• Login
  • Search Icon

CROPLIFE Suid-Afrika vra vir verantwoordelike kommandowurmbestuur

26 Feb 2014
Die eerste berigte oor kommandowurmuitbrake is die afgelope naweek aangemeld vanuit die Noordwes en Limpopo Provinsies. Kommandowurms het kop uitgesteek in die Windsorton-Majeng gebied, Potchefstroom en ook rondom Letsitele. Dit is te verwagte dat verdere uitbrake ook aangemeld sal word na gelang die weersomstandighede gunstig raak vir die eiers om uit te broei. Kommandowurms het verlede jaar in een van die grootste uitbrake in dertig jaar in Suid-Afrika voorgekom.

CropLife Suid-Afrika (CLSA), wie se lede landboumiddels aan die landbousektor lewer, is bekommerd oor die moontlike negatiewe nagevolge as produsente oorhaastig plaagdoders toedien wat die omgewing, en veral trekvoëls, kan benadeel. Daar is verskeie plaagdoders vir die beheer van kommandowurms geregistreer. Sommige daarvan is slegs vir gebruik in gewasse terwyl andere weer in weidings en weiveld gebruik mag word.

Produsente word versoek om landswyd, veral in die area noord van die Oranjerivier, ondersoek in te stel of daar wel kommandowurms op hul plase uitgebroei het. Die wurms vertoon amper swart van kleur met ‘n groen streep op die rug oor die lengte van die lyf. Hulle is ongeveer 30 mm lank en kom ‘n groot getalle voor. Baie van die trekvoëls soos ooievaars en valkies maak jag op kommandowurms en sal beslis ‘n dempende effek op die wurms hê. Plaaslike standvoëls soos lelspreeus kan kommandowurms ‘n stewige nekslag toedien. Dit is dus noodsaaklik dat produsente plaagdoders kies wat nie die voëls sal benadeel nie.

Dit is wenslik om kommandowurms onmiddelik te beheer as die moontlikheid bestaan dat hulle kontantgewasse, veral onder besproeing, kan invaar en skade aanrig. In veldtoestande moet produsente probeer om saam met voëls die bevolkings onder beheer te hou. Kleiner uitbrake waar daar wurms slegs in enkele kolle voorkom, moet liefs aan voëls en ander wilde diere oorgelaat word.

CropLife SA versoek ook alle produsente om net middels te gebruik wat wel vir kommandowurms geregistreer is. Vermy plaagdoders wat giftig vir voëls en reptiele is sodat daar nie negatiewe impakte op die natuur ontstaan as gevolg van kommandowurmbeheer nie. Kontak gerus die Griffon Gifinligtingsentrum op 082-446-8946 vir inligting oor middels wat die wurms kan beheer met die minimum impak op die omgewing. Lugbespuiting mag slegs gedoen word met middels wat wel daarvoor geregistreer is.

Produsente word ook aangeraai om hul mede-produsente oor enige uitbrake in te lig asook om sulke inligting na hul plaaslike landbouverenigings deur te gee ten einde alle produsente daaroor in te lig.

Dit is ook belangrik dat produsente kennis neem van die onttrekkingsperiodes van die onderskeie landboumiddels wat vir kommandowurmbeheer geregistreer is. Indien sulke middels aangewend is, moet vee uit die area verwyder word tot en met die onttrekkingsperiode verby is. Dit is dus ook wenslik om slegs die kolle waar die wurms vookom, te behandel en nie totale weidingsgebiede te bespuit nie.

Produsente kan op die CLSA webwerf die lys van alle insekdoders gaan lees waarin al die geregistreerde plaagdoders vir kommandowurmbeheer wel aangeteken is: http://www.croplife.co.za/Portals/13/Croplife_Documents/Insecticides.pdf. Maak die blad oop, klik op die regterhandse knoppie van die muis, klik dan op “find” om die soekfunksie oop te maak. Tik dan “army worm” in en klik daarna op “next” sodat die produkte een na die ander kan verskyn. Kyk veral onder “veld and grazing” en “pastures” vir toepaslike produkte. Die peritroiede is algemeen beskikbaar, sal die wurms onder beheer bring en feitlik geen skade aan dierelewe aanrig nie. Moet net nie naby water spuit nie omdat peritroiede uiters skadelik vir paddas en vis is.

Produsente word aangeraai om hul landboumiddels by agente aan te koop wat CLSA ledekaarte dra – dit bring gemoedsrus dat produsente hul landboumiddels by kundige agente aankoop wat kundigheid oor die middels en verantwoordelike plaagbeheer het.

Vir verdere inligting kontak:
Dr Gerhard Verdoorn 082-446-8946 of nesher@tiscali.co.za.