• Login
  • Search Icon

HOE NOU GEMAAK? Kan minder stikstof na afloop van ‘n droë jaar en lae mielieopbrengs in die volgende jaar toegedien word?

July 2016

ERIK ADRIAANSE, bestuurder: Produkontwikkeling en Tegniese ondersteuning, Sasol

Die 2015/2016-seisoen het gepaardgegaan met ongekende droogte en meestal tot laer mielieopbrengs. In baie gevalle is normale hoeveelhede stikstof (N) vir ‘n normale gemiddelde reënjaar en verwagte N-opname uit die grond bemes. ‘n Hoër mielieprys het in ‘n mate gekompenseer vir laer opbrengs, maar wins bo insetkoste was meestal laer of daar was ‘n verlies bo insetkoste.

Die volgende vrae het hieruit voortgespruit:

  • Sal daar meer N in die grond oor wees na ‘n droë seisoen?
  • Kan residuele anorganiese N in die grond effektief deel uitmaak van die N-begroting vir die volgende seisoen?
  • Hoe kan N-voorsiening gedurende die volgende seisoene geoptimaliseer word?
  • Hoe kan die risiko van betekenisvolle opbrengsverlies en winsver lies weens ‘n droë periode kort na-plant geminimaliseer word?

Verband tussen opbrengs en residuele N

‘n Omgekeerde verband tussen opbrengs en residuele anorganiese N is oor ‘n drie jaar-tydperk op Viljoenskroon by toedienings van 90 kg N/ha vasgestel (Grafiek 1). Aangesien opbrengs die afgelope seisoen meestal laer as die vorige seisoene se gemiddeld was, kan verwag word dat daar meer N in die grond oor sal wees as in vorige jare, indien N-peile vir dieselfde aantal seisoene dieselfde was.

Hierdie verwagting behoort produsente te noop om residuele anor ganiese N voor die aanvang van die volgende seisoen te bepaal. Hoewel verwag, is dit egter nie ‘n gegewe dat produsente N-bemesting sal kan afskaal nie.

Hoeveel N is toegedien en hoeveel N is verwyder?

Die verwydering van 1 ton graan alleen sal tussen 14 kg en 16 kg N verwyder (IFA, 1992). Indien die droë materiaal wat nodig was vir die produksie van hierdie ton graan vernietig of verwyder is, sal 20 kg tot 26 kg N/ton graan verwyder wees (IFA, 1992). Slegs indien daar meer N toegedien is as wat verwyder is (Grafiek 2), kan verwag word dat daar meer N in die grond oor sal wees.

Volgens Grafiek 1 is daar by 4,3 t/ha teen 90 kg N/ha nagenoeg totale verwydering toegedien, maar by 5,7 t/ha is veel minder N toegedien as die totale verwydering. Hiervolgens is die residuele anorganiese N-hoeveelhede in die grond by die hoë opbrengs verlaag eerder as wat dit by die lae opbrengs verhoog is.

HOE NOU GEMAAK? Kan minder stikstof na afloop van ‘n droë jaar en lae mielieopbrengs in die volgende jaar toegedien word?

N-verliese

Die afgelope seisoen, wat gekenmerk is deur lae reënval, het ook gepaardgegaan met hoë temperature. Onder sulke omstandighede is ammoniakvervlugtiging eerder aan die orde van die dag as verliese deur loging.

Ammoniakverliese vanaf oppervlak-toegediende ureum was so hoog soos 45% by hoë temperature teenoor 12% vir UAN en 2% vir KAN in Argentinië (Fantanetto, 1995 en Adriaanse, 2013). Wanneer hierdie N-bronne in die grond ingewerk word, sal ver vlug tiging verminder word, maar betekenisvolle verliese kan steeds by diepteplasings van 100 mm tot 150 mm en hoë temperature verwag word wanneer die boonste deel van die bogrond uitgedroog is.

Die byvoeging van urease-inhibeerders tot ureum sou waarskynlik ammoniakvervlugtiging uit ureum betekenisvol verminder het, maar nie tot die mate dat dit buite rekening gelaat kan word nie (Adriaanse, 2015a) of dat dit by hoë temperature so min soos die vervlugtiging van KAN sal wees nie. Groot ammoniakverliese vanaf toegediende N beteken dus ook dat daar nie noodwendig meer ongebruikte N in die grond oor is nie.

Van die stikstof wat nou in die grond oor is, kan natuurlik in goedgedreineerde gronde voor die aanvang van die volgende seisoen, met voldoende reën, uit die wortelsone loog (Adriaanse, 2012b). Voordat dit kan gebeur, moet voldoende reën val om baie droë profiele eers met water te versadig.

Verder is die kans vir logingsverliese veel minder in watertafel - gronde of gronde met keerlae. Die tempo van loging sal ook stadiger wees in gronde met relatiewe hoër klei-inhoude, weens stadiger beweging van water. As daar dus nou genoeg N in die grond oor is, sal dit veral vir goed-gedreineerde gronde voor-planttyd of naplanttyd bevestig moet word of dit nog so is.

N-toksisiteit

Die bandplasing van N-kunsmis, hetsy in plantmengsels of as kantbemesting, sal aanleiding gee tot veel hoër konsentrasies wan neer dit baie droog is. Daarteenoor sal voldoende reën byvoor beeld gekonsentreerde ureum verdun en in die grondprofiel verplaas.

Gekonsentreerde ureum sal aanleiding gee tot die vorming van ammoniak wat toksies is vir gewasse indien dit naby die wortels vrygestel word (Adriaanse, 2012a). Die opbrengs wat só vir metplanttoedienings in ‘n spesifieke droë jaar oor verskillende N-peile met KAN verkry is, was 3,2 t/ha of 177% meer as wat met ureum verkry is (Adriaanse, 2016).

Die opbrengs wat oor tye van toediening in ‘n spesifieke droë jaar met KAN by 155 kg N/ha verkry is, was 3 t/ha of 88% hoër as wat met ureum by dieselfde N-peil verkry is (Adriaanse, 2016). Indien N-toksisiteit dus aanleiding gegee het tot opbrengsverlies, kan verwag word dat daar meer N in die grond oor is, mits dit nie vervlugtig het nie en ook nie geloog het nie.

Anorganiese N-ontledings voor-plant

Die anorganiese N in die grond kan tot ‘n groot mate deur oordrag van onbenutte toegediende N veral van ‘n vorige droë seisoen – soos aangedui – verhoog wees. Die begroting vir N-behoefte word bepaal deur die verskil te bereken tussen verwagte N-opname en werklikgemete anorganiese N in die grond:

  • N-begroting (kg/ha) = (opbrengsmikpunt [ton/ha] x 26) = kg N/ha benodig vir opname
  • minus residuele nitrate-N + ammonium-N (0 - 600 mm) in die grond = kg/ha
  • minus organiese materiaal (%, 0 - 300 mm) x 45 = kg N/ha
  • minus N in besproeiingswater wat toegedien gaan word = kg N/ha

Anorganiese N-ontledings na-plant

Gemete anorganiese N-hoeveelhede in die grond behoort voortdurend bokant die drempelwaarde van 140 kg N/ha vir droëland en bokant 170 kg N/ha onder besproeiing gedurende die seisoen bestuur te word (Adriaanse, 2015b). Die toediening van 2 kg N/ha sal byvoorbeeld die grondontleding na verwagting net met 1 kg N/ha op ‘n sanderige grond (<15% klei) verhoog. Hierdie syfer is 1,5 kg N/ha by ‘n medium-tekstuur (15% - 20% klei) en 1 kg N/ha by ‘n kleierige grond (>20% klei) en staan bekend as die N-behoeftefaktor (NBF).

N-aanbeveling (kg/ha) = (drempelwaarde – N in grond) x NBF

Slegs indien anorganiese N op hierdie manier bestuur word, kan ver antwoordbaar aanbeveel word om N-bemesting vir die komende seisoen afwaarts of opwaarts aan te pas.

Gevolgtrekkings

  • Daar behoort meer N in die grond oor te wees indien N-toediening meer was as N-verwydering, mits N-vervlugtiging nie betekenisvol was nie.
  • Residuele anorganiese N kan effektief in die komende seisoen se N-begroting gebruik word, maar potensiële logingsverliese in sekere goed-gedreineerde gronde voor die aanvang van die volgende seisoen behoort in aanmerking geneem te word.
  • Anorganiese N-drempelwaardes in die grond moet gedurende die groeiperiode gehandhaaf word om waterbenutting en rendement op N-koste te optimaliseer.
  • Die risiko van betekenisvolle opbrengsverlies en winsverlies weens N-toksisiteit en N-vervlugtiging tydens ‘n droogteperiode kort na- plant kan effektief uitgestel en verminder word deur:
    • N-toedienings, drie tot vier weke na-plant eerder as voor- of met-plant.
    • Die gebruik van KAN eerder as ureum in plantmengsels en as die hoof N-bron.

Vir meer inligting of ‘n Engelse weergawe, kontak Sasol Base Chemicals by 011 790 1111 of fertiliser@sasol.com.

Let wel: Raadpleeg ‘n gekwalifiseerde landboukundige vir meer lokaliteit-spesifieke toepassings. Die resultate waarna in hierdie artikel verwys word, is onder spesifieke omstandighede verkry en kan daarom nie noodwendig veralgemeen word om onder alle omstandighede van toepassing te wees nie.

Verwysings

Adriaanse, FG. 2012a. Die verskil in toksisiteit tussen KAN en ureum. SA Graan/Grain: 7/12.
Adriaanse, FG. 2012b. Logingsverskille by stikstofbronne. SA Graan/Grain: 11/12.
Adriaanse, FG. 2013. Verskille in vervlugtiging tussen stikstofbronne. SA Graan/Grain: 07/13
Adriaanse, FG. 2015a. Ammoniumnitraat het ‘n opbrengs-, sowel as winsvoordeel bo ureum plus urease-inhibeerder of ureum alleen. SA Graan/Grain: 05/15.
Adriaanse, FG. 2015b. Die verband tussen anorganiese stikstof in die grond en relatiewe opbrengs vir mielies. SA Graan/Grain: 07/15.
Adriaanse, FG, & Human, JJ. 1993. Effect of time of application and nitrate: Ammonium ratios on maize grain yield, grain N concentration and soil mineral N concentration in a semi-arid region. Field Crops Research, 34: 57 - 70.
Adriaanse, FG. 2016. Effektiwiteit van KAN teenoor ureum, by verskillende tye van toediening, onder droë omstandighede vir mielies. SA Graan/Grain: 7/16.
Fantanetto, H. 1995. Ciencia del Suelo, INTA: Argentina. IFA, (1992). World fertiliser use manual: Paris, France.

Publication: July 2016

Section: Focus on

Search