• Login
  • Search Icon

Ken jou onkruiddoder: Deel 2

November 2012

Deel 2: Olieboom (Thorn apple)
 

image

Beheer van onkruide in mielies en koring
 

ELBÉ HUGO, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE EN HESTIA NIENABER, LNR-KLEINGRAAN INSTITUUT

Wetenskaplike naam: Datura stramonium
Afrikaanse naam:Olieboom, stinkblaar, stinkolie
Engelse naam: Thorn apple

image image

Kort beskrywing

Olieboom is ‘n regop, vertakte, halfkruidagtige, eenjarige plant wat tot 1,5 m hoog kan raak. Die onkruid het lang, stewige penwortels en die stingels is rond tot hoekig en fyngeriffeld, groen of perserig.

Die blare het ‘n haarlose blaarsteel en dit stink as dit gekneus word. Die plant het ‘n pers stingel onder die saadlobbe en die blomme se kroonblare is wit, ligpers of pers. Die vrugte is houtagtige, eiervormige doosvrugte, wat tot 4 cm in deursnit kan wees en is oortrek met talryke klein dorinkies wat tot 1 cm lank kan word.

Die vrug breek op in vier hokke met talryke sade. Die sade is relatief groot, ongeveer 3 mm lank, afgeplat en niervormig. Hierdie onkruid is ‘n strawwe mededinger met enige gewas waarin dit voorkom. Die saad is giftig en graan wat daarmee gekontamineer is, word by die graansuiers afgekeur en moet eers gesuiwer word. Alhoewel die hele plant giftig is, is die sade die giftigste.

Datura ferox, oftewel die groot stinkblaar (Engels: large thorn apple) is nog ‘n bekende spesie en kan van die gewone olieboom onderskei word deur die langer “dorings” op doosvrugte.

Verspreiding

Olieboom kom wydverspreid voor in Suid-Afrika en is ‘n eenjarige onkruid in verskeie gewasse.

Beheer

Chemies
Olieboom word nie voldoende beheer deur slegs voor-opkoms onkruiddoders te spuit nie. Die mees effektiewe beheer word verkry met na-opkoms onkruiddoders. Vir effektiewe beheer moet na-opkoms onkruiddoders met ‘n bymiddel, wat die penetrasie van die onkruiddoder bevorder, gemeng word. Verskeie onkruiddoders is geregistreer vir die beheer van olieboom in mielies en koring (Tabel 1 en Tabel 2).

Volg die spesifieke aanduidings en dosisaanwysings slaafs na op elke produk se etiket. Datura-spesies kan ‘n geharde onkruid wees en moet so vroeg as moontlik na-opkoms beheer word, maar daar moet ook kans gegee word dat laat-ontkiemende oliebome beheer kan word met een goed beplande bespuiting, anders is opvolgbespuitings nodig.

Die optimale tyd is tussen die twee- tot sesblaar-stadium van die onkruid. Hoe groter die plante word, hoe minder effektief sal die naopkoms onkruiddoders wees.

Aangesien weerstand teen onkruiddoders nog nie in hierdie onkruid gerapporteer is nie, word breëblaar-onkruiddoders steeds met sukses gebruik. Neem egter altyd weerstandbiedendheid in ag en moenie onkruiddoders gebruik waarteen weerstand reeds voorkom nie. Kontak altyd ‘n betroubare chemiese adviseur voor die gebruik van enige chemikalieë om die korrekte dosis en spesifikasies op die etiket na te kom. Alle onkruiddoders wat geregistreer is vir die beheer van onkruide, is saamgevat in die publikasie, A guide to the chemical control of weeds in South Africa. A CropLife South Africa Compendium.

image

image

image

Publication: November 2012

Section: Input Overview

Search