorsaak hoë seleksiedruk vir teikensetel- en nie-teikensetelweerstand onderskeidelik. Wissel ook die gebruik van ‘n effektiewe onkruiddoder so gereeld as moontlik af met ander onkruiddoders wat ‘n ander werkswyse het (wat met ander woorde in ‘n ander werkswyse groep val). In Tabel 1 word aangedui teen watter onkruiddoders wat geregistreer is vir die beheer van ramenas, daar reeds bewese of vermoedelike weerstand waargeneem is. Ramenas is die breëblaaronkruid wat die meeste weerstand teen onkruiddoders ontwikkel het in Suid-Afrika sowel as in Australië.

In Suid-Afrika is daar al in 1997 weerstand gevind teen verskeie middels wat behoort aan die ALS-inhibeerders (Groep B). Later is daar ook weerstand teen bromoxynil (Groep C3), MCPA (Groep O) en carfentrazone-ethyl (Groep E) waargeneem.

Daar is goeie rede om te vermoed dat daar ook in die Wes-Kaap weerstand teen glifosaat (Groep G) is, maar dit is nog nie onbetwisbaar bewys nie. In Australië is weerstand ontwikkel teen ALS-inhibeerders (Groep B), karotenoïed biosintese inhibeerders (Groep F1), fotosisteem II inhibeerders (Groep C1), sintetiese ouksiene (Groep O) en EPSP-sintase inhibeerders (Groep G).

image

Alternatiewe beheer
Met die oog op die voorkoming en bestuur van onkruiddoderweerstand is dit noodsaaklik dat daar nie net op chemiese beheer staatgemaak word nie. Daar is verskeie nie-chemiese metodes van ramenasbeheer wat hoofsaaklik daarop gemik is om die oordrag van saad na die saadbank te voorkom. Die volgende metodes kan gebruik word om saadoordraging na die saadbank te verminder (die persentasie in hakies verwys na die verwagte vermindering in saadoordraging indien die betrokke aksie uitgevoer word – syfers verkry vanaf www.ahri.uwa.edu.au): Saadvang agter stroper (75%), tandbewerking en vertraagde saai (50%), beweiding (35%), hoë gewassaaidigtheid (40%), spraytopping (55%), groen/bruin-bemesting (98%), hooisny (80%) en platsny (35%). Vir meer metodes om weerstand te bestuur, word verwys na die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand wat by enige van die chemiese vervaardigings- of bemarkingsmaatskappye beskikbaar behoort te wees.

Bedankings en verwysings

Die volgende persone het die artikel krities deurgelees en voorstelle ter verbetering gemaak waar nodig: Prof Andy Cairns (Universiteit van Stellenbosch), dr Erik Eksteen (Syngenta), mnre Org Lotter (Bayer CropScience), Jim McDermott (Du Pont), Hannes Schoeman (Monsanto), Frik Potgieter (Nulandis) en Dirk van Eeden (Terason).

Die lys van geregistreerde onkruiddoders is verkry vanuit die publikasie: A Guide to the chemical control of weeds in South Africa: A CropLife South Africa Compendium. Bestel by info@cropsolutions.co.za of 011 079 4199.

Inligting is ook verkry vanuit die boek Onkruide in gewasse en tuine in Suidelike Afrika en is beskikbaar by die LNR-Instituut virGraangewasse, Privaat sak X1251, Potchefstroom 2520. KontakMary James by 018 299 6253 of JamesM@arc.agric.za.

Die boek Probleemplante en indringeronkruide van Suid-Afrika deur Clive Bromilow is ook geraadpleeg en is beskikbaar by diemeeste boekhandelaars of raadpleeg die webtuiste van die uitgewers: www.briza.co.za.

Lesers kan die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand ook in PDF-formaat verkry van die skrywer van hierdie artikel by pjp@sun.ac.za. Ditis ook (in Engels) beskikbaar by die CropLife SA webtuiste (www.croplife.co.za).

Publication: October 2014

Section: On farm level

Search