• Login
  • Search Icon

Novembermaand in die grondboonland

November 2013

LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Planttyd bring ‘n gevoel van afwagting en hoop dat die seisoen wat voorlê goeie vrugte sal lewer. Dit hang egter van die produsent en sy beplanning af wat die potensiaal vir die grondboonoes gaan wees.

Wisselbou

Goeie beplanning begin by ‘n goeie wisselboustelsel waar daar in ag geneem is dat grondbone slegs ná drie tot vier jaar weer op dieselfde stuk grond geplant mag word. Die rede hiervoor is om siektes asook nematodes te beheer.

‘n Goeie wisselbouprogram vir grondbone sal soos volg lees: Jaar 1 – grondbone; Jaar 2 – mielies; Jaar 3 – sonneblom/sojabone/mielies; Jaar 4 – mielies/grondbone (slegs as die vorige jaar ook mielies geplant is).

Daar moet in gedagte gehou word dat wisselbou voordelig is vir die opbou van landbougrond en indien dit reg bestuur word, baie meer winsgewend vir die produsent self is.

Grondvog en -temperatuur

Grondvog en -temperatuur is twee van die belangrikste faktore wat ontkieming van grondboonsaad beïnvloed, maar kan ook die onvoorspelbaarste wees. As daar nie vog beskikbaar is binne die voorgeskrewe plantdiepte van 5 cm tot 7 cm nie, sal die kiemingsproses nie begin nie en sal die grondboon dormant bly tot daar voldoende vog beskikbaar is. Dit is dus wenslik om in klam grond te plant.

Daar moet gewaak word om nie agter vog aan te plant en sodoende die plantdiepte aan te pas nie, aangesien dit ‘n vorm van operding veroorsaak wat op die uiteinde oesverliese veroorsaak.

Dit is voordelig om ‘n oog op weervoorspellings te hou om moontlike nadelige koue tydperke te omseil en daarvolgens plantdatums te beplan. Dit is uiters belangrik om grondtemperature in ag te neem aangesien ‘n daling onder 15°C skade aan die ontwikkelende saad veroorsaak.

Ontkiemende grondboonsaad is op sy gevoeligste binne die eerste 48 uur na-plant aangesien dit die tydperk is waar daar wateropname plaasvind wat die chemiese reaksies binne die saad aanskakel. As daar gedurende hierdie tydperk ‘n koue skok plaasvind, kan daar ‘n onderbreking in die chemiese reaksies plaasvind en skade aan selwande veroorsaak word, wat loging van stowwe vanuit die selle sal laat plaasvind.

Dit alles lei daartoe dat die kiemplantjie seerkry en daar dus ‘n verswakte plantjie ontwikkel. In sommige gevalle is die skade so groot dat die kiemplantjie sterf. Verswakte plantjies is ook meer vatbaar vir saailingsiektes, soos verwelksiektes en Aspergillus-kroonvrot, daarom is dit ook uiters belangrik dat korrekte saadbehandeling toegepas moet word.

Voorbereiding

Grondvoorbereiding is baie belangrik vir die produksie van ‘n goeie gehalte grondboonoes. Gronde wat goeie waterhouvermoë het, goed gedreineer is en maklik deurdringbaar is vir die grondboonwortels, is alles positiewe punte vir goeie produksievooruitsigte.

Onthou dat ‘n fyn, gelyk saadbed bevorderlik is vir gelyke ontkieming wat lei tot goeie, eenvormige plantestand. ‘n Korrekte gekalibreerde planter wat op die korrekte plantdiepte gestel is, dra ook by tot ‘n goeie, eenvormige plantestand.

Om planterspoed in gedagte te hou, is ook belangrik aangesien ‘n gejaag na wind net probleme inhou en veroorsaak dat daar meer splits geplant word as heel grondboonsaad.

Voeding

Die voedingstatus en pH van die grond loop hand aan hand. Daar is dalk voldoende voedingstowwe in die grond teenwoordig, maar dit is nie noodwendig beskikbaar vir die grondboon nie.

Grondbone is verdraagsaam teen lae pH-peile, maar ‘n te suur grond benadeel die vorming van wortelknoppies en dus die binding van stikstof. Alhoewel ‘n pH van 5,5 in H2O of 4,5 in KCl nog aanvaarbaar is, behoort daar gestreef te word na ‘n pH van 6 in H2O of 5 in KCl.

Daar moet ook in gedagte gehou word dat kalk gebruik word vir die regstelling van pH en dat die kalsium binne die kalk oor ‘n baie lang tydperk vrygestel word. Hierdie kalsium is nie altyd so maklik beskikbaar vir die grondboon om op te neem nie, daarom word daar aanbeveel dat daar wel ook gips toegedien word teen 300 kg/ha tot 700 kg/ha, breedwerpig om aan die grondboonplant se kalsiumbehoeftes te voorsien.

Gips is die beste bron van kalsium vir grondbone aangesien dit hoogs oplosbaar is en maklik binne die boonste 10 cm van die grondlaag kan inbeweeg waar die grondboon dan in staat is om die kalsium direk deur die peul op te neem.

Blaartoedienings van kalsium het nie die gewenste uitwerking nie, aangesien die grondboonplant kalsium direk deur die peulwand opneem en kalsium nie afwaarts binne die grondboonplant verplaas word nie.

Onkruidbeheer

Die korrekte toediening van voor-opkoms onkruiddoders is baie belangrik om goeie onkruidbeheer binne grondboonlande te bewerkstellig, daarom is dit baie belangrik om met die samewerking van ‘n chemiese verteenwoordiger die korrekte chemiese middels te kies.

Daar moet streng gehou word by middels wat op grondbone geregistreer is, aangesien daar swaar klem gelê word op naspeurbaarheid binne die grondboonbedryf. Hou by die korrekte dosering en toedieningsmetodes om die beste resultate te verkry. Voorsorg is altyd beter as nasorg.

Onder besproeiingsprodusente is daar ‘n gebruik om voor-opkoms onkruiddoders “in te was” na-toediening. Daar moet baie versigtig te werk gegaan word om te verhoed dat daar nie ‘n mikro-koueskok toegedien word in die vorm van koue besproeiingswater nie en sodoende onnodige probleme geskep word nie.

Dit is beter om voor-plant voldoende besproeiing toe te dien en in nat grond te plant; waar voor-opkoms onkruiddoders dan op klam grond toegedien kan word. Poog ook om besproeiingsaanplantings nie binne die eerste vier dae na-aanplanting te besproei nie, om sodoende moontlike nadelige effekte van koue besproeiingswater uit te skakel.

Goeie beplanning en uitvoering daarvan verseker ‘n goeie plantaksie vir grondbone. Toepassing van sorg gedurende die aanplantingsproses verseker sterk, gesonde plante wat die potensiaal het vir ‘n goeie oes.

Publication: November 2013

Section: Input Overview

Search