• Login
  • Search Icon

NAMPO Oesdag bly die antwoord op al jou tegnologie vrae

30 Apr 2013

Soos boerdery en die natuur hand aan hand gaan, het die Graan SA NAMPO Oesdag en tegnologie ʼn noue band. Met meganisering wat toeneem, is dit vir die produsent belangriker as ooit om die NAMPO Oesdag vanaf 14 tot 17 Mei 2013 te besoek.

Tegnologie vir volhoubare produksie" is 2013 se Oesdagtema en dit sluit aan by die feit dat boerderye al meer meganiseer. "As jy tyd, wat ʼn baie 'duur' woord in landbou is, wil bespaar en meer effektief te werk wil gaan op jou plaas, is tegnologie in jou boerdery die antwoord," het Cobus van Coller, voorsitter van die NAMPO Oesdag, gesê.

Volgens Jannie de Villiers, Graan SA se Uitvoerende Hoofbestuurder, bied die organisasie se Oesdag jou die geleentheid om al die insetverskaffers in landbou met mekaar op een plek te vergelyk en só die beste keuse uit te oefen. "Dit is 'n groot netwerkgeleentheid vir alle rolspelers in die bedryf en dit skets ook die landbouprentjie vir diegene buite die landbouwerf deur ʼn vertoonlokaal," het hy gesê.
Die eerste fase van die 8 000 m2-uitbreiding by die suidelike parkeerarea is voltooi om vir die uitstallers wat jaarliks aan die Oesdag deelneem, meer ruimte te bied vir hul produkte, dienste en tegnologie. Die bykomende uitstalruimte help ook om nuwe uitstallers te akkommodeer wat waarde kan toevoeg tot tegnologie in landbou.

Internasionale belangstelling, asook besoekers vanuit die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)-lande raak by die jaar meer. 45 internasionale uitstallers vanuit Australië, Argentinië, Brasilië, Denemarke, Duitsland, Israel, Italië, Turkye en die VSA maak deel uit van die meer as 600 uitstallers.


Die eerste amptelike Graan SA, BKT en Tubestone Nasionale Ploegkompetisie word vanjaar by die Oesdag aangebied. "Die wenner, asook tweede- en derdeplekwenners van die vier streekskompetisies wat reeds plaasgevind het, sal kwalifiseer om aan die finaal deel te neem. Die wenner by hierdie kompetisie sal die eerste Suid-Afrikaanse ploegkampioen wees en sal Suid-Afrika by die Wêreld Ploegkampioenskappe in Frankryk in 2014 verteenwoordig.


Die Graan SA/Omnia Boerepatentkompetisie trek ʼn nuwe baadjie aan met die viering van sy 25ste bestaansjaar. Slegs drie afdelings (die vorige kategorieë val weg) maak vanjaar deel uit van dié kompetisie. Groter pryse is op die spel en daar sal slegs om ʼn eerste en tweede plek meegeding word.


Vir die vee-entoesiaste sal daar daagliks statiese vertonings en bekendstellingsparades aangebied word deur telergenootskappe. Wanneer jy klaar die viervoetige vriende besoek het, maak gerus ʼn draai by jou vierwiel-vriende. Voertuigvervaardigers sal daagliks by die 4x4-baan hul voertuie se kraglewering demonstreer en persone sal self die geleentheid kry om as passasier ʼn rit mee te maak.
Die manne moet hul vrouens herinner aan die verskeidenheid van inkopiegeleenthede wat beskikbaar gaan wees. Moet ook nie nalaat om die interessante aanbiedings en demonstrasies wat in die SAMPI-saal aangebied word, by te woon nie. Die volledige damesprogram kan by www.nampo.co.za onder Damesprogram afgelaai word.


Die modeparade word vanjaar in die SAMPI-saal gehou, terwyl Klub 200 deel word van die Fanie Ferreira-saal, waar aansitetes bedien sal word. Die teetuin wat altyd by die Fanie Ferreira-saal was, skuif nou na Klub 200 se stoep.


Volopbetaalde lede van Graan SA kry al vier dae gratis parkering en vervoer sal beskikbaar wees van die ingangshek na die ledelokaal en terug. Lede kan hul uitnodigings deur die pos te wagte wees wat al die inligting oor die eksklusiewe parkeerterrein en elektroniese toegang by beide die parkeerterrein en toegangshek bevat. Vir die lede is daar by die ledelokaal van vroegoggend tot sluitingstyd koffie, beskuit, eetgoed en iets koel om te drink.


Bly op hoogte van al hierdie opwinding deur vanaf 14 tot 17 Mei tussen 07:00 en 19:00 in te skakel by Graan SA Radio (99.2 FM), wat in ʼn radius rondom NAMPO Park opgevang kan word.
Vermy lang toue by toegangshekke en koop jou toegangskaartjie vooraf by uitgesoekte Engen diensstasies en landbou-agentskappe asook Senwes Villages. Toegangskaartjies beloop R80 per persoon vir bywoning op Dinsdag en Vrydag en vir Woensdag en Donderdag kos dit R90 per persoon.


Hekke open om 07:00 en sluit weer om 17:00. Neem asb kennis dat geen troeteldiere, fietse, karretjies of motorfietse op die terrein toegelaat word nie. Besoek gerus die NAMPO Oesdag webblad by www.nampo.co.za vir meer inligting.