• Login
  • Search Icon

Knap plaaslike mielievoorrade behoort pryse te ondersteun

August 2013

— 24 Julie 2013

PETRU FOURIE, EKONOOM, BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA EN WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM, BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Amerikaanse graanpryse word in Suid-Afrika deur ‘n vryemarkstelsel bepaal. Die vraag en aanbod-situasie speel dus ‘n belangrike rol wanneer daar vir kommoditeite se pryse beding word. Produsente is tradisioneel prysnemers en daarom kan ‘n plaaslike oor- of onderproduksie die plaaslike prys dramaties beïnvloed.

Mielievoorraadsituasie

Die huidige vraag en aanbod-projeksie van Graan SA dui daarop dat Suid-Afrika op ‘n knap mielievoorraadsituasie teen die tweede helfte van die bemarkingseisoen tot einde April 2014 kan afstuur. Veral indien hoër geelmielie-uitvoere as verwag realiseer en die vroeë lewerings van mielies gedurende Maart en April ondergemiddeld sou wees. Indien laasgenoemde sou realiseer, kan dit ‘n gunstige uitwerking op die Safex mielieprys tot gevolg hê.

In Grafiek 1 word die totale mielie oordragvoorraad as ‘n persentasie van die binnelandse kommersiële vraag aangetoon.

image

Dit is sigbaar dat vir die 2011/2012-bemarkingseisoen, oordragvoorrade ‘n historiese laagtepunt van 8,21% teenoor verbruik bereik het. Verwagtinge is dat Suid-Afrika se totale mielie-eindvoorrade as persentasie van totale vraag, die huidige seisoen die tweede laagste (9,92%) in jare kan wees.

Hierdie verwagte lae voorraadvlakke is positiewe nuus vir mielieprodusente aangesien mieliepryse ondersteun behoort te word alhoewel dit vir die veebedryf en meer spesifiek die intensiewe veebedryf, negatief kan wees.

Bydraes tot hierdie verwagte lae voorraadvlakke is die droogtetoestande wat in die westelike dele van die Vrystaat en die Noordwes Provinsie voorgekom het sowel as die goeie geelmielie-uitvoere wat kan realiseer asook Zimbabwe se invoerbehoefte.

Uitvoere

Volgens SAGIS se statistiek is 723 242 ton heelmielies in die eerste twaalf weke van die heersende bemarkingsjaar, sedert 1 Mei, uitgevoer. Dit sluit 165 835 ton witmielies en 557 407 ton geelmielies in en verteenwoordig ‘n weeklikse uitvoertempo van meer as dubbel (wit- en geelmielies) so vinnig as verlede jaar oor dieselfde tydperk.

Geelmielies

Die grootste persentasie geelmielies is na Japan (402 321 ton) en Taiwan (125 726 ton) uitgevoer, wat albei twee relatiewe nuwe uitvoermarkte vir Suid-Afrika is (Grafiek 2). Indien die huidige geelmielie-uitvoertempo volgehou word, is dit moontlik dat die oorblywende geelmielievoorraad wat tans vir uitvoere beskikbaar is, so gou as binne die volgende maand kan klaar wees.

image

Verdere uitvoere kan dan die binnelandse geelmielieprys ondersteun en ‘n groter opname van witmielies in die plaaslike veevoermark noodsaak. Suid-Afrika kan dus vir die grootste deel van die bemarkingsjaar, van September 2013 tot Februarie 2014, tot voor vroeë lewering ontvang word, in ‘n geelmielie-tekortsituasie wees.

Gedurende 2008 het baie witmielies na die geelmieliemark oorgeskuif weens die skaarsheid van geelmielies, hierdie gebeurtenis staar die plaaslike mieliemark dus weer in die gesig. Die kumulatiewe uitvoere van geelmielies in die eerste twaalf weke van die huidige bemarkingsjaar oorskry reeds die hoeveelheid geelmielies wat oor 52 weke gedurende die vorige bemarkingsjaar uitgevoer was (Grafiek 3).

image

Witmielies

Anders as met geelmielies, loop witmielie-uitvoere relatief stadig en is daar nog geen vuurwerke nie. Waar Suid-Afrikaanse witmielies die vorige paar jaar na Mexiko toe gestroom het en dié land ons grootste koper van witmielies was, is daar tot op datum nog slegs 72 841 ton witmielies na Mexiko toe uitgevoer. Texas het reeds mielies begin stroop wat vir Mexiko beskikbaar is.

Volgens die huidige uitvoertempo sal die verwagte uitvoersyfer van sowat 900 000 ton nie teen einde April 2014 gehaal word tensy witmielie-uitvoere begin versnel nie. Die opname van witmielies in die veevoermark kan die beskikbaarheid van witmielies vir uitvoere egter aansienlik verminder.

Vordering met die leweringstempo van mielies

Die droogtetoestande het ‘n groot rol daarin gespeel dat die stroopproses hierdie seisoen vroeg momentum gekry het en dat lewerings tans hoër as die langtermyngemiddeld is.

Die totale mielielewerings staan op 9,306 miljoen ton vir die eerste twaalf weke van die 2013/2014-bemarkingsjaar. Tesame met vroeë lewerings, is 81,8% van die geskatte 11,375 miljoen ton se mielie-oes tot dusver gelewer en is die huidige jaar se totale lewerings ver voor in vergelyking met die vorige drie bemarkingsjare waar onderskeidelik 70,1%, 58,1% en 74,1% van die mielie-oes alreeds gelewer was.

Tabel 1 toon die totale mielielewerings vanaf week een tot twaalf.

image

As daar afsonderlik na geelmielielewerings gekyk word, het SAGIS aangetoon dat daar tot dusver in die huidige bemarkingsjaar 4,952 miljoen ton (90,3%) van die geskatte 5,486 miljoen ton se geelmielie-oes reeds gelewer is. In die vorige drie bemarkingsjare was daar in dieselfde tydperk onderskeidelik 71,7%, 63,5% en 76,4% van die geelmielie-oes gelewer. Dit is dus duidelik dat produsente hierdie seisoen vroeg begin stroop het.

In die geval van witmielies; tesame met die vroeë lewerings, is daar tot dusver 4,353 miljoen ton (73,9%) van die geskatte 5,889 miljoen ton witmielie-oes gelewer. Grafiek 4 vergelyk die weeklikse totale mielielewerings tussen die 2012/2013 en 2013/2014 bemarkingsjaar.

image

Impak van die Amerikaanse mielie-oes

Let egter daarop dat die Amerikaanse mielie-oes gedurende September maand mark toe gaan kom en dat produsente in Texas reeds begin stroop het. Daar word in dié stadium ‘n rekordoes in die vooruitsig gestel as die weer saamspeel, veral nadat die jongste opname getoon het dat die grootste aantal hektaar mielies sedert 1936 in die VSA aangeplant is. Dit behoort ‘n neerdrukkende effek op plaaslike mieliepryse te hê.

Die uiteindelike plaaslike effek

Tydens die skryf van die artikel was die vooruitsigte vir Amerika dat normale weer tydens die kritieke bestuiwingstyd kan voorkom en dat ‘n goeie oes op die land staan; die algemene siening van handelaars is dus dat internasionale pryse onder druk kan verkeer.

As daar egter na die plaaslike situasie gekyk word, wil dit voorkom, volgens amptelike syfers, dat Suid-Afrika weer in ‘n knap mielievoorraadsituasie vanaf September 2013 kan wees en dít hoofsaaklik as gevolg van goeie geelmielie-uitvoere. Die tempo van witmielie-uitvoere en omvang van vroeë mielielewerings kan egter ‘n bepalende rol speel wat plaaslike mieliepryse kan ondersteun.

Publication: August 2013

Section: Markoorsig

Search