• Login
  • Search Icon

Inset-oorsig

July 2015
image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA en PETRU FOURIE, ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Saadpryse styg vir die 2015/2016-produksieskeisoen ondanks moeilike omstandighede

Feitlik alle saadmaatskappye het saadprysstygings vir die nuwe seisoen aangekondig ondanks die moeilike produksiejaar waardeur produsente is en die finansiële posisie waarin baie verkeer.

Mieliesaadpryse het vir die 2015/2016-produksieseisoen met gemiddeld 5,6% gestyg. Op ‘n gemiddelde basis het sonneblomsaadpryse met 6,6% gestyg; graansorghumsaadpryse met 10,2% en sojaboonsaadpryse met 5,6%. ‘n Goeie barometer om prysstygings teen te meet, is die produsenteprysindeks (PPI). Vir 2015 tot dusver was die gemiddelde PPI-styging 3,1%. Bykans alle saadpryse het meer as dit gestyg.

Grafiek 1 toon ‘n indeks van mieliesaadpryse en die produsenteprys van mielies oor tyd aan. Uit die grafiek is dit duidelik dat die gaping in dié indekse bly toeneem en verduidelik die feit dat produsente so sensitief raak oor saadpryse.

image

Volgens Graan SA se Produksie/Inset Werkgroep het mieliesaadpryse van gewilde kultivars met 6,8% gestyg.

Kultivars verskil van mekaar in een of meer eienskappe en elkeen het dus ‘n unieke aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Volgens die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) stel hierdie kultivarverskeidenheid alternatiewe beskikbaar wat goed benut kan word en die volgende is belangrike riglyne vir kultivarbeplanning wat oorweeg moet word:

  • Moet nooit ‘n staatmaker-kultivar binne een seisoen met ‘n nuwe of onbekende een vervang nie. Kultivarverskeidenheid versprei risiko. Plant ‘n reeks kultivars wat verskil in groeiseisoenlengte en eienskappe.
  • Kultivars moet aanpas by ‘n spesifieke opbrengspotensiaal, maar moet in staat wees om aan te pas by hoër en laer potensiaaltoestande.
  • Hersien kultivars jaarliks.

Sien Tabel 1 tot Tabel 4 vir prysvergelykings tussen verskillende maatskappye. Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgroottes en saadbehandelings.

image

image

image

image

image

Riglyne met die aankoop van saad

Met die aankoop van saad, is daar ‘n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan:

  • Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, naamlik in 15 kg, 20 kg en 25 kg sakkies of in pitverpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sakkie. By sonneblomsaad is daar ook verpakkings van 150 000 en 180 000 pitte per sakkie beskikbaar.
  • Die nuwe kultivars is merendeels die duurder kultivars. Verseker dat die kultivars onafhanklik deur die LNR-IGG getoets is en dat die prestasie bewese is. Moenie onnodige groot risiko’s met ‘n nuwe kultivar loop nie.
  • Neem kennis van die agronomiese eienskappe, aanpasbaarheid, opbrengsprestasie en -stabiliteit, kwaliteitseienskappe en siekte- en plaagweerstand van ‘n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word. Raadpleeg die LNR-IGG se 2015 Mielie-inligtingsgids (MIG) of die betrokke kundiges.
  • Met aankope, maak seker dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes, ook aan dit wat op die sakkie staan, voldoen; veral ten opsigte van die eenvormigheid van pitgrootte en pitvorm.
  • Wanneer GM-kultivars (Bt- of RR- of dubbelgeen-kultivars) aangekoop word, maak seker dat die tegnologiefooi by die pryslys ingesluit is en dat konvensionele mielies vir die toevlugsarea bykomend aangekoop word. Maak ook seker dat almal wat die saad hanteer, GM-eienskappe op saadsakke kan uitken en dit ook van konvensionele kultivars kan onderskei.
  • Sekere saadlotte word met middels behandel wat ‘n verskil aan die prys maak.
  • Beding vir kortings waar moontlik.
  • Laastens, kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonderhede rakende pryse en verskillende verpakkings.

Behandeling van saad

Saadmaatskappye staan nie in vir die kwaliteit van saad indien saadbehandelings nie deur die saadmaatskappye self of deur ‘n geregistreerde chemiese verskaffer wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO-geakkrediteer is nie, gedoen word nie.

In die geval waar ‘n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die kieming beïnvloed nie. Die chemiese middel wat gebruik word, moet ook onder Wet 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Behandeling van Rhizobium is uitgesluit.

Dit word dus aanbeveel dat produsente wat nie saad aankoop wat reeds behandel is nie en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.

Riglyne vir die aanplant van Bt-mielies

Met die aankoop van Bt-saad, word ‘n tegnologie-ooreenkoms onderteken, waarin ‘n produsent onderneem dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ‘n toevlugsarea in.

Daar is twee opsies wat gevolg kan word: Óf ‘n 5%-aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie; óf ‘n 20%-aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas kan word.

Indien die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies aangeplant, uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies dus uit 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies bestaan.

Bykomend tot die vereiste persentasie nie-Bt-mielies, is daar ook spesifieke maatreëls wat geld by die aanplant van ‘n toevlugsarea. Toevlugsareas moet onder andere só geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ‘n toevlugsarea aangeplant word nie, ten minste twee buitegrense van die Bt-aanplanting gedek word, mag nie uit minder as ses rye bestaan nie en toevlugsplante mag nie tussen Bt-plante geposisioneer wees nie.

Mielies wat in die toevlugsarea geplant word, moet ook dieselfde groeitempo as die Bt-mielies hê en moet ook binne sewe dae van mekaar geplant word.

Publication: July 2015

Section: On farm level

Search