• Login
  • Search Icon

Jy as produsent bepaal die effektiwiteit van chemiese onkruid- en plaagdoders

September 2014

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Vuil lande is sekerlik vir elke graanprodusent ‘n nagmerrie. Soms is dit omdat die onkruiddoders nie gewerk het nie en soms het die onkruiddoders nie gewerk nie omdat die produsent toedieningsfoute gemaak het. Dit kan ook die verskaffer, die operateur of die produsent se skuld wees, maar dit maak nie werklik saak nie – die oes is benadeel.

image

Diens van die spuit

Hierdie tyd van die jaar is dit belangrik om jou spuittoerusting goed deur te gaan en te diens. By soveel produsente word dit nie gedoen nie en as die toerusting moet begin werk, is daar probleme. Ongelukkig word die effek van die probleme te laat gesien en dan is die koeël reeds deur die kerk met vuil lande.

Dit is belangrik dat die spuittoerusting binne sowel as buite, mooi skoon moet wees. Die spuitpunte, pype asook alle filters moet sorgvuldig skoongemaak word. Baie van die chemiese middels laat 'n aanpaksel in die pype agter en sodra die spuit weer begin werk, kom dit los en blok alle filters en spuitpunte. Daar is verskeie middels beskikbaar om die spuittenk asook die spuitpype mee skoon te maak. Praat gerus met jou chemiese adviseur om die beste middel te kry.

Veral met die groot selfloopspuite is dit belangrik om een maal per jaar ‘n goeie vloeiratio toets te doen om te verseker dat spesifieke spuitpunte se lewering (liter/ha) en druk waarteen gespuit word, korrek is. Sodra die spuit begin werk en die spoed varieer, moet die druk ook kan varieer om die lewering per hektaar konstant te hou. Maak dus seker dat hierdie toerusting van jou so effektief en doeltreffend as moontlik werk.

Die spuitpunte is nog ‘n aspek wat aandag moet kry. Spuitpunte het slytasie en moet ook vervang word. Gaan veral hul lewerings asook spuitpatrone na. As die spuit oor meer as een seksie beskik wat afsonderlik beheer en deur verskillende pype voorsien word, moet daar in elke seksie spuitpunte nagegaan word.

Maak ook seker dat die spuitpatroon van die spuitpunte nog volgens spesifikasie is – indien nie, vervang hulle.

Sommige spuitpunte, soos air injection nozzles, het die vermoë om groter luggevulde druppels te vorm wat minder spuitdrif veroorsaak en teen ‘n hoër druk kan spuit. Maak seker dat die spuitpunte wat jy gebruik, reg is vir die taak wat jy wil verrig.

Die spuitpomp is die kern van die spuit. Kontroleer die lewering van die spuitpomp. Kontroleer die olievlak asook die oliekleur. Sonder die regte druk, sal die spuitmiddels nie die teikenarea kan bereik nie of ‘n té hoë spuitdruk sal te veel spuitdrif veroorsaak wat in baie gevalle sal wegwaai.

Maak ook seker dat die spuitpunt die nodige hoeveelheid spuitstof teen ‘n sekere druk kan lewer. Bevestig dus dat die regte tipe en kleur spuitpunt gebruik word. Dit sal die druppelgrootte bepaal en die drif beïnvloed.

Operateursopleiding is eweneens belangrik. Maak seker dat die operateur nog weet hoe om die spuit te stel en wat gekontroleer moet word. Bevestig voorts dat die spuitoperateur nog onthou hoe om die chemiese middels reg te meng en in watter volgorde die middels ingegooi moet word.

Kontroleer ook sy hulpmiddels, soos GPS-werking, autosteer, windspoedmeters, data opnemers en landkaarte.

Die beheer van spuitstofdrif

Spuitstofdrif word deur baie aspekte beïnvloed, naamlik:

  • Druppelgrootte
  • Spuithoogte
  • Spuitspoed
  • Windspoed
  • Lugtemperatuur en humiditeit
  • Spuitvolumes

As daar gespuit word, is druppelgrootte die faktor wat spuitstofdrif die meeste beïnvloed. As daar lae spuitvolumes teen ‘n té hoë druk gespuit word, lei dit tot klein druppels wat maklik wegwaai en drif veroorsaak.

Maak dus seker dat die regte spuitpunte en die korrekte druk gebruik word. Verseker dat die spuitpunte die gewenste druppelgrootte vorm wat die minste drif sal veroorsaak en die meeste plantbedekking sal verseker.

Teen ‘n windspoed van 5 m/sek mag daar nie meer gespuit word nie. As teen ‘n laer windspoed van ongeveer 3 m/sek gespuit word, sal dit nodig wees om die druppelgrootte aan te pas. Teen ‘n windspoed van 3 m/sek sal die druppelgrootte vergroot moet word deur dalk die spuitdruk te verlaag.

Oor die algemeen veroorsaak luginduksie-spuitpunte minder drif en dit kan tot langer spuit ure bydra. Pasop net om te dink dat wind nie hierdie spuitpunte ook beïnvloed nie.

Spuithoogte bepaal ook die spuitdrifhoeveelheid. Hoe hoër die spuit hoogte vanaf die grond, hoe hoër die spuitdrif. Pas dus die spuitpunte aan as hoog gespuit moet word. Windspoed en temperatuur asook humiditeit, sal eweneens die hoeveelheid spuitdrif beïnvloed.

Pasop vir spuit op die hitte van die dag. Dit het ‘n effek op die spuitdrif en op die werking van die chemiese middels. Probeer eerder teen laer temperature en tydens windstil tye te spuit en bly binne die spesifikasies van die spuitpuntvervaardiger.

Die spuitvolume kan ook tot spuitdrif aanleiding gee. Té lae spuitvolumes kan veroorsaak dat die druk te hoog raak en die druppels te klein raak, wat tot meer spuitdrif sal aanleiding gee. Probeer om 'n balans tussen spuitvolume en spuitdrif te vind. Neem die chemiese middels wat gespuit moet word se waterbehoeftes ook in ag wanneer die besluit geneem word.

image

image

Ander praktiese foute wat baie voorkom

Een hiervan is wanneer daar te min spuitkapasiteit is om die werk tydig en doel treffend gedoen te kry. ‘n Paar ongunstige spuitdae kan alles omkeer en dan is surplus spuitkapasiteit belangrik. Hou 'n surplus spuit, al is dit ‘n laer spesifikasie spuit, gereed om te kan uithelp in sulke tye. Kwaliteit-watervoorsiening vir ‘n spuit is baie moeilik en duur en gewoonlik word groot volumes vereis. ‘n Moontlike manier om hiervan weg te kom, is om die spuitvolumes af te bring. Pasop vir hierdie stap, omdat die meeste spuitmiddels by baie hoë watervolumes getoets en aanbeveel word. Praat met jou verteenwoordiger en maak seker wat die minste watervolume per hektaar kan wees. Spuite moet ook gereeld gekalibreer word.

Maak seker dat die kalibrasie reg is en dat die operateur weet teen watter spoed en enjinomwentelinge gery moet word. Baie operateurs bly nie binne hierdie norme nie en dan werk die middels nie soos dit moet nie. Die water wat gebruik word, verskil ook baie. Soms is die water mooi skoon en ander kere is daar soveel besoedeling in die water dat die chemiese middels nie kan werk nie. Maak seker dat skoon water ten alle tye gebruik word en dat die nodige middels ingegooi word om die pH en ander kwaliteite van die water reg te stel.

Hierdie onsuiwer water veroorsaak ook dat die filter en spuitpunte op die spuite gereeld (ten minste daagliks) skoongemaak moet word.

Om tydig te spuit, is noodsaaklik. Maak seker dat onkruid so klein as moontlik gespuit word en dat die onkruid nie onder stremming is nie. Pasop veral vir winteronkruid. Dit lyk of die winteronkruidnie groei nie, maar intussen is hulle wortels besig om diep en sterk te ontwikkel.

As hierdie onkruid teenwoordig is, maak seker dat die dosis sterk genoeg is om die onkruid te dood en nie net te skroei nie. As die onkruid eers begin groei, is dit baie moeilik om dit dood te spuit. Onkruid wat onder stres is, kan die werking van die onkruiddoder beïnvloed. Bespreek hierdie saak met jou verteenwoordiger om seker te maak dat daar in sulke omstandighede gespuit kan word.

Die mengvolgorde van chemiese middels is baie belangrik. Maak seker dat die middels in die regte volgorde in die spuit gegooi word. Verseker ook dat die operateur weet hoe om die middel te meng, en kontroleer dat dit reg gedoen word. ‘n Mens hoor gereeld dat die spuitstof te min was. Die operateur moet die regte hoeveelheid middels oor die regte oppervlakte uitspuit.

Talle produsente is nie heeltemal bewus van hul onkruidspektrum op die plaas nie. In sommige gevalle word die dosis van die spuitstowwe dan verkeerd bereken en word daar tot ‘n sekere mate vir onkruiddoderweerstandigheid geteel. Deur gereeld die aktief van die onkruiddoder te wissel help ook om onkruiddoderweerstandigheid te keer.

Sommige produsente maak nog nie van satelliettegnologie gebruik om die rybane uit te wys nie. Daarom moet produsente seker maak dat as gewasrye gebruik word, die operateur in die regte ry beweeg. Dit sal die voorkoms van dubbeldosisse of banke waar nie gespuit is nie, voorkom. Party produsente is baie innoverend en meng hulle eie chemiese middels wat in meeste gevalle buite spesifikasie en aanwendingsriglyne is. Pasop: Hierdie praktyk kan dalk goedkoop koop wees...Wat baie duur koop raak. Maak seker om die chemiese middels binne spesifikasieriglyne te bly gebruik.

Hierdie is net ‘n paar gedagtes. Praat met jou, asook ander, chemiese verteenwoordigers om die beste oplossing vir jou plaas se probleme te kry. Pas hierdie aanbevelings nougeset toe en as omstandighede verander, raadpleeg weer jou chemiese verteenwoordiger om aanpassings te maak. Vir enige navrae kontak Pietman Botha by 082 759 2991.

Publication: September 2014

Section: Focus on

Search