• Login
  • Search Icon

Navorsing op watertafel-sandgronde van die Noordwes-Vrystaat
Deel 3: Agtergrond en proefbehandelings: Wisselboustelsels en bewerking

October 2017

Dr Danie Beukes, onafhanklike grondkundige en Carel Koch, onafhanklike landboukundige

Die semi-ariede sandgronde van die Noordwes-Vrystaat het ontwikkel uit Eoliese moedermateriaal en is sowat 1,8 miljoen tot 5 miljoen jaar gelede afgesit op ‘n paleo-oppervlak wat bestaan het uit swak gedreineerde kleierige verweringsprodukte van doleriet, moddersteen, kalkreet en skalie. Die vernaamste kenmerke van hierdie sandgronde wat aangespreek moet word wat suksesvolle ontginning en bewaring betref, is winderosie, gevoeligheid vir verdigting, lae waterstoor­vermoë van die bogrond, inherente lae voedingstatus en lae orga­niese materiaalinhoud.

Die vermoë van die ondergrond om ‘n tydelike watertafel te vorm bokant die paleolaag asook die vinnige waterinfiltrasie deur die bo­grond, skep ‘n waterreservoir wat verantwoordelik is vir die stabiele opbrengste in hierdie wisselvallige reënvalgebied. Geskied­kundig is koring op tot 50% van die bewerkte oppervlak in die middel en westelike dele van die streek verbou en grondbone tot 15% in die noordelike gedeelte.

Die voordeel van koring en mielies is gedemonstreer in verbeterde opbrengste. Koring se gewildheid het afgeneem met die voorkoms van swak herfs- en/of vroeë somerreëns gedurende die 1960’s tot vroeë sewentigs.

Grondbone het goed in wisselbou met mielies presteer, maar die onbedekte oppervlak wat na die oes van die bone agtergelaat is, het soms ernstige winderosie tot gevolg gehad. Met die suksesvolle toepassing van ‘n stoppeldeklaag en skeur­ploegbewerking (rip-op-ry) op mielies deur Koch (1974), het die toepassing van spoorverkeer met ‘n stoppeldeklaag wyd inslag gevind en het grondbone weens die erosieprobleem minder gewild geraak.

Wat eers as ‘n potensiële woestyn gesien is, het in die opvolgende tien jaar een van die mees konstante mielieproduserende gebiede in Suid-Afrika geword. Die voordele wat in wisselboustelsels opgesluit lê, het egter agterweë geraak as gevolg van die gebrek aan geskikte alternatiewe en ekonomies-aanvaarbare gewasse.

Met die implementering van die beginsels van bewaringslandbou in Suid-Afrika, asook die afname in winsgewendheid en toename in produksierisiko’s by monokultuur-graanverbouing in die 1990’s, het nuwe belangstelling in wisselboustelsels ontwikkel (Nel, 2005). Bennie et al. (1995) met ‘n koring/mieliewisselbou, Gentry et al. (2001), Varvel en Wilhelm (2003), asook Loubser en Nel (2004) met mielie/sojawisselbou het almal voordelige mielie-opbreng­ste bewys.

Liebenberg (2012) het bevind dat die verhoogde mielieopbrengs nie net aan meer beskikbare stikstof (N) toegeskryf kan word nie, maar ook aan verhoogde mikrobiologiese aktiwiteit, asook verminderde wortelsiektes en plae wat die omvang en effektiwi­teit van die wortelstelsel verbeter het.

Die Sandgrondontwikkelingskomitee (SOK) is in 2010 gestig om bewerkingspraktyke wat volhoubare en winsgewende mielieverbouing op sandgronde met vlak watertafels onder relatiewe lae en wisselvallige reënval sou verseker, te toets. Befondsing is deur die Mielietrust op ‘n jaarlikse basis bewillig vir dié doel.

Lede van die SOK in die Noordwes-Vrystaat het besluit om wissel­boustelsels te toets wat meer gewasdiversifikasie sou meebring, met gepaardgaande beter onkruid- en plaagbeheer, beter benutting van voedingstowwe en water op verskillende dieptes, asook ver­hoogde mikrobiologiese populasies, diversiteit en aktiwiteit met die oog op die verbetering van grondgesondheid.

Drie proewe is uitgelê by mnre Danie Minnaar (Kroonstad), Lourens van der Linde (Wesselsbron) en Thabo van Zyl (Losdoorns) met Carel Koch as koördineerder. Monokultuurmielies en wisselbou van mielies met sojabone of voersorghum is met mekaar vergelyk onder twee bewerkingstelsels, naamlik diep skeurploeg (rip-op-ry) en ver­minderde bewerking.

In hierdie artikel (en die artikel [Deel 4]) word die resultate van die 2013/2014 tot 2015/2016-seisoene bespreek.

Agronomiese praktyke op proewe
Tabel 1
 bevat ‘n opsomming van agronomiese praktyke wat op die proewe gevolg is. Uit die tabel kan die behandelings soos volg saamgevat word:

Wisselboustelsels
Mielies in wisselbou met sojabone of voersorghum met monokul­tuurmielies as kontrole.

Bewerkings
Alle sekondêre bewerkings (rolmoer, V-lem of rolstaafskoffel) plus ‘n primêre diep (700 mm - 750 mm) tandem-skeurploegbewerking (rip-op-ry of slegs tussen-ry-rip).

Verminderde bewerking: Slegs sekondêre bewerkings (rolmoer, V-lem of rolstaafskoffel). Plant op vorige seisoen se mielierye. Geen primêreskeurploegbewerking nie.

Verwysings
Bennie, ATP, Hoffman, JE en Coetzee, MJ. 1995. Sustainable crop production on Aeolian sandy semi-arid soils in South Africa. African Crop Science Journal 3(1): 67 - 72.
Gentry, LE, Below, FE, David, MB en Bergerou, JA. 2001. Source of the soybean N credit in maize production. Plant and Soil 236:
175 - 184.
Koch, CD. 1974. Die invloed van sekere bewerkingsmetodes en bemestingpla­-­sing op die mielieopbrengs op Viljoenskroon en bleek­sandgrondseries. Crop Production 3: 57 - 59.
Liebenberg, AJ. 2012. Sojaboonproduksiehandleiding. LNR-Instituut vir Graan­gewasse, Potchefstroom. 159 pp.
Loubser, HL en Nel, AA. 2004. Productivity and stability of grain yield in maize and sorghum as affected by rotational cropping systems in the north western Free State. S. Afr. Tydskr. Plant Grond 21(2): 80 - 84.
Nel, AA. 2005. Crop rotation in the summer rainfall area of South Africa. S. Afr. Tydskr. Plant Grond 22(4): 274 - 278.
Varvel, GE en Wilhelm, WW. 2003. Soybean nitrogen contribution to corn and sorghum in Western Corn Belt rotations. Agron J. 95: 1 220 - 1 225.

Publication: October 2017

Section: On farm level

Search