• Login
  • Search Icon

Markvooruitsigte vir koring

February 2012

BARRETT SCHOEMAN, EKONOOM: MARKNAVORSING, GRAAN SA

VSA koringpryse is tans 19% laer as ‘n jaar gelede (Grafiek 1). Die twee belangrikste fundamentele faktore waaraan die huidige laer internasionale koringpryse toegeskryf kan word, is die swak uitvoervraag na hoër kwaliteit VSA koring en genoegsame wêreldkoringvoorraadvlakke.

image

Internasionale oorsig

Die wêreldproduksie van koring oorskry steeds die vraag na koring, met meer as 9 miljoen ton. Anders as in die geval van mielies, waar produksie nie met die toenemende groei in die vraag na mielies kan tred hou nie, blyk wêreldkoringvoorraadvlakke steeds genoegsaam te wees.

Alhoewel die wêreldvoorraadvlakke dié seisoen, volgens die USDA, nie meer aan die toeneem is nie, bly voorrade op ‘n rekordhoogtepuntvlak van 204 miljoen ton teenoor 195 miljoen ton verlede jaar (Grafiek 2).

image

Koringpryse in die internasionale mark moet meeding met mieliepryse om steeds as ‘n alternatiewe bron vir voerdoeleindes aangewend te word. Tradisioneel word mielies goedkoper as koring geprys, maar gegewe bogenoemde tekortsituasie van mielies, het mieliepryse feitlik met koringpryse geëwenaar (Grafiek 1). Gevolglik het koringpryse tans min ondersteunende fundamentele faktore en word pryse grootliks deur die bulfaktor van ‘n mielieweermark in Suid-Amerika ondersteun.

Die weermark vir die Noordelike Halfrondlande kan gedurende Maartmaand in die kommoditeitsmarkte begin posvat. Weens die relatiewe droë weerstoestande in die Noordelike Halfrond se koringproduserende lande, gaan gunstiger lenteproduksietoestande nodig wees om genoegsame koringvoorrade te verseker. Dit kan dus verwag word dat pryse sywaarts tot in Maart kan beweeg waarna prysskommelinge vanaf Maartmaand kan begin toeneem.

Uitbreiding in internasionale koringproduksie

Produsente in die VSA word tans aangemoedig om die huidige prysgeleenthede ook vir die nuwe bemarkingsjaar te benut. Die USDA projekteer dat produsente in die nuwe seisoen (2012), waarvan aanplantings in September 2011 begin het, meer winterkoring aangeplant het as verlede jaar as gevolg van die gunstiger koringprysvlakke. Verwagtinge is dat 16,97 miljoen ha winterkoring aangeplant is teenoor 16,44 miljoen ha in 2011. Die grootste uitbreiding is in harde rooi winterkoring (HRW) waar 6% meer aangeplant is as verlede jaar.

Die huidige relatief hoër internasionale koring pryse kan ook die uitbreiding van koringproduksie in die Suidelike Halfrondlande aanmoedig. Uiteindelik kan dit ten spyte van die huidige hoë koringvoorrade daartoe lei dat die produksie van koring aansienlik kan uitbrei. Gevolglik kan ‘n dramatiese daling in koringpryse teen die tweede helfte van 2012 verwag word.

Plaaslike oorsig

Alhoewel produsente in die huidige bemarkingsjaar 604 700 ha koring aangeplant het, is die aangeplante hektare die tweede laagste in 20 jaar. Tien jaar gelede het die aangeplante oppervlakte 941 000 ha beloop en was koringinvoere vir die betrokke bemarkingsjaar slegs 747 000 ton of 28% van binnelandse verbruik.

In die huidige bemarkingsjaar kan tot soveel as 1,42 miljoen ton se koringinvoere nodig wees om aan die binnelandse vraag van 2,94 miljoen ton te voldoen. Indien die koringinvoere realiseer, sal invoere 48% van die binnelandse verbruik uitmaak.

Tot dusver is daar 511 046 ton koring in week 1 tot week 16 van die 2011/2012-bemarkingsjaar ingevoer. Die meerderheid van die koring is vanaf Rusland (25%), Australië (22%) en Duitsland (21%) ingevoer. In 2010/2011 is onderskeidelik 37% en 36% van die 1,65 miljoen ton koring vanaf Argentinië en die VSA ingevoer. Die huidige hoë VSA koringprys, in vergelyking met ander uitvoerlande, lei daartoe dat goedkoper, lae kwaliteit koring vanaf lande soos Rusland ingevoer word.

Uitbreiding in plaaslike koringproduksie

Die huidige koringprys, voor planttyd gedurende April en Mei, maak die produksie van koring in sekere streke steeds moontlik. Alhoewel produsente veral in die Vrystaat die afgelope twee jaar ongunstige produksie-omstandighede beleef het en moontlik koring aanplantings kan afskaal, bied koringproduksie steeds vir produsente in sekere gebiede, veral onder besproeiing, winsgewende voordele.

Daar is dus vanjaar vir die Vrystaat droëlandprodusent twee belangrike faktore om in gedagte te hou met die aanplant van koring. Alhoewel hoë pryse ‘n bepalende faktor speel en daar voldoende ondergrondvog beskikbaar is, het die afgelope twee jaar se nie-winsgewende produksie, produsente in veral die Oos-Vrystaat negatief beïnvloed om meer of enigsins koring aan te plant. Nat toestande het die stroopproses van ko ring in die Oos-Vrystaat vertraag en groot opbrengsverliese tot gevolg gehad. Produ sente kon weens bogenoemde nie die voorgenome mielie-aanplantings in die vensterperiode voltooi nie. Wat die omvang van die koringaanplantings in die Vrystaat gaan wees, is egter nog ‘n onseker saak.

Die algemene verwagting is egter dat koringaanplantings onder besproeiing tot ‘n mate kan uitbrei indien die huidige of selfs hoër prysvlakke gehandhaaf word tot ná planttyd.

Wes-Kaapse produsente se wisselboustelsel dra daartoe by dat die produsente se koringaanplantings van jaar-tot-jaar ‘n kleiner variasie toon as produsente in die somerreënvalgebied. Indien voorafgaande prysvlakke tot ná planttyd gehandhaaf kan word, kan daar verwag word dat koringaanplantings in die Wes-Kaap weer die aanplantings van verlede jaar kan ewenaar.

Opbrengste in die Wes-Kaap is egter tradisioneel laag in vergelyking met ander produserende gebiede in Suid-Afrika. Produsente moet hoër pryse realiseer (R3 100/ton) om teen ‘n gemiddelde opbrengs van 2,5 ton/ha ‘n wins te toon van R28/ton (Tabel 1). Bogemiddelde opbrengste moet egter behaal word om teen die huidige Safex-prys van R2 800/ton ‘n wins te kan toon. Let egter daarop dat die tabel voorsiening maak vir produsente se vaste en veranderlike koste en dat dit slegs ‘n begroting is.

Die afleiding kan gemaak word dat koringprodusente wat besproei, steeds van die prysgeleentheid gebruik kan maak om pryse tot en met oestyd te bestuur en koringaanplantings vir die komende produksieseisoen uit te brei. Koringaanplantings word egter nie net deur pryse bepaal nie, maar ‘n verskeidenheid van faktore het ‘n deurslaggewende impak daarop.

image

Bepalende faktore wat koringaanplantings kan beïnvloed

Die huidige hoë prysvlakke van mielies wek onsekerheid by produsente oor die aanplant van koring. Koring se prysverhouding is gunstig, met ‘n verhouding van 2:1 as normaal beskou (Grafiek 3). ‘n Goeie mielieuitvoertempo wat tot kommerwekkende lae voorraadvlakke vir die huidige seisoen lei, het mieliepryse tot rekordhoë vlakke laat styg.

Plaaslike koringpryse het e gter nie die opwaartse tendens getoon nie, aangesien Suid-Afrika ‘n netto invoerland van koring is en pryse deur internasionale faktore, wat hoë wêreldvoorraadvlakke insluit, bepaal word. Die prysverhouding van koring tot mielies het gedaal tot ‘n verhouding van byna 1:1.

Die plaaslike prysverhouding het nie die sywaartse tendens van die internasionale prysverhouding gevolg nie, maar ‘n skerp daling getoon. Die internasionale prys van mielies en koring volg egter ‘n baie nouer korrelasie (92%), omdat beide grane meeding in die voermark. Plaaslik kompeteer mielies en koring in ‘n mindere mate tot dieselfde mark en het ‘n swakker korrelasie van slegs 55%.

image

Nuwe geleenthede vir koring

In die Wes-Kaap het koringprodusente wat nog ou seisoen voorrade het, die pryshef in die hand, aangesien veevoervervaardigers in dié provinsie geelmielies met hoë-kwaliteit broodkoring vervang.

As gevolg van die hoë heersende mieliepryse word mielies eerder uitgevoer en ‘n premie voor verdien, terwyl broodkoring as substituut in veerantsoene ingemeng word. Die huidige prysverhouding van koring tot mielies maak dit vir die eerste keer in 29 jaar ekonomies lewensvatbaar.

Koring sal egter net ‘n paar maande lank as plaasvervanger gebruik kan word, aangesien die strooptyd van mielies oor ‘n paar maande in aanvang kom en daar oesdruk op die mielieprys kan begin plaasvind.

As daar genoeg koring in die veerantsoene gebruik word, kan dit moontlik tot ‘n tekort aan koring in die Wes-Kaap lei. Dié provinsie produseer jaarliks meer as 600 000 ton, waarvan nagenoeg 450 000 deur die provinsie self opgeneem word. Die vraag ontstaan ook tot watter mate ko ring in die dieet van pluimvee, varke en beeste vermeng kan word, aangesien daar beperkings is by die insluitings vlakke (Tabel 2). Koring met ‘n skepelmassa van meer as 70 kg/hl het naas mielies die hoogste energiewaarde en bevat 50% meer proteïene as mielies.

Die vetinhoud van mielies is egter ongeveer twee keer hoër as dié van koring. Die randwaarde van voergraadkoring word onge kwalifiseerd as 90% van die waarde van mielies (weens die laer energiewaarde) bereken (Brand, T. SA Graan/Grain, Januarie 2009).

image

Gevolgtrekking

Die huidige plaaslike prys van koring kan daartoe lei dat koringproduksie onder besproeiing in Suid-Afrika kan uitbrei. Indien produsente in die Vrystaat van voorneme is om meer as die gemiddeld van 230 000 ha aan te plant, kan dit tot nog verdere uitbreiding lei.

Droëlandkoringprodusente blyk egter van voorneme te wees om produksie grootliks af te skaal. Aanplantings in die Wes-Kaap behoort na verwagtinge weer 250 000 ha te ewenaar. Weens die feit dat Suid-Afrika ‘n netto invoerland van koring is, is dit belangrik om plaaslike prysvlakke en winsgewendheid teen die impak van negatiewe internasionale markfaktore te verskans.

Publication: February 2012

Section: Markoorsig

Search