• Login
  • Search Icon

Nou verstaan ek beter

August 2014

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Die 2014-klas van die Graan Akademie wat Graan SA saam met Syngenta aanbied, het op 20 Junie vanjaar in Bloemfontein gegradueer. Daardie Vrydag moes die manne en een vrou die resultate van hul projekte waaroor hulle navorsing gedoen het, aan ‘n paneel voorhou.

Die onderwerpe was baie uitdagend: Grondhervorming, hoe om kommunale grond in produksie te kry en water in landbou. Alles in Engels! Om die energie en innoverende jongmense te beleef, was voorwaar vir my ‘n voorreg.

Ons drome om so iets aanmekaar te sit, is by verre oortref. Ek het sommer weer nuwe moed vir ons landbou se toekoms gekry met die aanhoor en waarneming van die geleentheid. Hierdie is ‘n baie kosbare belegging in ons land se mense wat nog baie rente in die toekoms gaan oplewer.

Elke student moes ook aan die einde van die aand ‘n voorneme voor almal uitlees oor wat hulle met die nuwe kennis gaan doen. Dit is waarvoor ek leef: Om jongmense te sien visie vang en as nuwegenerasie-leiers verantwoordelikheid vir die land se toekoms te neem! As elke vennootskap met ons insetverskaffers sulke resultate oplewer, gaan daar maar min dinge wees wat ons kan terughou.

Op 26 Junie vanjaar het so 16 van die Graan SA-personeel van die Pretoria-kantoor insluitende myself, in ‘n konvooi na Moedverloren Boerdery vertrek. Die missie vir die dag was om eerstehands te sien hoe daar gestroop word in so ‘n mooi jaar. Mnr Neels Ferreira het eers saam met sy kunsmisadviseur van Omnia vir die groep verduidelik wat presisieboerdery is en daarna kon almal ‘n draai ry met ‘n trekker wat sommer self ry. Party kon darem, onder die wakende hand van die eienaar, self ook die trekker bestuur. Ander het weer die kans gebruik om met ons hedendaagse plaaswerkers te praat wat sulke duur toerusting met gemak kan hanteer.

Vir sommige was dit ‘n eerste keer op ‘n kommersiële plaas. Sommige was nog nooit in 'n stroper, of het nog nooit gesien waar al die mielies vandaan kom nie. Aan die einde van die dag het elkeen ‘n kans gekry om sy/haar eie ervaring met die ander te deel oor wat hulle beleef het. Al het elkeen ‘n unieke ervaring dié dag beleef, het ons almal huis toe gekom met ‘n baie beter begrip van waaroor kommersiële boerdery nou eintlik gaan. Die heerlike pap en vleis waarmee ons bederf is, is ook sommer baie meer waardeer. Ons kan nie die toekoms met selfvertroue ingaan as ons nie voortdurend in ons mense belê nie.

Junie vanjaar was ‘n maand met baie grofgeskud oor grondhervorming. Die felheid van die debat dra selfs spanning onder die geledere van georganiseerde landbou in. Geharde leiers in landbou begin kop krap en dit is nou die tyd om kop te hou! Dis nie so moeilik om leierskap toe te pas as dit redelik maklik gaan nie, maar as die bulte begin steil raak en die berge hoër, dán is dit tyd vir die ware leiers om op te staan.

Dankie vir al die bemoediging wat ons hier by die kantoor ontvang en die versekering dat julle vir ons bid. Een van my jarelange mentors het lank gelede vir my die les geleer van: Benoude perde maak benoude spronge. “Kalm bly, Jannie Div” was sy raad. Dit is nou sulke tyd!

Ons gaan ‘n baie uitdagende seisoen binne ten opsigte van grondhervorming en die volgende vier jaar sal deurslaggewend vir die toekoms wees – nie net vir landbou nie, maar ook vir die land. Wat egter soos ‘n paal bo water staan, is dat almal wat onderhandel (en selfs dié wat nie onderhandel nie) steeds drie keer per dag moet eet. Dít is ons behoud.

Publication: August 2014

Section: Features

Search