• Login
  • Search Icon

Landbouminister open Graan SA se derde kantoor in Oos-Kaap

October 2014

JOHAN SMIT, SA Graan/Grain redaksie

Die voetspoor van Graan SA se vestiging van nuwe produsente is verder uitgebrei toe 'n derde landbou-ontwikkelingskantoor in die Oos-Kaap op 15 Augustus vanjaar op Maclear geopen is. Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, mnr Senzeni Zokwana, het die opening waargeneem.

image

“Die Nasionale Ontwikkelingsplan stel dit duidelik dat landbou die dubbele rol moet speel om voedsel en werk te verskaf. Die Oos-Kaap is die gebied in ons land waar voedselproduksie, veral mielie-, sojabone- en sorghumproduksie, uitgebrei kan word. Die biobrandstofaanleg wat by Cradock opgerig gaan word, sal met graansorghum bedryf word wat waarskynlik geproduseer sal word deur die produsente wat vanuit hierdie kantoor bedien word,” het Zokwana gesê.

“Ek raak baie opgewonde om swart produsente te hoor en sien wat opbrengste lewer wat kommersieel mededingend is en wat met enige van hulle wit kommersiële bure vergelyk kan word. Hierdie program van Graan SA en hulle vennote wys ons hoe om produsente te ontwikkel wat volhoubaar is en voedselsekerheid vir ons kinders kan verseker. Ons moet dit versnel en ander kommoditeite op dieselfde vlak aan boord kry.”

Zokwana het ook verwys na die uitbreiding van die mynbousektor in Mpumalanga, wat 'n negatiewe uitwerking op graanproduksie het, en die visie van Graan SA geloof om die produksie wat daar verlore gaan, na die Oos-Kaap te laat migreer. Hy het bygevoeg dat die regering hierdie gebied sal moet prioritiseer, veral ten opsigte van graanopberging en vervoernetwerke vir die streek.

“Ten einde voedselsekerheid in die land te bewerkstellig, moet ons die Oos-Kaap aan die produseer kry. Boerdery het ’n toekoms. Mynbou het ’n begin en ’n einde. Mynbou voed slegs ’n paar aandeelhouers, terwyl landbou nasies voed,” het Zokwana aan 150 nuwe-era kommersiële produsente en belanghebbers gesê.

“Ons is bewus van die infrastruktuurbehoeftes van landbou in hierdie provinsie en die beleggings wat ons beplan, sal ook daartoe bydra om werk in die deel van die land te skep.”

Wat grondhervorming betref, het Zokwana gesê die ANC-regering word deur die wet gerig en sal nie plase afneem sonder vergoeding nie. Produsente moet hulle ook nie laat afskrik deur bangmaakstories hieroor nie. “Ons het die hulp van produsente nodig om hul bure te help om beter te boer,“ het hy gesê.

image

Volgens mnr Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, is elke mieliepit wat in Suid-Afrika geplant word, 'n belegging teen armoede. Die vestiging van tien landbou-ontwikkelingskantore wat ’n totaal van 4 115 swart produsente in die graanproduserende provinsies ondersteun, onderstreep Graan SA se strategie om tot suksesvolle grondhervorming in Suid-Afrika by te dra, terwyl dit huishoudelike sowel as nasionale voedselsekerheid vir die nasie verseker. De Villiers het ook erkenning gegee aan die befondsing van Graan SA se landbou-ontwikkelingsprogram in die Oos-Kaap deur die Mielietrust en die subsidiëring van produsente se produksiekoste deur die Grain Farmers Development Association (GFADA).

“Swart produsente sukkel om finansiering te bekom omdat hulle nie beskik oor die titelaktes van die grond wat hulle bewerk nie. Ek wil ’n pleidooi rig tot finansiële instellings om alternatiewe maniere te vind om nuwe toetreders tot graanproduksie te akkommodeer,” het De Villiers bygevoeg.

So het hulle gesê...

image image image
Louw Steytler, voorsitter van Graan SA Victor Mongoato, vise-voorsitter van Graan SA en seremoniemeester Jane McPherson, programbestuurder: Graan SA Ontwikkelingsprogram vir Produsente

“Dit is ondenkbaar om te verwag dat nuwe toetreders tot graanboerdery sonder ondersteuning suksesvol moet meeding in die mees kompeterende landboukommoditeitsmark in die wêreld.

“Ek kan u verseker dat Graan SA sal doen wat hy moet doen om te verseker dat nuwe-era graanprodusente in die landelike gebiede die geleentheid gebied word om hulself te kan handhaaf met die waardigheid wat hul verdien.“

“Hierdie geleentheid is ‘n mylpaal in die uitwissing van armoede in die distrik en die provinsie. Oor twee jaar sal die Oos-Kaap nie meer mielies van die Vrystaat invoer nie, maar dit self produseer.

“In die streek is die reënval en grond tot ons beskikking om ons regmatige plek in te neem wat mielieproduksie betref. Dit is ook ‘n ideale tyd om onsself te posisioneer om vir die streek, provinsie en die land te produseer.“

“Dié streek is soos die tuin van Eden: julle beskik oor goeie grond en reënval.

“Doeltreffende boerderypraktyke op elke hektaar grond sorg dat almal voedsel het. 'n Mens moenie dink as jy net ‘n klein stukkie grond het, kan dit nie effektief benut word nie. Landbou se suksesvolheid behoort gemeet te word aan volhoubare produksie op elke hektaar grond.

“Sake wat ontwikkelende produsente kniehalter om hul doelwitte te bereik, is produksielenings, trekkers en werktuie, grondsake, gehalte van grond, ondersteuning en advies asook gebrekkige voorligtingsdienste.”

Publication: October 2014

Section: Grain SA

Search