• Login
  • Search Icon

MOMENTUM (Afr)

May 2012

image

Ek glo elkeen kan nog uit sy kinderjare onthou toe julle by die rondomtalie in die speelparkie gespeel het. ‘n Paar kinders het opgeklim en gewoonlik moes die grootste en vinnigste dan die rondomtalie begin stoot.

Eers stadig, dan al hoe vinniger soos wat die momentum toegeneem het. Dan spring hierdie kind ook op om ‘n draai of drie saam te ry totdat dit momentum verloor en hy weer moet afspring en “maak”.

Die tydsberekening was baie belangrik – as jy te vroeg afspring, dan val jy en as jy te laat afspring, verloor jy so baie momentum dat al die harde werk weer van voor af moet begin. Soms het die persoon nie saamgery nie en net gestaan en wag om weer te maak wanneer die momentum afneem.

So ‘n spelery het sy opwinding en ook risiko’s gehad. Die gegil van die meisies was groot aanmoediging vir die seuns wat gewoonlik wou afshow en dit so vinnig as moontlik gemaak het. Daar was egter ook naar word en afspring terwyl jy ry. Dit het dan partykeer tot nerfaf knieë en bloeiende handpalms gelei.

Graan SA en van die ander vennote het in 2011 met groot energie en leierskap ‘n momentum in die bedryf veroorsaak. Daaroor het ons breedvoerig op ons streeksvergaderings en Kongres en in ons jaarverslag berig. Die volgende fase is om die momentum te behou met goedberekende afspring en die regte hoeveelheid energie op die regte tyd en plekke om die momentum te behou.

Hiervoor is baie wysheid en fokus nodig. Ons verhoudings as vennote in die waardeketting is die ghries wat die wiele laat draai en die aanmoedigende gejuig van die lede en verbruikers/kliënte is die aansporing om aan te hou. Die ekstase is volhoubare produksie – winsgewendheid en markgerigtheid vir ons lede en voedselsekerheid – genoeg bekostigbare voedsel vir ‘n aktiewe lewenswyse vir ons verbruikers asook ‘n gelukkige samelewing wat in vrede hul dagtaak kan voortsit.

Daar is egter ook die risiko’s, soos die ou wat vergeet om die rondomtalie te ghries – onderhoud van die infrastruktuur en die partytjiebederwers wat die momentum stop omdat hy nie die ekstase beleef nie of bloot net jaloers is. Dan kan diegene wat die energie moet verskaf ook moeg word. Hulle kan val. Party wat saamry raak verveeld en wil afspring en ander word naar en ander boelie sommer party en stamp hulle af weens selfsug.

Waarom deel ek al hierdie herinneringe met julle? Net gewonder watter een is jy? “Maak” jy elke dag deur energie in te sit; praat jy positief en opbouend; is die pas waarteen jy hardloop volhoubaar, of gaan jy teen die tempo wat jy leef, net so twee draaie kan gee en dan is jy moeg? Of moedig jy dié aan wat leiding neem en “maak”? Of het jy vergeet om ghries in te sit of stamp jy ander af en gun hulle nie ‘n plek in die sonnige Suid-Afrika nie? Of staan jy bloot op die kantlyn en briek die spul omdat jy ander niks gun nie? Dit is jou roep watter een jy gaan wees!

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: May 2012

Section: Editorial

Search